Uitkruip by 2020 en inkruip by 2021

Liezel se reënboog-engelvlerke agter teen haar klas se muur. (Foto: Verskaf)

Deur Liezel van Soelen

So veel soos ek ‘n masker haat met my hele hart, siel en verstand, was ek die laaste skooldag van 2020 baie dankbaar vir hom wat my emosies bietjie kon wegsteek. Toe ek my graad 4-kinders moes groet, het dit verkeerd gevoel dat die jaar so baie van my, maar ook van hulle gesteel het. My hart was seer …

Die Maandag, toe dit net nog ons onderwysers was wat terug skool toe moes gaan, is ek na my klas. Ek het so na elkeen van my klaskinders se foto’s gestaan en kyk. Ek maak elke jaar ‘n “wasgoedlyn van gesiggies” met ‘n foto van elkeen. In Januarie 2020 het ek hulle een-een afgeneem en die foto’s by die huis gedruk en gelamineer. Op daardie foto’s wat ek die eerste week van die jaar geneem het, glimlag almal breed. Ek onthou my woorde: “Kom, Juffrou wil mooi, groottandjie-smiles hê. Nie dunlippie-smiles nie!” Hulle het gelag en ek het een vir een afgeneem by my reënboog-engelvlerke agter teen my klas se muur. Bokant die vlerke staan Psalm 91:4, “God sal jou oppas soos ‘n ma-voël haar kuikentjies onder haar vlerke beskerm.” ‘n Koue hand het om my hart gevou waar ek agter my tafel gestaan het in my leë klas. Ek het met God begin praat – soos altyd:

“Ag, Here… ek is só bekommerd oor party van my kinders. My grootste wens is dat ek hulle wéér in 2021 in my klas kon hê. Dat ek kan probeer inhaal en opvang wat die koronamonster gesteel en verwoes het, maar ek kan nie. Here, ek weet U sal U engele saam met elkeen van hulle stuur in hierdie vakansietyd, maar daar is ‘n hele paar wat meer as een engel gaan nodig hê. U weet hoe dit by sommige huise gaan…

U weet hoe vuil en moeg *Pieter sommige dae by die skool aangekom het. U het gehoor wat sy antwoord was as ek gevra het hoekom hy so moeg is en hoe laat hy die vorige aand gaan slaap het. U weet ook hoe hartseer *Annemi se ogies gereeld was as sy by die venster uitgestaar het. U het ook die perfek, ingeoefende rympie gehoor as ek gevra het of sy okay is. “Ja, Juffrou. Ek is reg. Daar is nie iets verkeerd nie”.

U weet hoe dankbaar ek die dag was om vir *Chrissie groter skoolskoene uit ons skool se vat-sonder-om-te-vra-of-te-verduidelik-liefdesklerekas te kon uithaal. Haar hakke het afgehang op die ou skoolskoene en ek het geweet dit maak haar seer. Sy was so bly oor die “nuwe” blink skoene.

“Here, U weet van my *Antjie-kind met die pikswart, blink ogies en parmantige glimlag. Dis nét sy en haar mamma, Here. Daar is nie ‘n pappa, ouma, oupa, boetie, sussie of enige ander familie nie. U het gehoor toe sy die laaste dag gesê het: “Ek weet nie wat is Krismisvader se storie nie, Juffrou. Hy bring nóóit vir my geskenke nie.” My hart het gebreek. “Wat wil jy dan graag vir Kersfees hê, my liefie?” het ek gevra. Sy het ‘n oomblik stil gebly en dit het gelyk of sy diep dink. “Roller skates!!!” het sy geantwoord. Met my hele hart wou ek so graag vir *Antjie rolskaatse koop, maar ek het geweet daar waar sy en haar mamma in hulle piepklein, pienk huisie bly, is net grond en stofpaaie. Sy sou nie daar kon skaats nie en dit sou in elk geval nie veilig wees in die straat nie.

Dan is daar my kinderhuisseuntjie. Die laaste dag toe hy eksamen skryf, was hy só opgewonde. Sy ouma het reeds vir hom by die kinderhuis gewag. Hy het spesiaal vroeër as die ander maats begin skryf. “Juffrou, my ouma wag al vir my. Ek gaan huis toe die vakansie,” het hy met blink oë in die middel van sy vraestel gesê. Ek het geweet ek moenie vandag ‘n onderskeiding verwag in die vak nie. ‘n Hele paar keer moes ek hom aanmoedig om net eers bietjie van ouma wat wag, te vergeet. Vir hom gesê dat hy mooi moet dink en op sy vraestel konsentreer, maar ek het geweet hy is eenvoudig net te opgewonde. Nadat hy klaar geskryf het, het hy die selfgemaakte, wit koevert uitgehaal. Dit was mooi versier met getekende hartjies en sterretjies. Met ‘n glimlag (onder die masker, maar wat ek duidelik in sy swart ogies kon sien) het hy dit vir my gewys: “Mamma” het op die koevert gestaan.

Die koevert het ‘n boepens gehad. Voor ek kon vra wat is binne-in, het hy gesê, “Mamma het mos verlede maand geverjaar Juffrou. Ek het een van die chocolates wat ons by die kerk se Krismispaarties gekry het, weggesteek en dit spesiaal vir haar gehou vir ‘n present. Ek gaan dit netnou self vir haar gee!” My hart wou breek. Ek kon nie verby die knop in my keel praat nie. Ek het net na hom gekyk en gebid…

“Here, kan U dalk so 3 engele saam met hom huis toe stuur asseblief?”

Liezel van Soelen is ʼn gr. 4-onderwyser aan die Laerskool Newton in Kimberley. (Foto: Verskaf)

Elke kind in my klas het ‘n storie. Party s’n is mooi en gelukkig. Ander s’n is hartseer en stukkend. Die ergste vir my is dat ek níks kan doen om daardie stukkende stories heel en mooi te maak nie. Ek kan net luister en liefde gee – so véél as wat ek kan. Ek het baie keer in 2020 vir hulle gesê dat hulle alles kan vergeet wat ek vir hulle geleer het. Daar is net twee dinge wat hulle nóóit-óóit moet vergeet nie. Dit is dat ek en Liewe Jesus baie-baie lief is vir elkeen van hulle en dat níks dit ooit kan verander of wegvat nie.

Ek het die laaste dag van skool gebid. “Here, ek pleit vandag die bloed van Jesus oor elke kind hier voor my. Ook oor myself, korona of te nie – vandag gaan ek hulle elkeen vir oulaas teen my hart vasdruk.”

Ek het geweet God ken my hart en verstaan hoe ek voel. Dat ek net vir elkeen, vir oulaas, ‘n drukkie wou gee voor ons die jaar uitmekaar gaan. Ná die drukkies het ek weer almal se hande gespuit met die sanitize-bottel voor ek die laaste keer saam met hulle by my helder geverfde, oranje klas uitgestap het. Die sanitize-bottel wat van Augustus af, elke dag en heeldag, oortyd moes werk om hande (klein en groot) skoon te maak van die aaklige Covid-19-kiem.

Drie dae later kom ek van die badkamer af teruggestap na my klas toe. Dis stil in die skool, want dit is nog net ons onderwysers daar. In die middel van die gang lê daar ‘n veer. Ek voel die roering in my hart, maar toe ek by hom kom en na hom kyk, besluit ek om die roering te ignoreer en aan te stap. Ek het hom nie opgetel nie al het ek geweet ek moet. Die onrustigheid oor my klaskinders het nie weggegaan nie.

Die volgende oggend stap ek weer saam met my twee hartsmaatkollegas dieselfde pad. Ek sien die veer wat presies op dieselfde plek lê as gister. Hoe kan dit wees? Die gange word dan elke dag gevee en die gangdeur is oop. Hoe het die wind hom nie weggewaai of net na ‘n ander plek gewaai nie? Ek voel wéér duidelik die roering binne my en ek tel die veer op. Ek gaan alleen in my klas in en maak die deur agter my toe. In my gees hoor ek God baie duidelik met my praat…

“Liezel, hoekom het jy nie die veer gister al opgetel nie?”

“Here, ek het nie gedink U het hom vir my gegee nie.”

“Hoekom nie?”

“Hy was nie soos die ander vere nie.”

“Hoekom nie?”

“Here, hy het nie soos die ander vere gelyk wat ek al van U af gekry het nie.”

“Hoe dan so?”

“Here, hy was ‘n bietjie lelik.”

“En?”

“Die veer was bietjie vertjoer, Here. Hy was ‘n verkeerdeveer-veer.”

“So, ek het vir jou ‘n veer gelos, maar hy was nie perfek en mooi in jou oë nie. Beteken die feit dat hy lelik was dat hy nie nog steeds ‘n veer is nie?”

“Nee Here, dit bly nog steeds ‘n veer.”

“Watter veer wat Ek al vir jou gelos het, was vir jou die spesiaalste een?”

“Vader, die een wat Desmond vir my gebring het op 19 Junie, 4 jaar gelede. Dit was die grootste, mooiste, perfekste, blou-en-geel Amazon-papegaaiveer. Die veer het voor in ons tuin gelê. Ons was albei verstom, want hier is nêrens enige papegaai of voëlboere naby ons nie. Ons het albei geweet dis ‘n groot-bederf-veer van U af om te sê alles gaan okay wees.”

“Nie alle vere lyk dieselfde nie, maar dit maak nie saak hoe dit lyk nie. ‘n Veer bly ‘n veer.”

Ek laat sak my kop in stilte en ek kry skaam. Ek druk die lelike, verkeerdeveer-veer teen my hart vas.

“Ek is só jammer, Here. Ek is jammer dat ek gedink het ek is so belangrik dat U vir my net mooi, skoon, perfekte vere moet gee.”

Twee verskillende vere. (Foto: Verskaf)

Ek kyk op en reguit na my reënboog-engelvlerke, agter teen my klas se muur. Nie één van die vere lyk dieselfde nie. Almal is verskillend ingekleur. Party is bont met helder kleure. Ander weer bietjie streperig ingekleur met ligter kleure. Van hulle is gebuig en loer bietjie skeef oor die een voor hom se skouer.

Dis asof ek dit vir die eerste keer raaksien: Al die vere is verskillend. Nie een is perfek nie, maar saam vorm dit die twee perfekte engelvlerke. Ek lees weer die woorde bokant die vlerke. “God sal jou oppas soos ‘n mamma-voël haar kuikentjies beskerm. Psalm 91:4” …Ek dink weer oor my klaskinders wat ek daardie week moes groet en my onstuimige hart word rustig.

“Dankie Here, dat ek in my gees en gebede elke liewe kinderlyfie in my klas kan vasdruk teen my hart en dat ons álmal onder U vlerke mag inkruip. Daar sal ons veilig wees. Die nuwe, onbekende skooljaar kan maar kom. Ek sal uitkruip uit 2020 en net weer inkruip by 2021. My groot en getroue Vader God is alreeds daar…”

  •  Liezel van Soelen is ʼn gr. 4-onderwyser aan die Laerskool Newton in Kimberley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aikie ·

En toe stort ek in die stilligheid ‘n traantjie vir al ons stukkende kinder hartjies wat nie die geluk van `n heel huis ken nie. Jou artikel het my hart geraak.

Elsabe ·

Baie, baie spesiaal. Ek is versot op vere. Soos ek deur die dag beweeg en op ‘n veer afkom, word dit opgetel en in ‘n potjie in my huis gesit. Saam met ystervark-penne en dun stokkies en mooi takkies ens ens ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.