Skoonheidsbedryf: Lesse uit pandemie  

Esna Colyn is die uitvoerende hoof van Imbalie Beauty en Placècol. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Esna Colyn, uitvoerende hoof van Imbalie Beauty en Placècol, vertel van hul groot dankbaarheid toe hulle weer die deure van hul salonne ná 87 dae van inperking kon oopmaak.

Die grendeltyd het die volgende waardevolle lewenslesse vir my geleer:

Tyd is ons waardevolste kommoditeit

Ons het aanvanklik geglo dat grendeltyd sommer tjoef-tjaf verby gaan wees, min wetende dat die dae in maande gaan verander. Hierdie was ʼn tyd waarin ons as ʼn gesin saans speletjies gespeel het, saamgeëet het en werklik nader aanmekaar beweeg het, waarvoor ek altyd dankbaar sal wees. Die dae het nog steeds vinnig verbygevlieg en my laat besef hoe vinnig ons lewens op aarde voortsnel.

Bestee jou aandag op goed wat onder jou beheer is en leer nuwe vaardighede aan

Ons het reg van die begin af in ons onderneming ʼn analise gedoen van goed wat onder ons beheer is en waarin ons ʼn verskil kan maak, soos byvoorbeeld, ons is ʼn trots Suid-Afrikaanse velsorgproduk en salonmaatskappy met 40 jaar ervaring. Ons stigter, Elma McKenzie, het in 1980 die Placècol-velsorgreeks begin. In daardie sanksiejare was alle velsorgreekse ingevoer en daardie tydperk kan vergelyk word met die Covid-19-pandemie tans waarin isolasie en die onbeskikbaarheid van sekere produkte weer ʼn werklikheid geword het. Dit was in die tyd voor internet, e-pos, selfone, websoeke en skoonheidsalonne soos wat ons dit vandag ken.

Ons het besluit om daarop te fokus om ons skoonheidsterapeute en saloneienaars op te lei, om aanlynskoonheidskonsultasies te doen asook om ons produkte aanlyn aan ons lojale Placècol-kliënte te verkoop. Ons skoonheidsterapeute het regtig gegroei deur hierdie nuwe vaardigheid aan te leer en gaan tans daarmee voort om enige vrou in die gemak van haar huis met ʼn aanlynsskoonheidskonsultasie te help en om seker te maak dat sy die regte skoonheidsprodukte gebruik wat vir haar die gewenste uitslae sal lewer.

Voortdurende kommunikasie, eenheid en spangees

As ʼn bestuurspan het ons teen 08:00 elke oggend van die grendeltyd vergader en saam besluit oor ons verantwoordelikhede en take vir die dag. Toe ek een oggend ʼn spanlid komplimenteer oor hoe mooi sy lyk, het sy vir my gesê haar ma het vir haar geleer: “Get up, dress up en show up.” Hierdie daaglikse ontmoetings het ons as ʼn span nader aanmekaar laat groei en laat besef ons is daar vir mekaar, veral in moeilike tye, en hoe ons saam mekaar kan motiveer en positief kan bly oor ons toekoms. Ons het weer besef hoe uniek ons as mense is en dat elkeen van ons grendeltyd verskillend ervaar. Ons het maandeliks ook met al ons saloneienaars vergader. Al ons vergaderings is natuurlik met Zoom gehou en ons baie dankbaar vir tegnologie.

Laat alles waarvan jy nie van jouself hou nie in grendeltyd

In die grendeltyd kon ek waarlik aan my diepste binnekant werk en daaraan aandag gee. Ek het besluit om aandag te gee aan alles aan myself waarvan ek nie hou nie en in grendeltyd agter te laat en nie uit grendeltyd weer terug in die wêreld in te neem nie. Ek het die liefde en groot genade van die Heilige Gees daagliks oor my gevoel spoel en weer eens besef dat God ʼn Wonderwerker is en dat Hy sagkens met elkeen van ons werk om ons op ʼn plek van volkome afhanklikheid van Hom te bring. Hy het ons regdeur die grendeltyd gedra en gevoed met sy versteekte manna (hemelse brood).

Bly gesond; dit is binne jou beheer

Dit is so belangrik dat al vyf areas van ons lewe in balans moet wees: ons gees, ons emosies, ons verhoudings, ons gesondheid en laastens ons werk en ons finansies. Meer as voorheen het ek besef hoe waardevol dit is om gesond te wees deur te oefen, om ons koppe skoon te hou en gesond te eet, wat lei tot ʼn sterk immuunstelsel.

Wees lief vir jou naaste

Een van die aangrypendste stories wat ek tydens grendeltyd gehoor het, was van die sussie en boetie wat saam in ʼn trein gery het, op pad na die konsentrasiekamp en waar sy soos ʼn tipiese 15-jarige sussie met haar boetie baklei het omdat hy sy skoene verloor het. Hierdie sussie het ongelukkig nie weer haar boetie lewend uit die konsentrasiekamp sien kom nie. Sy het ʼn besluit geneem vir die res van haar lewe dat sy nooit weer van iemand sal afskeid neem, met woorde waaroor sy later spyt sal wees nie, net ingeval sy dalk nie weer daardie persoon sal sien nie. Dit is so belangrik: Moenie onvergewensgesindheid langer in jou hart dra nie, maak ʼn daadwerklike besluit vandag om vrede met jou naaste of geliefde te maak.

Die grootste geskenk wat ons almal tydens grendeltyd ontvang het, was waardevolle tyd om ons in staat te stel om stil te staan en na te dink hoe ons onnodige beperkings op ons eie lewens plaas. God se drome is soveel groter vir ons lewens as wat ons eie drome vir onsself is. Stap jou toekoms met dankbaarheid tegemoet en ontvang al God se beloftes vir jou lewe.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.