Slimkoppe bevestig kennis in geskiedenisolimpiade

Argieffoto (Foto: DariuszSankowski, Pixabay)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Nasionale Geskiedenisolimpiade het vanjaar weer plaasgevind met leerders van regoor die land wat hul liefde vir geskiedenis bewys het. Hulle het die olimpiade met aanlyn toetse op 2 en 16 Augustus afgelê.

ʼn Totaal van 49 hoërskool- en 225 laerskoolleerders het aan vanjaar se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade deelgeneem. Dit is die derde jaar wat hierdie olimpiade aangebied is. Die temas vir hierdie jaar was onderskeidelik die Pionierstydperk (1652 tot 1820) en die Groot Trek-tydperk (1820 tot 1845).

Na afloop van die naelbytstryd is daar eindelik drie wenners aangekondig in die laerskoolafdeling wat elk huis toe is met ʼn heerlike kontantprys. Heila Viljoen van Laerskool Hennopspark, Centurion, is aangewys as die wenner, met Ebeth Botha van Laerskool Klipfontein in eMahlahleni (Witbank) in die tweede plek en in die derde plek ws Wihann Schalekamp van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgopong (Naboomspruit).

Chrisna Nel, die organiseerder van die Geskiedenisolimpiade, is verheug dat kinders nog ’n liefde vir geskiedenis toon. Sy het ook gesê dat sy is trots op dit wat die kinders reggekry het.

Simoné de Wit, een van die wenners van die Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade se seniorafdeling. (Foto: Verskaf)

“Vandag se jeug leer nie meer Afrikanergeskiedenis nie, behalwe as jy dalk ’n Voortrekker is, en die Geskiedenisolimpiade poog om daardie leemte te vul.”

“Deur ons olimpiade wil ons kinders aanmoedig om meer te leer van hulle geskiedenis. Dit leer hulle waar hulle vandaan kom en wie die grondslag gelê het vir vandag, en die feit dat hul so ywerig deelneem en goed presteer, maak mens weer trots op jou eie geskiedenis.”

Simoné de Wit, ʼn leerder aan Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein en een van die wenners in die seniorafdeling, het bevestig die olimpiade het haar gehelp om die waarde van geskiedenis te besef.

“Die onderwerpe van hierdie jaar se eerste rondte was vir my baie interessant en kon ek bietjie ‘opvang’ met my Afrikanergeskiedenis. Die tweede rondte se opsteltema rondom die Vryheidsreis was vir my ’n lekker uitdaging en ek het dit baie geniet om dit te skryf. Dit het vir my ook ’n geleentheid gegee om spoor te vat in die Afrikanergeskiedenis in,” sê De Wit.

Die algehele wenner van die seniorafdeling, Dirk Hagen, het vertel dat die olimpiade ’n lekker uitdaging was én hy glo ook dat almal wat deelgeneem het baie waarde daaruit geput het.

Hagen is ʼn leerder aan Hoërskool DF Malan in die Wes-Kaap.

Dirk Hagen, algehele wenner van die Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiadese seniorafdeling. (Foto: Verskaf)

“Hierdie jaar het die Geskiedenisolimpiade gehandel oor die Groot Trek. Dit was interessant en het my kennis uitgebrei rakende die trekleiers, belangrike gebeure in daardie periode, erfenisterreine en monumente. Die e-publikasie oor die Groot Trek as navorsingsbron was insiggewend, goed uiteengesit en het dadelik my belangstelling geprikkel. My honger is gestil rakende die Suid-Afrikaanse geskiedenis, want sekere tydperke in ons geskiedenis word in die skool oor die hoof gesien,” het Hagen gesê.

“Ek kan vir seker sê dat ek die navorsing gelees het soos ’n boek wat ek nie kon neersit nie, want hierdie geskiedenis leer jy nie op skool nie Van die erfenisterreine was ’n nuutjie vir my en het ek op my besoeklys geplaas. Ek is versot op idiome en daarom was die deel rakende die herkoms daarvan, iets besonders.”

“Winston Churchill het gesê dat hoe verder jy in die toekoms wil in sien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk en ek dink dit is werklik iets waaraan ek en die jonger generasie kan vasklou; die lesse uit die verlede,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Euodia ·

Hoe wonderlik dat daar nog mense is wat omgee oor ons geskiedenis!! Baie dankie en geluk aan die kinders met hul prestasies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.