Unieke skool se droombiblioteek word boek vir boek ʼn realiteit

Club 21 kweek ‘n liefde vir lees onder hul leerders (Foto: Verskaf)

Vordering vir die Club 21-skool vir kinders met downsindroom se droombiblioteek is goed op dreef, met verskeie skole, uitgewers, boekwinkels en vrywilligers wat gedurig inspring om dié leessentrum boek vir boek ʼn werklikheid te maak.

Maroela Media het vroeër berig dat dié uiters unieke skool sedert 2012 in die opvoeding en ontwikkeling van mense met downsindroom spesialiseer en jongmense met downsindroom selfstandig wil maak om die wêreld daarbuite te betree.

Downsindroom is ʼn genetiese toestand wat deur ʼn ekstra kopie van chromosoom 21 veroorsaak word, vandaar die naam Club 21.

Een van die vele maniere waarop hulle dit doen, is om van jongs af ʼn liefde vir lees by hul leerders te kweek en sodoende ook die wanopvatting dat kinders of mense met downsindroom swak of glad nie kan lees nie, hok te slaan.

Daarom het Nicolette van Wyk, Mary-Ann Marais en Lisa du Plessis, wie se seuns leerders aan die Club 21-leersentrum is, kragte met verskeie rolspelers saamgesnoer om hierdie doelwit met die krag van boeke te verwesenlik.

Leerders gaan binnekort in die ‘Boekebos’ kan lees. (Foto: Verskaf)

Die fotograaf en skrywer, Albert Bredenhann, het ook sy gewig agter dié projek gegooi nadat hy dié drie ma’s in ʼn boekwinkel daaroor hoor gesels het.

Só is die bal aan die rol gesit om die “Boekebos-leessentrum” vir dié skool in te rig.

Nagenoeg 2 000 boeke is die afgelope maand deur skole van regoor die land, insluitend Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria, Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Laerskool Bakenkop, Hoërskool Parel Vallei, Laerskool Eversdal, Centurion Christelike Laerskool, Hoërskool Witteberg, Laerskool Swartkop, Hoërskool Centurion, Rietvlei Akademie Lyttelton, De Hoop Primary, Laerskool Skuilkrans en Hoër Meisieskool Bloemhof ingesamel.

Verskeie uitgewers, waaronder Graffiti Boeke, Fantasi Uitgewers, Lig en Duisternis Uitgewers, Penguin Random House, Reinette Lombaard en José Palmer van die gewilde Tippie-leesreeks, asook Exclusive Books en Bargain Books, het hand bygesit om die Boekebos vol te maak.

Dié nie-winsgewende skool het reeds ʼn dubbelverdieping-vraghouerklaskamer van die Vibro Bricks-maatskappy ontvang wat as die leessentrum se dop sal dien.

Benewens boeke, het die skool ʼn groot behoefte aan gemaklike meubels in die leessentrum om dit ʼn vriendelike plek vir die kinders te maak. Volgens Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum, benodig hulle ook ʼn rekenaar vir ʼn uitleenstelsel wat deur oudleerlinge beman kan word om sodoende ook vir húlle werk skep.

“Ons wil hê dat ons kinders die wêreld moet verstaan en self ʼn resep kan volg of ʼn spyskaart lees. Lees is daardie konneksie wat hulle help om hul kommunikasiebrug te oorkom. Dit laat hulle ook deel voel en gee hul selfvertroue ʼn hupstoot.”

  • Maak kontak met Amanda Fourie by [email protected] om vas te stel hoe jy tot hierdie projek kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.