Video: Bekendes deel hul Moedersdagboodskappe vir ma’s

(Foto: Daria Obymaha/Pexels)

ʼn Ma is spesiaal, sy is dikwels die eerste een wat jy sien met ʼn koppie van jou gunsteling warmdrankie in die hand as jy opstaan en dan is sy ook die laaste gesig wat jy sien terwyl sy vir oulaas nag sê en ʼn kombers om jou vou. Sy is daar vir die goeie tye en vier dit graag saam met jou, maar sy is ook daar vir die donker dae met ʼn geduldige oor en wyse raad.

Vandag is Moedersdag en dit is die perfekte geleentheid om alles te vier wat ons dierbare moeders vir ons gedoen het en steeds doen.

Ons het ʼn paar bekendes gevra om hul opregte hartroerende boodskappe vir hul eie ma’s en Maroela Media se lesers wat self mammas is te deel.

Martin Bester, sanger en Jacaranda FM-radiopersoonlikheid:

Martin Bester in Maroela Media se radio-ateljee (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Alhoewel Martin se ma oorlede is meen hy die impak wat sy op hom as persoon gehad het leef nog vandag voort in alles wat hy doen.

“Ek sal nooit vergeet hoe my ma my altyd aangemoedig het om myself uit te druk nie. As dit kom by die manier waarop ek my hare dra, of my klere, het sy my altyd aangemoedig om selfs nog meer eksentriek te wees as wat ek was. Dit het my beslis ʼn gevoel van selfvertroue gegee om vandag te wees wie ek is en ek is steeds ongelooflik dankbaar daarvoor. Dit het my as ʼn vermaaklikheidster, kunstenaar en aanbieder beslis gehelp en ek waardeer dit so baie.

“Ek sal haar nooit vergeet nie.”

Rika Sennett, aktrise:

Rika Sennett. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“My pa het altyd gesê: ‘Elke dag is Moedersdag’, en ek dink ons moet deurgaans ons ma’s waardeer. My eie ma leef nou nie meer nie, ek is meer aan die ontvangkant van Moedersdag.”

Rika meen dit is tog lekker om op ’n spesifieke dag in die jaar spesiaal bederf te word.

“Ek hoop dit is wat sal gebeur met al jul lesers, met al die mammas wat Maroela Media lees. Dat julle bederf sal word met ontbyt in die bed of ’n bossie blomme. Dalk iets persoonliks soos ’n kaartjie wat handgemaak is. Hierdie is die dinge wat ek waardeer.

“Dit hoef nie die groot goed te wees nie, net daardie spesiale, liefdevolle gebaar van waardering vir ons ma’s.

“Ek hoop dit is wat die Maroela Media-ma’s sal ervaar.”

Steve Hofmeyr, sanger, skrywer en akteur:

Steve Hofmeyr. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Ekself stuur vir my ma die laaste vers van ‘n liriek wat ek 30 jaar gelede geskryf het:

Liewe ma

My engele staan

‘n Sirkel om jou

Hand aan hand

met vlerke wyd oop gesprei

en om jou toegevou

Jy sal onthou

Die engele van jou

Wat jy as kind aan my geleen het, gee ek terug aan jou

  • Kyk ook hier na die video met Moedersdagboodskappe van Andriëtte Norman, Pieter Koen, Su-an Müller Marais, Hugo Ludik en Sharoney aan ma’s:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.