Skooltassies propvol skryfbehoeftes vir gr. 1’s geskenk

Die inhoud van Kaapse Forum se skooltassies. (Foto: Verskaf)

Die Kaapse Forum, ʼn  burgerregteorganisasie, het verlede week in die Wes-Kaap die stryd teen armoede saam met ʼn nuwe generasie skoolleerders aangepak.

Dié projek het talle behoeftige gr. 1’s toegerus met ʼn skooltas vol hoop, drome en al die nodige skryfbehoeftes om hul skoolloopbane op die regte voet mee te kan begin. Hierdie tassies is by verkeie skole en gemeenskapsorgsentrums uitgedeel.

Tassies is onder andere uitgedeel by die Skurweberg Sekondêre Skool, die Steilhoogte Primêre Skool en die gemeenskap- en nasorgsentrum in Durbanville.

Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by die Kaapse Forum, sê navorsing toon telkens dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheidsvlakke lei. Die Kaapse Forum meen die skenkings is ʼn belangrike bydrae tot die toekoms van elkeen van die betrokke leerders.

Die heel basiese items in ʼn gr. 1-leerder se skryfbehoeftepakket kan ʼn ouer minstens R540 uit die sak jaag. Met meer as 18% van huishoudings in die Wes-Kaap wat nie behoorlik toegang tot kos het nie, kan duisende ouers dit eenvoudig net nie bekostig om die nodige skryfbehoeftes aan te koop nie.

Elizma Arendse van Kaapse Forum (links) en Louise Reyneke, grondslagfase onderwyseres by Steilhoogte Primêre Skool. (Foto: Verskaf)

Volgens Pieters het die Wes-Kaapse regering in ʼn oorsigdokument oor ekonomiese aangeleenthede in September verlede jaar benadruk dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding van die belangrikste elemente is wat ʼn leerder se akademiese prestasie beïnvloed. Daar is onlangs aangekondig dat die onderwyser-leerder-verhouding in dié provinsie tans op ʼn gemiddeld van 1:35 staan. In sekere gebiede soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plain word oorvol klaskamers as ʼn ernstige probleem geag.

Die Kaapse Forum sal daarom vanjaar as deel van ʼn deurlopende onderwysstrategie ook druk op die Wes-Kaapse onderwysdepartement plaas om die beloftes om nuwe skole in dié provinsie op te rig, na te kom of in vennootskap met burgerregteorganisasies aan volhoubare oplossings te werk. Dit is veral noodsaaklik aangesien skole in die Wes-Kaap in die afgelope vyf jaar ʼn totale toename van nagenoeg 19 000 leerders per jaar ervaar het.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ʼn verskil sal maak in hierdie kinders se lewens – veral waar hulle nou formeel hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ʼn gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sê Pieters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.