Skole, ondernemings help bou aan droombiblioteek

Club21 spesialiseer in die ontwikkeling van mense met Downsindroom. (Foto: Club21-leersentrum)

Die Club 21-leersentrum vir kinders met downsindroom is danksy die ingryping van verskeie skole, uitgewers en boekwinkels een tree nader daaraan om hul droom van ʼn volwaardige biblioteek te verwesenlik.

Dít volg nadat drie van dié skool se ouers, Nicolette van Wyk, Mary-Ann Marais en Lisa du Plessis, hul nabye gemeenskap ingespan het om saam aan hierdie skool se droom te help bou.

Maroela Media het vroeër berig dat dié uiters unieke skool sedert 2012 in die opvoeding en ontwikkeling van mense met downsindroom spesialiseer en jongmense met downsindroom selfstandig wil maak om die wêreld daarbuite te betree.

Een van die vele maniere waarop hulle dit doen, is om van jongs af ʼn liefde vir lees by hul leerders te kweek en sodoende ook die wanopvatting dat kinders of mense met downsindroom swak of glad nie kan lees nie, hok te slaan.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum, ondersteun navorsing die siening dat kinders met downsindroom daarby baat om vanaf ʼn vroeë ouderdom leesonderrig te ontvang, aangesien dit hul gesproke taal én geheuevaardighede verbeter.

Hoewel sekere van dié skool se klaskamers reeds met leeshoekies toegerus is, wil die ma’s hul drie boekwurmseuns én hul ander downsindroom-skoolmaats by die skool se Centurion-kampus nog verder bemagtig met die oprig van ʼn volwaardige biblioteek.

Die fotograaf en skrywer, Albert Bredenhann, het ook sy gewig agter dié projek gegooi nadat hy dié drie ma’s in ʼn boekwinkel daaroor hoor gesels het.

Sedertdien het daar hulp uit verskillende oorde ingestroom.

Die skool het reeds ʼn dubbelverdieping-vraghouerklaskamer van die maatskappy Vibro Bricks ontvang en daar is besluit om hul nuwe biblioteek die “Boekebos” te doop.

Albert Bredenhann (Foto: Verskaf)

Hul droom is om dit met minstens 2 000 boeke oor handwerk, houtwerk, dekor, reis, die natuur en ander opbouende en opvoedkundige onderwerpe te vul.

Graffiti Boeke het kort daarna hande opgesteek, waarna Exclusive Books, Bargain Books, Fantasi Uitgewers, asook Reinette Lombaard en José Palmer van die gewilde Tippie-leesreeks besluit het om ʼn bydrae tot Club21 se boekedroom te lewer.

Maroela Media het self verskeie skole wat ʼn liefde vir lees het, waaronder Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Witteberg, Laerskool Bakenkop, Centurion Christelike Laerskool, Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria en Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria op ʼn vriendskaplike grondslag uitgedaag om ʼn boekinsameling vir Club21 te hou.

Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Witteberg en Centurion Christelike Laerskool het reeds dié uitdaging aanvaar en van hul buurskole óók uitgenooi om daaraan deel te neem.

“Die droom is dat hierdie sentrum ʼn veilige hawe word waar kinders kan kom lees, leer en ontspan terwyl hulle die vreugde van ʼn boek geniet. Daarom hoop ons dat al die skole nie net dié uitdaging sal aanvaar nie, maar op hul beurt hul buurskole ook sal uitnooi om deel te neem aan hierdie unieke boekinsameling,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

  • Maak kontak met Amanda Fourie by [email protected] om vas te stel hoe jy tot hierdie projek kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.