Stuk Franse geskiedenis te koop

Napoleon. (Foto: Jacques-Louis David/The Emperor Napoleon in His Study at the Tuileries/Wikipedia)

Napoleon Bonaparte se weergawe van sy skouspelagtige oorwinning in die Slag van Austerlitz word later die maand in Parys, Frankryk, te koop aangebied. Napoleon het die verloop van dié slag gedikteer terwyl hy van 1815 tot en met sy dood in 1821 in ballingskap op die eiland St. Helena was.

Die manuskrip van 74 bladsye wat hy gedikteer het aan sy getroue persoonlike sekretaris, genl. Henri-Gatien Bertrand, bevat verskeie regstellings deur die keiser in ballingskap, met woorde wat uitgekrap en opmerkings wat in die kantlyn in piepklein skrif gemaak is.

Napoleon se weergawe van die “drie keisers” se botsing met Russo-Oostenrykse magte in 1805, wat beskou word as sy grootste militêre oorwinning, neem lesers deur die voorbereiding vir die slag, die geveg self en word afgerond met ʼn gevegsplan wat deur Bertrand op natrekpapier geteken is.

Napoleon se leër het op 2 Desember 1805 binne die bestek van sowat nege uur die groter mag van bykans 75 000 Russo-Oostenrykse soldate by Austerlitz verslaan.

Napoleon beskryf die taktieke wat ontplooi is om sy opponente om die bos te lei om hulle te laat glo dat die Franse magte swak was. Sy weergawe basuin die heldhaftigheid van die Franse, van troepe tot offisiere, uit en beweer selfs gewonde soldate het die keiser gegroet.

Napoleon verwys nie na homself in die eerste persoon nie, maar kies eerder om homself voor te stel as “die keiser”.

Die manuskrip is te koop vir €1 miljoen (sowat R18 miljoen) en word van 27 tot 30 Januarie in die Arts et autographes-galery in Parys uitgestal.

Jean-Emmanuel Raux, die galeryeienaar en versamelaar van Franse imperiale memorabilia, het die manuskrip in ʼn stapel dokumente wat aan Bertrand se erfgename behoort gevind.

“Dit is die ongelooflikste dokument oor die Franse geskiedenis wat jy in ʼn private versameling kan vind,” het hy gesê.

Sy dogter Alizee wat die manuskrip in besonderhede bestudeer het, sê dit is ʼn “opgesmukte weergawe van die slag”.

Die verkope is deel van die “BRAFA in the Galleries”-kunstefees wat van 27 tot 31 Januarie in 126 galerye in 13 lande plaasvind.

Versamelaars kan reëlings tref om die manuskrip persoonlik of op die internet te besigtig.

Bron: AFP (Agence France Presse)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Groot veldheer gewees met goeie stellings soos Impossible is a word to be found only in the dictionary of fools”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.