Tragedie én komedie van ons krygsgevangenes

Skoolmeester Bester en sy twee aangenome seuns. (Foto: Verskaf)

Die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 was ʼn groot gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Nadat die Britte die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881 verloor het, moes hulle nuwe taktiek gebruik om die Boere in hierdie tweede vryheidstryd te wen. Een van daardie taktieke was om die Boeremanskappe gevange te neem en hulle so goed te bewaak dat hulle nie verder aan die oorlog kon deelneem nie. In oorlogsterme was hulle krygsgevangenes.

Die Boere het dieselfde taktiek met die Britte probeer, hoewel dit minder geslaagd was. Tog het die Boere nie sommer net in sak en as gaan sit as hulle gevange geneem is nie – hulle het planne beraam om te ontsnap, weer tot die stryd toe te tree, te oorleef, en helaas, om ʼn bestaan te maak in die kampe.

Boere én Britse gevangenes

Sowat 27 000 Boere tussen die ouderdomme van sewe en 78, of volgens party bronne tot 32 000, is in die loop van die Anglo-Boereoorlog krygsgevange geneem.

Massa-oorgawes deur die Boere, byvoorbeeld die deur generaals Piet Cronje by Paardeberg op 27 Februarie 1900 en Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom op 30 Julie 1900, het meegebring dat die krygsgevangenekampe in die Kaapkolonie en Natal spoedig te klein was. Kampe is gevolglik op St. Helena, Ceylon, die eilande van Bermuda en Indië opgerig. Sowat ʼn duisend Boere, asook nagenoeg vyftig vroue en honderd kinders, is ook in Portugal geïnterneer nadat hulle in September 1900 die grens na Mosambiek oorgesteek het.

Maar die Boere het ook Britse krygers gevange geneem. Amptelik is sowat 400 Britse offisiere en 9 200 troepe deur die Boere krygsgevange geneem. Die ware getal moes egter heelwat hoër gewees het, aangesien nie alle krygsgevangenemings in die guerrillafase aangeteken is nie. Bowendien het die Boere hul krygsgevangenes in die guerrillafase meestal onmiddellik vrygelaat, omdat hulle nie geriewe gehad het om hulle te huisves nie.

Britse troepe wat gevange geneem is, is aanvanklik op die renbaan in Pretoria aangehou (vandag die skouterrein) en die offisiere in die Staats Model School – waaruit die jong Winston Churchill ontsnap het. In Desember 1899 is die krygsgevangenes na Waterval, noord van Pretoria, verskuif. Tydens lord Roberts se opmars na Pretoria is die krygsgevangenes na Nooitgedacht, naby Nelspruit in Oos-Transvaal, verskuif. Daar het generaal Ben Viljoen hulle einde Augustus 1900 vrygelaat toe die Britse magte in aantog was.

Dapper ontsnappings

Talle gevangenes het op pad na die kampe of uit die kampe probeer ontsnap. ʼn Paar het van treine weggekom. Seker een van die mees verbeeldingryke en merkwaardigste ontsnappings uit krygsgevangenskap was die van die vyf Boere, Willie Steyn, die broers G Steytler en L Steytler, E Haüner en P Botha, uit die hawe van Colombo.

Hulle was deel van ʼn groep van 300 krygsgevangenes aan boord van die Catalonia wat op 10 Januarie 1901 in die hawe van Colombo vasgemeer het. Terwyl die eerste groep krygsgevangenes aan wal geneem is, het dié vyf planne beraam om te ontsnap. Hulle het toue en swemgordels bekom en net voor middernag op 13 Januarie van die Catalonia ontsnap en na ʼn Franse skip wat daar naby voor anker gelê het, geswem. Toe Willie Steyn naby die Franse skip gekom het, het dié skip anker opgetrek en uit die hawe begin vaar. Ná twee-en-ʼn-half uur in die water het hy ʼn Russiese skip, die Gherson, bereik. Die Russe het hom aan boord geneem, waar hy en sy vier vriende herenig is.

By Aden en weer by Suez word hulle in die een skoorsteen van die Gherson versteek sodat die Britte hulle nie kon opspoor nie. In die hawe van Theodosia in die Krim het hulle die skip verlaat en per trein oor St. Petersburg (Leningrad) deur Pole en Duitsland en Nederland gereis.

Ná ʼn kort verblyf in Nederland is hulle van Hamburg per skip na Swakopmund in Duitswes, waar hulle op 6 April 1901 aangeland het. Hulle het weer by die Boerekommando’s aangesluit. Lourens Steytler is kort daarna weer naby Petrusburg gevang en vir die res van die oorlog in Graaff-Reinet opgesluit. Willie Steyn het later sy oudste seun Vladimir gedoop, ter ere van die Russiese kaptein van die Gherson.

Kreatiwiteit onder verveelde krygsgevangenes

In die kampe was verveling ʼn groot probleem. Georganiseerde sport, soos krieket, atletiek en tennis – en ook boeresport vir die Boere – het welkome afleiding vir verveelde gevangenes gebied. Rugby was blykbaar die gewildste tydverdryf in hierdie kampe. Bermuda was die uitsondering, want die ruimte op die eilandjies was beperk en die terrein te rotsagtig. Op St. Helena het die Deadwood- en Broadbottomkampe, 8 km van mekaar, gereeld teen mekaar gespeel. Simpatiseerders in Nederland het balle gestuur.

Rugby het so vinnig gegroei dat verskeie spanne vanaf Desember 1900 in ligas teen mekaar gespeel het. So was daar die Exiles, Nooitgedacht, Pirates, Federals, Vierkleur, Eendracht, Mausers, Krugerites en Boers, die meeste ook met ʼn tweede span! Die Britse sportkultuur van die hedendaagse Suid-Afrikaner het in ʼn groot mate sy beslag in die kampe gekry.

Daar was ook ander aktiwiteite. Debatte en musiekaande is gehou, handel gedryf, koerantjies uitgegee en artikels gemaak wat elders as oorlogsaandenkings verkoop is. Die artikels, soms uiters kunstig, is gemaak van byna elke denkbare voorwerp: goue, silwer- en kopermunte, been, kondensmelk- en boeliebiefblikkies en hout.

Skool en kerk maak ook ʼn merk

Op die skoolbanke het bebaarde burgers en kommandante saam met die seuns en jongkêrels gesit. Onder die vakke wat onderrig is, was boekhou, rekenkunde, wiskunde en tale. In die Diyatalawakamp op Ceylon was die Nederlands-gebore Omius van Oostrum, ʼn groot onderwysman, een van die onderwysers. Hy het les gegee in Nederlands, Duits, Frans, wiskunde en die metodiek van onderwys. Onder die mense wie se opleiding in die kampe begin het, was kommandant CTM Wilcocks, later administrateur van die Vrystaat, die letterkundige EC Pienaar en ʼn aantal predikante, dokters en ander leiersfigure.

Daar was ook gereeld kerkdienste. Op Bermuda is ʼn oplaag gesangeboeke verbied omdat Psalm 68: “De Heer zal opstaan tot den strijd” die sensor laat skrik het! Die sensor het ook gemeen Psalm 130 gaan die gevangenes vergeefse hoop gee: “Hoop op den Heer, gij vrommen: / Is Israel in nood / Er zal verlossing komen”.

Vir die Boerekrygsgevangenes was die nuus oor die ondertekening van die Vrede van Vereeniging ʼn groot skok. Hulle moes die eed van getrouheid aan die Britse kroon aflê voordat hulle na hul vaderland kon terugkeer.

Die terugkeer was ook nie maklik nie, want hulle moes die verwoesting aanskou wat tot die Boere se nederlaag in die oorlog bygedra het. ʼn Lang pad van herstel en heropbou het voorgelê. Die krygsgevangenes is wel verhoed om hul land in die oorlog te verdedig, maar hulle moes saam skouer aan die wiel sit om Suid-Afrika weer uit die stof te laat herrys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

electricmango ·

Jy kan n afrikaner se huis afbrand sy vrou en kinders vermoor en verkrag sy diere verbrand maar jy gaan hom nie breek nie – Die leeu van noord wes het dit bewys. Die gevaarlikste ding op die aarde is n boer wat in n hoek gedruk word…..

Prikkie ·

Daai 5 manne het toe sommer ‘n lekker toer “verniet” gekry en hulle kom veg wraggies weer. Wys jou net, manne laat hulle nie onderkry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.