Video: ‘Moeggesukkel’ meer as net skuiling; dit bring hoop

Jacques Papenfus, stigter van Moeggesukkel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

In die 29 kamers op die perseel van die Moeggesukkel-huis in Centurion woon daar altesame 40 mense wat van ʼn lewe op straat gered en ʼn nuwe heenkome gebied is; en elkeen het sy eie, moeilike storie van hoe hy hier beland het.

Die grondpad wat lei van die hoofhek na die kamers op die perseel – eens ʼn venue vir troues en groot konferensies – is simbolies van die lewenspad wat die tehuis se inwoners tot nou gestap het.

Jacques Papenfus, stigter van dié organisasie sonder winsbejag, sê sy passie is nog altyd om mense van ʼn lewe op straat te red.

“Ons was altyd ʼn rehabilitasiesentrum, maar nou is ons net ʼn huis vir haweloses, en veral oumense. My hart het nadergekom aan die oumense op straat en ons doel is nou om vir hulle ʼn dak oor die kop te bied saam met die beste van alles anders wat ons kan.”

By Moeggesukkel woon twee of drie mense saam in een kamer en hulle deel ʼn badkamer. Daar is ook ʼn eetsaal en die perseel het ruimte om moontlik later uit te brei.

“Ons wil vir soveel mense as moontlik liefde gee en wys dat hulle kosbaar is.”

Wanneer hulle iemand op straat ʼn nuwe heenkome hier bied, volg hulle ʼn holistiese benadering.

“Ons neem hulle na ʼn dokter of kliniek en help hulle om identiteitsdokumente te bekom. Ons probeer ook om die beste kos te gee. As jy lekker eet, dan bly jy lekker,” sê Jacques.

Hy vertel dathy gereeld op ʼn Sondagmiddag deur byvoorbeeld Pretoria of die Oos-Rand ry. Daar dek hy ʼn tafeltjie langs die pad waar hy aansit saam met iemand wat heeltemal hoop verloor het.

“Ek bestee tyd saam met hulle en gee vir ʼn oomblik ʼn blik op hulle lewe. Daardeur sê ek alles gaan oukei wees en dat hulle moet besef hulle is kosbaar en spesiaal.”

Tog het die lewe sommige van dié mense soveel houe gegee, dat hulle nie altyd bereid is om met die eerste uitnodiging saam na Moeggesukkel te gaan nie.

“Dan moet jy ʼn verhouding met hulle bou. Die een oom wou eers nie saamry nie en toe ek hom die volgende dag weer gaan soek, het hy vir my gesê dit het die vorige genag gereën en dit het hom laat dink hy moes maar eerder saam met my gegaan het,” glimlag Jacques.

Oom Thinus, een van die inwoners van Moeggesukkel, vertel hy het destyds sy werk verloor en die pakket wat hy ontvang het, het opgedroog. Hy is in ʼn rolstoel gekluister nadat een van sy bene afgesit is.

“Ek kon nie meer betaal vir die plek waar ek gebly het nie en ek het geen keuse gehad as om op straat te gaan bly nie. Dit is waar Jacques-hulle my gekry het. Hulle het my hier na Moeggesukkel gebring.”

Oom Thinus vertel dat hy nie in die goedheid van die mensdom geglo het tot Jacques oor sy pad gekom het nie. Hy het ook weer sy verhouding met die Here herstel nadat hy ʼn inwoner hier geword het.

“Ek is ʼn hele ander mens. Hulle het my lewe baie verander. Al wat ek kan sê, is ‘dankie’.”

Tannie Marietjie, nog ʼn inwoner, vertel dat sy 18 jaar en drie maande lank op straat gewoon het voordat Jacques haar die kans op ʼn beter lewe gebied het.

“Dit was ook lekker [om op straat te bly]. Dit was my huis. Jy raak alles gewoond. ʼn Sissie kan nie op straat bly nie, hy oorleef dit nie.”

Hier word oud en jonk verwelkom en omarm. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Sy het ook groot dankbaarheid teenoor Jacques uitgespreek vir die manier waarop hy haar lewe ten goede help verander het. “Dit is nou vir my ʼn familie. Ek het nou ʼn huisgesin en mense met wie ek kan kommunikeer.

“Op straat wil mense niks met jou te doen hê nie; mense dink jy is rubbish. Maar ek het dit oorleef.”

  • Om ʼn skenking aan Moeggesukkel te maak, besoek die webwerf vir bankbesonderhede en ander maniere om by te dra.

Maroela Media het onlangs besoek afgelê aan Moeggesukkel. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Die kerk? Huh? Dis ‘n persoon se medemenslikheid in aksie. Dis al.

WILLEM ·

Wat ‘n wonderlike gebaar Jacques !! Baie dankie dat daar iemand in ons land is wat nog ‘n hart het om veral oumense te help en te voed. Dis ‘n positiewe werklikheid te midde van al die onheil wat heers in ons land. Die Here is al die pad met jou en die inwoners. Gaan so voort.

Joanita ·

My hart is so bly oor wat Jacques doen. Ek het sy pa, Henfré, op Frankfort geken en hom weer by Kovsies raakgeloop. Fantastiese, joviale en hartlike ou, en sy seun lyk nie net na hom nie, maar besit ook die deernis en goedheid wat sy pa gehad het.

Ann ·

Ek volg Jacques se storie al vandat ek kan onthou. Hulle het in Harrismith gewoon en ek onthou nog die berig van hulle ongeluk soos gister. Sy verhaal is ook in my boek opgeteken en ek glo Moeggesukkel sal nog baie lank aktief bly. Goeie werk, ou vriend. Ek is trots op jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.