‘Vandag is ek ʼn mediese dokter’

Dr. Sydnise Fourie-Nel. (Foto: Verskaf)

Vir dr. Sydnise Fourie-Nel, ʼn mediese dokter van Potchefstroom in Noordwes, was dit geen maklike taak om haarself uiteindelik as mediese dokter te kwalifiseer nie.

Fourie-Nel (27) vertel omstandighede was jare lank moeilik en haar ouers het nie vaste werk of ʼn pensioenfonds gehad nie. Sy het ook nog sussies wat op skool is.

“Ek het egter verantwoordelik gevoel daarvoor om iets op te bou wat ons almal in die toekoms kan help. Ek wou ʼn voorbeeld vir my sussies stel en vir hulle wys wat moontlik is saam met die Here en met deursettingsvermoë.”

Fourie-Nel het in 2016 by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se mediese skool aansoek gedoen en later die goeie nuus ontvang dat sy keuring gekry het.

Daarna het sy geregistreer met die geld wat sy en haar man as trougeskenke ontvang het, met geen waarborg dat sy die kursus suksesvol sou kon voltooi sonder om vasgeketting te wees aan duur, rentedraende studielenings of ander skuld nie.

Sy het egter te hore gekom van die Helpende Hand Studietrust (HHST) en ʼn rentevrye studielening het as haar reddingsboei gedien. Sy het onlangs haar MBBCh-graad voltooi en praktiseer tans as mediese dokter.

“Ek het vier jaar ná matriek eers begin met my mediese studie en dit was ʼn rowwe pad tot daar – en toe ʼn rowwe pad deur die bank! Ek het eers op 27 gekwalifiseer en nou kan ek vir my man die kans gee om ook te studeer. Hy begin nou eers op 27. Dit is nooit te laat om te begin nie.

“Die pad sal heel waarskynlik moeiliker wees as vir ander en miskien langer duur, maar dit is die moeite werd. Dit sal karakter bou wat jou ʼn leeftyd sal hou as jy dit sal toelaat.”

Fourie-Nel se pad met die HHST het egter nie tot ʼn einde gekom nadat sy haar mediese graad verwerf het nie. Vandag ploeg sy terug in die gemeenskap, maak sy haar man se tersiêre studie moontlik en dra sy ook ruimhartig by tot die HHST om ook vir ander studente ʼn geleentheid te gee om te kan studeer.

“Wees getrou met wat jy het en volhard in dit wat jy wel kan doen. Werk soos vir die Here en vertrou op die Here dat die harde werk en die goeie, getroue saad wat jy saai op skool, in jou werksplek, selfs in verhoudings en in die lewe, ʼn goeie oes sal bring en dat Hy jou pad sal lei. Hy sál, as jy Hom vra, vertrou en volg. Wees geduldig vir die belofte wat Hy in jou hart plaas.”

Volgens May-li Swanepoel, fondsbestuur-intern van die HHST, lê die sleutel tot maatskaplik-ekonomiese kwessies daarin om die gemeenskap op te hef deur hoë gehalte moedertaalonderrig meer toeganklik te maak vir almal.

Die HHST het sedert 2009 al meer as 6 300 studente met rentevrye studielenings bygestaan.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter9 ·

Baie geluk en baie seën – opbouend en ‘n inspirasie.

Boerkind ·

Pragtige mens en mooi getuienis! Geen verwyte of blaam op ander omdat sy minder gegoed is/was nie – net eerlike, opregte, harde werk! Baie geluk en seënwense vorentoe!

SjN ·

Mooi jou trotse Dr, baie geluk, voorspoed word jou toegewens, weer n bewys dat dit gedoen kan word, dankie en n voorbeeld vir baie Ander.

Jaco ·

Het dié 6300 wat sedert 1994 deur die HHST gehelp is, almal werk gekry? Wat van regstellende aksie en BEE? Ek het 2 universiteitsgrade, maar weens my “verkeerde” velkleur kon ek lank nie werk kry nie. Ek het later maar gelieg op my CV. Daar het bloot gestaan “studied at university”, maar ek het stilgebly oor wat ek daar bereik het. Ironies, deur te lieg en dommer te lyk, het ek weer ordentlike werk gekry. As jy wit is in dié anti-wit SA en jy soek werk, oppas maar vir al dié wonderlike grade. Dit word vinnig saam met jou velkleur ‘n ekstra ding wat jou terughou.

Barney ·

Ek is bly vir haar en baie geluk. Iets in die tydlyn maak net nie vir my sin nie. Sy het in 2016 keuring gekry. Medies is 6 jaar studie, 2 jaar internskap en nog ‘n jaar gemeenskapsdiens – dus 9 jaar in totaal voor jy heeltemal klaar is. Van 2016 to 2021 is slegs 5 jaar. Of laat my wiskunde my nou in die steek?

ES ·

Hi maggie, medies is ‘n 5 jaar studie om te kwalifiseer vir jou graad, daarna begin jou internskap is jy volwaardig ‘n mediese dokter – jou 2 jaar gemeenskapsdiens is diens onder leiding van senior dokters. Jy word nie eers ‘n dokter na jou gemeenskapsdiens nie maar nadat jy jou kwalifikasie het en as intern begin werk.

Groetnis.

Jacobus ·

Met die verniel en brand kultuur elk dag op die nuus kanale is hierdie ‘n skitter verhaal! Woorde ontwyk ‘n mens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.