Uitsoekdramas op Suidoosterfees te sien

Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan (Foto: Verskaf)

Teaterliefhebbers kan regmaak vir ʼn onvergeetlike drama-aanbod by hierdie jaar se Suidoosterfees wat van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad aangebied word. Die fees se NATi Teaterfeesprogram spog met uitmuntende produksies wat spesiaal vir die fees geskep is, asook aanbiedings waarmee gehore reeds bekend is.

Onder ʼn bloedrooi hemel, gebaseer op Annemarié van Niekerk se aangrypende memoir oor liefde en geweld in Suid-Afrika, is die fees se vlagskipdrama. Cintaine Schutte, Daniel Mpilo Richards en Deon Lotz speel in dié produksie wat deur die Hertzogprys-wenner Nicola Hanekom vir die verhoog verwerk is.

Verhoogveterane Sandra Prinsloo en Jana Cilliers is ook op die program. Prinsloo speel saam met David Viviers in Henque Heymans se nuwe drama Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Cilliers verskyn saam met Ludwig Binge in die stuk wat sy self geskryf het, Veelhoek, met die legendariese Marthinus Basson in die regisseurstoel.

In Heymans se stuk bevind Prinsloo haar as die karakter Nora in die hiernamaals, ʼn plek wat herinner aan ʼn staatsdepartement uit die sewentigs. En in Veelhoek vier Cilliers ʼn teatergesprek met haar oorlede neef, die digter Barnard Gilliland, wat 60 jaar gelede op ʼn jong ouderdom gesterf het.

Droomwerk, Pieter Odendaal se drama wat reeds ʼn handvol pryse op die feestekringloop ingepalm het en pas op die kortlys vir die Hertzogprys vir drama beland het, is ook by die fees. Kapenaars wat nog nie die produksie gekyk het nie, het nou die kans om self te sien waarom resensente gaande daaroor is.

Deon Lotz (Foto: Gys Loubser)

Gerben Kamper het onlangs by die geselskap aangesluit nadat Johann Nel, in die rol van Pieter se oupa wat ʼn apartheidsenator was, onverwags moes uittree. Jill Levenberg, ook in die rolverdeling, het verskeie nominasies en toekennings vir haar vertolking van Diana van Madagaskar in die stuk ontvang.

Herschelle Benjamin, wat die laaste klompie jare in die plaaslike dramawêreld opgang maak, se nuwe stuk, Op die kruin van Shôdeville, is ʼn semi-outobiografiese sportdrama wat ondersoek instel na hoe iemand wat sukses in die lewe behaal het, hom kan losmaak van ʼn uitdagende verlede. Kevin Smith, Reginald Hufkie en Donovan Pietersen speel in dié produksie wat deur die Suidoosterfees en die KKNK onwikkel is.

Denise Jannah, die Nederlandse sangeres en aktrise wat al vir presidente en koninklikes opgetree het, is saam met Pierre van Heerden, Frazer Barry en Charlton Davids in Swart wyn. Dié produksie wat in Nederland ontstaan het en nou in Afrikaans met plaaslike kunstenaars aangebied word, vertel die inspirerende verhaal van twee Suid-Afrikaanse vrouewynmakers.

Swart wyn is gegrond op Vivian Kleynhans, eienaar van Seven Sisters Wines op

Stellenbosch, se outobiografie Wanneer water wyn word, en word parallel met die verhaal van die 17de-eeuse historiese figuur, Zwarte Maria Evert, aangebied. Evert, van slawe-afkoms, was die eerste swart vrou aan die Kaap wat ʼn druiweplaas besit en wyn geproduseer het.

Verskeie trefferproduksies wat speelvakke by ander Afrikaanse kunstefeeste gehad het, maak ʼn Kaapse draai tydens die Suidoosterfees. Die briljante Braam en die engel beloof ʼn magiese, multidissiplinêre teaterervaring vir die hele gesin. Gegrond op die kinderboek deur Marietjie de Jongh, neem die produksie met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Marelize Viljoen, Timothy Isaacs en Shaun Oelf, oud en jonk op ʼn onvergeetlike teaterreis.

Monsters, die Sweedse dramaturg Niklas Rådström se aangrypende drama oor die moord op die tweejarige Britse seuntjie James Bulger in 1993, gaan feesgehore ook meevoer. Tinarie van Wyk Loots het die oorspronklike teks saam met die geselskap vertaal en sy is ook die regisseur. Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete speel daarin.

Op die kruin van Shôdeville (Foto: Verskaf)

Dana Snyman se eenmanstuk met die immergewilde Frank Opperman, Reünie, is by Suidoosterfees vir een vertoning op 27 April. Elzabé Zietsman, van wie teatergangers eenvoudig nie genoeg kan kry in Johann Slabbert se Routrip nie, is op 29 en 30 April by die fees.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) bring ʼn spesiale vertoning, Ballroom Boy, elke middag om 13:30 na die NATi Arena, gratis vir die publiek. Dié stuk handel oor die uitwerking van bendegeweld op gesinne en word gevolg deur ʼn kort gespreksessie deur ʼn gerehabiliteerde gevangene.

Braeden Buys en Logan Cornelius is te sien in Flip, ʼn drama oor ʼn versteurde jong man wat uitgedaag word deur twee personas wat om dominansie in sy psige veg. Carin Bester is te sien in Waansin, ʼn drama oor ʼn versteurde moeder met ʼn radikale godsdiensbeskouing en die ontwrigting wat dit op ʼn gesin veroorsaak. En in Wendy Anthonie en Quinton Stuurman se Gesplete tong is Stuurman op die verhoog as Nkosana, ʼn jong man wat probeer wegkom van die samelewing se vereistes oor manlikheid.

Ilne Fourie se drama Ken jy vir Dewie? handel oor ʼn skoolseun wat donker gedagtes koester oor sy skoolomgewing waar boelies die botoon voer. Crystal Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson speel in dié aangrypende stuk waarin ʼn tragedie wag om te gebeur.

Ken jy vir Dewie? (Foto: Verskaf)

Geweld, dié keer in die konteks van verhoudings, is die tema van Karlé Briedenhann se Sewe, waarin sy en Johan Falck speel. Albert Maritz behartig die regie, en die titel sinspeel op die gemiddelde aantal probeerslae wat dit ʼn vrou neem om uit ʼn gewelddadige verhouding te ontsnap.

Op ʼn ligter noot is Lizz Meiring teenwoordig met Van die rak af, ʼn prettige aanbieding waar gehoorlede vooraf kies watter karakters Lizz tydens die vertoning gaan uitbeeld. Wanneer die veelsydige aktrise die verhoog betree, word die gehoor se keuses in ʼn verrassingspakkie voor haar neergesit.

In Verras deur Siobhan Taljaard kom lede van die Vermaak-familie ná die afsterwe van hul Ouma Elie bymekaar om begrafnis te hou. Die poppe begin egter dans wanneer Ouma Elie se lyk skoonveld is. Dié komedie word aangevuur deur ʼn verwarring van identiteite en ongenooide gaste wat hul opwagting maak.

Besoek die Suidoosterfees se webwerf vir meer inligting oor die produksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.