Skooltassieprojek duurste, maar belangrikste om in te belê

Die manne van Jan Jan Jan op die verhoog by Laerskool Danie Malan. (Foto: Maroela Media)

Een ding wat byna elke ouer veral dié tyd van die jaar met mekaar in gemeen het, is die knouende aankope van skoolklere en skryfbehoeftes wat hul honderde, of selfs duisende rande uit die sak uit jaag.

ʼn Suid-Afrikaanse ma se onlangse TikTok-video van haar kind se skryfbehoeftelys het hare regop laat staan en kommentaar van ander moedelose ouers laat instroom, met die totale bedrag wat nagenoeg R2 000 beloop het.

Daarbenewens moet ouers opdok vir skoolklere en buitemuurse aktiwiteite – iets wat baie ouers se reeds dun beursies verder plattrek.

Daarom is Solidariteit Helpende Hand se skooltassieprojek al sedert sy ontstaan in 2007 een van die organisasie se stapelprojekte – met byna 57 000 graadeentjies wat tot op hede daardeur bygestaan is en talle wat nog hulp benodig.

“Hierdie projek gaan verder as om net ʼn fisiese voorwerp in ʼn kind se hand te sit, dit bemagtig ook die kind om in die akademiese reis gelyk met sy of haar skoolmaat weg te spring,” verduidelik Danelle du Plessis, die projekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Nagenoeg 2 000 behoeftige graadeentjies van reg oor die land is vanjaar weer danksy dié organisasie gerat om hul skoolloopbaan af te skop.

Elke tassie bevat R450 se skryfbehoeftes, insluitende ʼn tas, skêr, gom, skerpmaker, uitveër, liniaal, uitdraaikryte, HB-potlode, witbord, witbordpen, pennesakkie, kleurpotlode asook ʼn boekie genaamd Kroonkinders.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê hoewel dié projek een van die welsynsorganisasie se duurste is, bly dit sy belangrikste.

‘n Leerder by haar nuwe skooltassie. (Foto: Maroela Media)

“Die gelykmaker tussen mense is dat ons almal soms arm is. Party finansieel, party fisiek, party geestelik. Niemand het alles nie, en ons leef nie in ʼn volmaakte wêreld nie. Ons is deel van ʼn gemeenskap en hoe gouer ons leer om hand uit te steek en mekaar te help, hoe beter, want só maak ons ons hele gemeenskap sterker.”

Die inisiatief spog ook sedert 2023 met twee nuwe vierpotige ambassadeurs, naamlik Braaf, die boerboel, van Boerboel Wear, en Piet Tande, die tandemuis.

Die manne van Jan Jan Jan, wat verlede jaar spesiaal die lied “Braaf soos ʼn boerboel” bekendgestel het, het Woensdagoggend ter viering van die nuwe skooljaar en die skooltassieprojek vir die haasbekkies van Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord verras.

“Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms ook bang en versigtig te wees, maar die heel braafste is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie. Jy is braaf as jy help; jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ‘n gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek,” sê Du Plessis.

Enkele van die 2 000 tassies wat vanjaar versprei is, is as deel van dié verrigtinge aan behoeftige leerders uitgedeel.

Die nuwe graadeentjies het ook bederfpakkies ontvang om die eerste skooldagspanning te verminder.

“Om die glimlaggie op elke behoeftige kindjie se gesiggie te sien, maak die projek deur en deur die moeite werd,” voeg Du Plessis by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.