Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld 2014, en haar man, D’Niel Strauss, het hul eersteling verwelkom.
Rolene het die nuus Sondag op haar amptelike Facebook-blad bekendgemaak. “Welkom klein prinsie. Jy het ons harte gesteel en dit gevul met die grootste liefde en vreugde denkbaar,” het sy geskryf. “Ons is gesond, gelukkig en ewig dankbaar vir ons 4.18kg bondeltjie vreugde. My klein seuntjie, hierdie wêreld lê vir jou oop.”
Alhoewel Rolene nie bekendgemaak het presies wanneer hul kleinvoet sy opwagting gemaak het nie, het mense reeds Saterdag op sosiale media die egpaar met die geboorte gelukgewens. Rolene het net Woensdag ʼn foto van haar met haar swanger magie op haar amptelike sosiale media platforms gedeel en gesê die egpaar wag nog geduldig op hul pienkvoet se opwagting. “Love is patient… Patiently waiting upon our little boy. Hurry up!” het sy geskryf.
Rolene is tans ʼn finalejaar mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat nadat sy haar studie vir twee jaar moes onderbreek om op haar verantwoordelikhede as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld te fokus. Rolene en D’Niel het in Julie 2015 verloof geraak en is op 6 Februarie 2016 in die Laurent-bruilofslokaal op die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes getroud.
In Augustus het die egpaar aangekondig dat hulle hul eersteling verwag. D’Niel woon steeds in Stellenbosch en die egpaar moet vir tyd en wyl ʼn langafstandhuwelik handhaaf totdat Rolene haar studie voltooi het. Maar vir nou lê daar eers pajamadril vir die nuwe ouerpaar voor!
En daai foto, pragtig, dit lyk na Bloubergstrand se klippe!
Baie geluk met jul klein mensie geniet hom….
Die foto is geneem by die Punt in Mosselbaai. Baie baie geluk en seenwense aan die nuwe ouerpaar. Mag julle nog baie gelukkige seevakansies as gesin geniet.
Dankie, ek het gehoop iemand gaan my reghelp. Ek het so ‘n raaiskoot gevat.
xxxx
Baie baie geluk met julle prinsie, hoop julle geniet hom baie
Baie geluk. Is dit al wat ons van die kleintjie gaan sien