Video: Meisie (12) help diere vir verjaardag

Améli Opperman (Foto: Verskaf)

Améli Opperman, van Annlin in Montana, het die afgelope Donderdag 12 jaar oud geword. Maar sy wou nie ʼn gewone oorslaap-partytjie soos haar susters gehad het nie – sy het haar ma gevra of sy eerder vir die dag by Wollies-diereskuiling kan gaan werk. Mense het op sosiale media daarvan te hore gekom, en hulp het ingestroom.

Melanie Opperman, Améli se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê Améli was nog altyd baie lief vir diere en dat dit haar nie verbaas het toe sy by Wollies wou gaan werk vir haar verjaardag nie.

“Améli het al vantevore daar gewerk, maar net so aan en af. Sy is verskriklik lief vir diere, en sy wil altyd diere help wat seergekry het of wat in nood is,” vertel sy.

“Sy het gesê dit sal vir haar die lekkerste partytjie wees om by die diereskuiling te help vir die dag. Sy wou selfs haar R100-sakgeld vroeër die maand hê, want sy wou vir die honde en katte kos koop,” het Opperman gesê.

“Haar liefde vir diere is ontsaglik groot, soveel so dat een van haar skoolmondelinge al oor Cilla, wat Wollies begin het, gegaan het en [die feit] dat sy self eendag ʼn kleinhoewe wil koop en rondry en verlore diere optel.”

ʼn Vriendin van Opperman het toe gesê sy het ʼn pak katpille wat Améli kan saamneem Wollies toe. Dít het Opperman die idee gegee om ʼn plasing oor die dag op Facebook te maak.

“Ek het nou gedink. Ons gaan haar [Améli] Saterdag vat om heeldag te gaan werk by Wollies. Sy het al een 8 kg-sak hondekos om saam te vat,” het sy in die Facebook-plasing gesê. “Is daar enige skenkings van dierekosse om haar te help? Sy weet nog niks hiervan [nie]. Ek dink sy gaan deur die dak spring as sy nog paar donasies ook kan saamvat!”

Améli Opperman (Foto: Verskaf)

Ná dié Facebook-plasing het donasies ingestroom.

“Ons moes omtrent heen en weer deur die hele Pretoria ry, want mense het van allerhande plekke kos geskenk. Baie mense het ook geld in my rekening betaal, waarmee ek nóg kos gekoop het,” het Opperman gesê.

Hulle het altesaam 1 173 kg hondepille, 63.8 kg katpille, ʼn klomp sakkies sagte katkos, blikkieskosse en selfs hondesjampoe ingesamel.

“Ek wil almal vreeslik bedank! Sy het ʼn fantastiese verjaardag gehad!”

Améli Opperman (Foto: Verskaf)

Opperman het ook ʼn video gemaak van Améli se reaksie toe sy haar vertel van die donasies. Amélie kon nie ophou glimlag nie, en haar verbasing was ooglopend groot.

“Dit was vir haar ʼn baie lekker verjaardag. Teen vieruur, toe ons haar gaan haal het, wou sy steeds nie huis toe gaan nie, en het gevra of sy nóg langer kan bly. Dit is vir haar ʼn groot geskenk om vir diere te kan sorg op haar verjaardag. En sy hoef toe darem nie haar eie sakgeld te gebruik het om vir die diere kos te koop nie!” het Opperman gesê.

 

Posted by Melanie Botha Opperman on Thursday, March 1, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jen ·

as almal met sulke harte kon leef soo wat jy het Ameli, sou die wereld ‘n beter plek gewees het.

well done. jy inspireer my.

BOLANDER ·

Wat ‘n wonderlike voorbeeld vir hierdie op gebreekte land en sy mense.!!!!!

Liendempers ·

Pragtig!! Iemand het gese dat n mens n samelewing se goedheid kan meet aan die manier wat hulle hulle diere behandel. Jy is so pragtige voorbeeld vir almal. Mag jy ander inspireer om net so onselfsugtig te wees. Mamma, well done! Jy maak n meisiekind met mooi hart groot.

Tali ·

Daar is ‘n ou Indiaanse legende wat lui dat wanneer mens die hiernamaals betree, jy ingewag word deur al die diere waarmee jy op jou aardse reis te make gehad het. As jy hulle met deernis en respek behandel het, begelei hulle jou na die Goeie Plek. Ek salueer jou dierbare hart, liewe kind. Mag jy duisende ander mense inspireer om so onbaatsugtig met ons dierevriende om te gaan.

Theresa B ·

Dit is super awesome. Ameli jy is ‘n groot inspirasie vir almal!! Jy sal nog die vrugte pluk van al jou mooi gebare teenoor die onskuldige diere. Hulle het regtig mensies soos jy nodig. You go girl!!

Dellie ·

Baie geluk met jou verjaarsdag Ameli. Ek weet sommer dat liewe Jesus jou uit jou sokkies gaan bless.
Baie baie dankie dat jy sowaar ‘n engel uit die Hemel is, gestuur aan ons diere kinders wat nie ‘n stem het nie……blessings blessings blessing xx

Jaco ·

Dankie vir jou goeie hartjie meisiekind, jy is sowaar n sontraaltjie in hierdie donker land! Mag jy ryklik geseen word vir jou goeie dade! Jy is STUNNING!

Landi ·

En so huil ek nou baie lekker….meisiekind mag die Here jou stukkend seen, mag JY in oorvloed ontvang, want n dogter van 12 wat so n mooi hartjie het, verdien net die beste. Die wêreld sal n baie beter en mooier plek wees as daar meer kinders soos jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.