‘Spiekeries’ se graf weer spiekeries

Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die FAK, en die FAK-Kultuurnetwerk het dadelik ingespring om Viviers se graf te gaan skoonmaak. (Foto: Verskaf)

Die FAK-Kultuurnetwerk het Woensdag ingespring om “Spiekeries” se graf in die Langberg-begraafplaas naby Brits, Noordwes, weer spiekeries te maak nadat dit aan die lig gekom het dat dié graf van Gerhard Viviers erg verwaarloos is.

“Siddie, Siddie, Siddie.”

Wie onthou nog die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks op 25 Julie 1970 op Loftus Versfeld? Suid-Afrika moes nog ses jaar lank wag vir televisie en die legendariese sportkommentator Gerhard Viviers het dié wedstryd aan die luisteraars oor die radio beskryf: Die All Blacks het ’n strafskop in hul eie gebied gekry en op die ou einde het die All Black-kaptein, Brian Lochore, die bal gekry. Toe onderskep die Springbokke se regtervleuel Syd Nomis, wat sedert 1965 al deel van die span was, die bal en nael doellyn toe.

Viviers was op sy stukke en die mees onthoubare stukkie sportkommentaar in ons land se geskiedenis het gevolg. Op die ou einde het die Springbokke met 17 – 6 gewen, maar meer mense sal Viviers se kommentaar as die uitslag onthou.

Viviers se bynaam was Spiekeries omdat dit altyd sy antwoord was wanneer iemand hom gevra het hoe dit met hom gegaan het. Twee sangers het ook doodseker gemaak dat sy bynaam nie vergeet sou word nie. Leon Schuster het Viviers goed geken, en in sy liedjie “Gerrie Seer Handjies Coetzee”, op die wysie van Anton Goosen se treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, het Schuster gesing van ’n boksgeveg in Mmabatho in die destydse Bophuthatswana, waarin Viviers glo vir Leon Spinks met Jon Tate verwar het.

Later het Bok van Blerk, wat in 1970 toe Viviers met daardie stukkie legendariese kommentaar vorendag gekom het, nog nie eens ’n gedagte was nie, ook aan hom hulde gebring. Bok het die liedjie “Spiekeries” opgeneem na aanleiding van wat sy oupa hom daarvan vertel het. Toe Schuster ’n omroeper by die SAUK was, het hy die program Die vrypostige mikrofoon aangebied; hy het mense gebel en met hulle gek geskeer. Viviers het ook deurgeloop. Schuster het hom voorgedoen as ’n polisieman wat navraag gedoen het oor Viviers se vuurwapenlisensie. Hy het Viviers daarvan beskuldig dat hy “op die rug van sy bekendheid gery het”, en dit het hom absoluut woedend gemaak. Op die ou einde het Schuster vir hom gesê dat dit inderdaad hy was.

Viviers het egter nie net as rugbykommentator bekendheid verwerf nie. Die legendariese bokser Pierre Fourie, seker die beste Suid-Afrikaanse bokser wat nooit ’n wêreldtitel gewen nie, het aan ’n geveg teen Bob Foster deelgeneem. Weer eens was daar nog nie televisie nie en die luisteraars was op Viviers se kommentaar aangewese. Hy was vurig patrioties, en het die luisteraars vertel dat Pierre Fourie besig was om die geveg te wen, terwyl die teendeel die waarheid was.

Hy was ook ’n stemkunstenaar en bekend daarvoor dat hy Lexington-sigarette gerook het. Sy stem is vir dié advertensies gebruik in die dae toe dit nog wettig was. Viviers se praatstem is gebruik vir Martin Pols se karakter in die rolprent Hoor my lied. Sy bekendste rol as akteur was seker dié van Tom McDonald, Philip Moolman se karakter se pa in Jan Scholtz se televisiereeks Die sonkring.

Gerhard Viviers is op 15 Desember 1998 op 72 aan kanker oorlede.

Wimpie van der Sandt het op 15 Maart 2021 ’n Facebook-inskrywing oor die toestand van hierdie Afrikaanse legende se graf gemaak.

Gerhard Viviers is op 15 Desember 1998 op 72 aan kanker oorlede. (Foto: Verskaf)

“Hierdie foto van my geliefde Gerhard Viviers se graf in Brits het my vandag bereik. Hoe ’n volk sy gevalle helde onthou, sê baie van ons. In 2019 het ek Arlington in Amerika besoek en dit was opvallend hoe die Amerikaners hulle helde onthou … Ek kan nie net bystaan en kyk hoe een van die heel grootste ikone in Afrikaans net eenvoudig nie die erkenning kry wat hy verdien nie. Die minste wat ons as Afrikaners kan doen, is om sy graf skoon te maak en te onderhou. Vir elke drie wat ek op die radio kon luister, elke uitklophou en elke paaltjie wat Spiekeries beskryf het, is dit my plig om te sien dat hierdie man se graf minstens opgeknap word,” lui Van der Sandt se inskrywing.

Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die FAK, sê die FAK-Kultuurnetwerk het dadelik ingespring om Viviers se graf te gaan skoonmaak.

“Die FAK-Kultuurnetwerk werk landwyd saam met ondernemings en gemeenskappe om ons Afrikaner-erfenis te bewaar en te versorg.

“Daar is ’n FAK-Kultuurnetwerk in jou omgewing wat graag betrokke wil wees by die bewaring van plaaslike monumente en gedenktekens. Saam wil ons ons erfenis beskerm en versorg, maar kan dit nie doen as ons nie weet waar bewaring nodig is nie.”

Diegene wat so iets onder die FAK se aandag wil bring, kan vir Marianda ’n e-pos stuur by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

wat ‘n pragtige gebaar van almal wat betrokke was by “spiekeries” se graf skoonmaak, dankie aan almal

OW ·

Jy laat my dink aan die ou NP politiek waar hoor,hoor gereeld gesê is.

OW ·

Terloops,die legendariese Charles Fortune het vir Gerhard Viviers die naam “Spiekeries” gegee.Hy het die dag uitgesaai en vir Charles Fotune gevra wat hy dink van die uitsending en sy antwoord was “Spiekeries”

Danie ·

Ek wonder altyd in sulke gevalle, waar is die persoon se familie.
Hulle moet darem min van hom dink.

Vrijburger ·

As jy wonder waar is die persoon se familie – weet jy nie. So jy weet ook nie wat hul omstandighede ens is nie, maar tog besluit / oordeel jy in jou laaste sin?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.