Stuur moeilikheid by die voordeur uit

hande-kerse-kerslig-gebed

(Foto: Myriams-Fotos/Pixabay)

Wanneer jy vir iemand vra hoe dit gaan, is die antwoord selde: “Absoluut perfek!”

Nee, dit gebeur nie net selde nie. Dit gebeur weinig.

Dit het egter so ʼn week gelede in my plaaslike Spar gebeur. Dit was eintlik maar ʼn retoriese vraag, want as ons in iemand vasloop of by ʼn toonbank staan is die “Hallo, hoe gaan dit?” tog maar in die meeste gevalle net ʼn vinnige goeie-maniere-frase voordat ons weer koers kies. Ons hoor dikwels nie eers die “Goed, dankie en jy?” nie. Dit is mos maar die norm, want ons is tog so haastig en meestal oorhoeks met onsself en almal skyn tevrede te wees met die skamele, niksseggende woordjies.

Maar toe teller nommer 1 met my vraag opkyk en met vriendelike oë en ʼn totale vreedsaamheid op haar gesig sê: “absolutely perfect”, kon ek nie anders as om die uitpak van die mandjie nét daar te onderbreek nie.

My stapvriendin en twee hondekinders het in die motor gewag, maar wegstap kon ek nie. “Absoluut perfek.” Wie sê dit? En verdien so ʼn ongewone antwoord én variasie op die gewone, geykte, nie meer as “bly om te hoor” en woerts, warts, daar wikkel jy weer nie?

Daar was net twee of drie mense agter my in die tou en tellers 4 en 5 was beskikbaar, so ek kon sonder om iemand se oë in my rug te voel boor dié saak verder ondersoek.

“Absoluut perfek? Hoor ek jou reg?”

Haar lag wat soos sjokoladekoekdeeg wat jy in die pan uitgooi en in sagte kronkels afsak totdat dit egalig lê kry.

“Jy hoor my reg.”

“Maar wat beteken dit?,” wou ek weet. “Nie een van ons het nie iets wat krap of pla nie.” In my agterkop stel ek my voor hoe hierdie vrou, wat nie meer vandag se kind is nie, waarskynlik soos baie ander in die townships half-vyf soggens by kerslig opstaan om teen half-agt die eerste, rasend-honger kliënte se koffie-en-croissant-geld op te lui.

“Natuurlik,” sê sy. “Ons almal struggle maar. Dit beteken nie dit kan nie goed gaan nie.”

“Nou maar toe, verduidelik,” en weer gee sy vir my daardie lekker lag.

“Dis eenvoudig,” sê die teller. “Die sleg kom in my lewe in. Nie net nou en dan nie, maar nogal gereeld. Ek sien dit kom, maak my deur daarvoor oop, maar dan stuur ek dit weer weg. Ek gee die sleg nie blyplek nie.”

“Hoe het jy dit reggekry,” vra ek gefassineerd. “Verg dit nie baie selfdissipline nie?”

“Dit het, ja. Dit het tyd gevat, maar ek het myself geleer – ek moes – en nou is dit al maklik. Dit beteken nie ek ervaar nie emosie nie. Ek laat dit net nie gaar word nie.”

Ek dink in daardie oomblik aan al die gratis aanlyn kursusse wat ek deur Ivy League-universiteite doen – met die draad wat deur soveel van hulle loop: om sin te maak van die lewe; om voluit en in die oomblik te leef en die noodsaaklikheid van ʼn dankbare ingesteldheid. Ek dink ook aan al die maande se introspeksie, opleeswerk en oefeninge wat die geleerde professore ons laat doen en hier staan ʼn vrou, wêrelde verwyderd van Harvard, en sy is die toonbeeld van innerlike vrede.

Ek skud my kop in verwondering en hervat die uitpak van my inkopiemandjie. So tussen die weeg van die tamaties vertel ek haar van hierdie kursusse en haar oë flikker met lewendige belangstelling. “Kan ek dit ook doen?”

“Daar is geen rede hoekom jy dit nie kan doen nie, maar hoekom sou jy wou?” vra ek terwyl ek my kaart outomaties tap, en ek beantwoord sommer my eie vraag:

“Jy lééf dit dan reeds.”

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet parys ·

Wonder nou hoekom het jy gedink sy woon in n plakkerskamp ? Sy klink na n positiewe persoon in vandag se tyd wat maar yl gesaai is . Oral reg deur die land is daar baie plakkerskampe wit en swart of kyk jy eensydig . Hier en daar in winkels is die tellers wit so woon hulle dan ook in n plakkerskamp . ? Wonder net

Susan ·

Genade tog Piet, wat maak dit saak of sy in ‘n plakkerskamp bly of nie? Die kern hier is haar positiwiteit en gelukkige uitkyk op die lewe. Jy kan in ‘n paleis bly maar sielsongelukkig wees oor alles in jou lewe. In vandag se moeilike lewe, laat ons alles wat positief is ons begeester en bemoedig.

WILLEM ·

Ja daar is baie om oor te kla as jy wil, MAAR wees ook dankbaar vir alles wat ons Hemelse Vader elke dag vir jou gee, versorging, beskeming ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.