Siggestremde swem vir goud

(Foto: Verskaf)

Kom donker, kom koue, kom wêreldwye pandemie, die 23-jarige Cornelle Leach laat haar deur niks onderkry nie.

“Julle moet vir my duim vashou, ek wil ʼn medalje huis toe bring,” vertel die geesdriftige Leach, wat in Junie vanjaar Suid-Afrika vir die tweede keer by die Wêreldkampioenskap vir paraplegiese swemmers gaan verteenwoordig.

“Ek is ongelooflik opgewonde. Ek voel meer voorbereid dié jaar, ek weet wat om te verwag en waarna om uit te sien,” het sy in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Leach is in 2008 op negejarige ouderdom met Stargardt se makulêre degenerasie gediagnoseer, wat behels dat die selle van die oog nie hergenereer nie, en die lyer se sig dan stelselmatig verswak.

Dit het Leach egter glad nie afgeskrik om steeds mededingend aan sport deel te neem nie. Slegs ʼn jaar ná haar diagnose het haar liefde vir swem behoorlik posgevat, en het sy gou die een medalje ná die ander verower.

“Ek het baie vroeg in my lewe besef dat ek my grootste held maar ook my grootste vyand is, ek moes leer hoe om geduldig met myself te wees en net alles tot die beste van my vermoë te doen.”

Leach se loopbaan het in 2017 by die Senior Suid-Afrikaanse Nasionale Swemgala begin. Ná haar wedloop is sy deur die Nasionale Paralimpiese Komitee genader om professioneel mee te ding as ʼn siggestremde swemmer.

“Ek het in 2019 aan die Wêreldswemkampioenskap vir paraplegiese swemmers in Londen deelgeneem, sedertdien het ek vir die 2020- Paralimpiese Spele gekwalifiseer en ʼn kans gestaan, gegrond op my tye, om ʼn 3de plek in die 100 m-borsslag te verower. Ongelukkig kon ek nie gaan nie.”

Theo Verster, Leach se swemafrigter, vertel dat sy verpletter was toe sy nie verlede jaar aan die Wêreldkampioenskap vir paraplegiese swemmers in Tokio kon deelneem nie. “Leach was moedeloos en baie hartseer, so teleurgesteld dat sy ʼn maande lange blaaskans van die water geneem het om sodoende ook meer op haar studie te fokus.”

Sy het gekwalifiseer vir die Paralimpiese Spele, maar ongelukkig het haar kwalifikasie nie betyds deurgegaan sodat sy vir die 2021- Paralimpiese span gekies kon word nie.

“Ek het myself van my teleurstelling in 2021 verlos deur te kwalifiseer vir die Wêreldkampioenskapsreeks in 2022,” sê Leach. Sy gaan ook die eerste Suid-Afrikaanse siggestremde swemmer wees wat aan die Statebondspele deelneem.

“Dit verg baie selfmotivering om vroegoggend in die ysige koue op te staan, aan te trek en gimnasium toe te gaan, net om alles weer uit te trek sodat jy vir ure in koue water kan swem,” vertel Leach met ʼn lag, “veral as jy nie ʼn wintermens is nie, maar ek is nou waar ek wil wees. Ek voel gefokus.”

(Foto: Verskaf)

Leach vertel dat sy net ná die Nasionale Kampioenskapsreeks met Covid-19 gediagnoseer is. “Dit het my ondergekry. Ek het dit erg gehad. Ek was vir byna ʼn maand bedlêend en moes amper in die hospitaal opgeneem word. Ek kon vir ʼn maand niks oefen nie.

“Ek en my afrigter moes stadig aan my program bou om my weer in my normale roetine te kry, maar ek is weer terug in die water en swem nou weer gemiddeld vyf tot sewe kilometer per dag. Ek vermy vir eers die gimnasium om onnodige beserings voor die kampioenskapsreeks te voorkom.”

Die 2022-Wêreldkampioenskap vir paraplegiese swemmers

Die Wêreldkampioenskap vir paraplegiese swemmers skop op 12 Junie in Madeira, Portugal, af en word bestempel as die grootste Paralimpiese sportgeleentheid wat nog in Portugal plaasgevind het, met meer as 600 atlete van oor die 70 nasies wat gaan deelneem.

“Ons is ʼn klein span vanjaar,” sê Leach. Slegs vier paraplegiese swemmers gaan vanjaar Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskapsreeks verteenwoordig. Die span vertrek reeds Woensdag na Portugal en bestaan uit Leach, Alani Ferrerra, Kat Swanepoel en Christian Sadie.

“Dit is beslis moeiliker vir siggestremde mense om ʼn professionele atleet te wees,” meen Leach.

“Om te oefen en reis is ʼn struikelblok wat net met geduld oorkom kan word. Ons het nie dieptepersepsie nie en kan dus nie sien hoe ver ons al geswem het nie. Dit is baie meer strategies, ons moet ons hale in die swembad tel om ʼn beter idee te hê van hoe naby ons aan die einde is.”

Leach verteenwoordig Suid-Afrika in drie items by die Wêreldkampioenskap dié jaar, insluitend die 50 m-vryslag, 100 m-vryslag en 100 m-borsslag. Sy beklee tans die vierde rangposisie in die wêreld vir die 100 m-borsslag.

“My doelwit vir die Wêreldkampioenskapsreeks is om my persoonlike tye te verbeter en Afrikarekords te verbeter.”

Leach het in 2019 drie Afrikarekords opgestel in die 100 m-borsslag, 100 m-vryslag asook die 50 m-vryslag.

Statebondspele 2022

“Ek het dit nie verwag nie. Daar is nie ʼn kwalifiserende tyd wat jy kan swem om aan die Statebondspele deel te neem nie. Jy moet uitgenooi word en hulle nooi slegs die beste agt in die wêreld. Ek en my afrigter het gedink ek mis die teiken met 0.03 sekondes, so ons was baie teleurgesteld.”

Dit was egter net ʼn kort ruk ná die Nasionale Kampioenskapsreeks toe Leach die boodskap kry dat sy genooi is om dié merkwaardige sportbyeenkoms in Julie vanjaar by te woon.

“Ek het nog Covid gehad en kon nie oefen nie. Dit het nie goed gegaan met my nie, maar toe my afrigter my bel en my die nuus meedeel, was ek ekstaties. Dit is ʼn nuwe hoogtepunt in my swemloopbaan.”

Die Statebondspele is die enigste byeenkoms waar die paraplegiese swemmers saam met die weerbare swemmers meeding, hulle kompeteer egter nie teen mekaar nie, maar kry die geleentheid om onder dieselfde dak mee te ding.

Verster vertel dat Leach ʼn ongelooflik talentvolle atleet is. “Cornelle is die afgelope tyd deur baie en het steeds die hoogste vlakke bereik met haar positiewe gesindheid.

(Foto: Verskaf/ Leach en haar afrigter, Theo Verster)

“Sy oefen hard en volg dieselfde program as wat my weerbare swemmers doen. Ek behandel haar geensins anders nie. Sy sit net soveel tyd en moeite in, sy oefen selfs soms harder as hulle,” sê Verster.

“Ons fokus van hier af sal hoofsaaklik op die 2024- Paralimpiese Spele in Londen wees. Dit is haar grootste droom om ʼn medalje by dié byeenkoms te verower.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naomi ·

Leach en Theo sterkte daar anderkant glo jul gaan vir ons baie trots maak met al die medaljes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.