Video: Voortrekkermonument is gasheer vir 4×4-buitelugfees

(Foto: Maroela Media)

Die Tiger Wheel & Tyre SA 4×4 Buitelugskou was nog maar net een dag aan die gang en duisende mense het reeds op die Voortrekkermonumentterrein toegesak op soek na die nuutste kamp- en buitelewe-tegnologie.

Hierdie fees, wat tot Sondag 4 September duur, lok duisende buitelug-, jag- en kampentoesiaste. Met stalletjies en besienswaardighede vir oud en jonk, is daar iets om elkeen in die gesin te vermaak.

Marius Opperman, die feesorganiseerder, het gesê dié fees is reeds ’n reusesukses. Met oor die 200 uitstallers het lede van die publiek baie om te sien en te ervaar.

“Die Voortrekkermonument se terrein is baie lekker om te gebruik en pas mooi in by die buitelug-ekspotema. Alles is bo verwagting.”

Louis van Niekerk, die 4×4-projekbestuurder by Tiger Wheel & Tyre, meen ook die fees verloop suksesvol en is opgewonde oor die nuwe rigting wat Tiger Wheel & Tyre inslaan met sy nuwe 4×4-produktereeks wat nou landwyd beskikbaar is.

Charné Grabie, Arno Jordaan, Nicholas Louw en Leanie May is maar net ’n paar van die kunstenaars wat die Hankook-verhoog betree om die skare te vermaak.

Daar is talle unieke uitstallings en vermaak vir oud en jonk. ’n Pretpark met ’n mallemeule en allerhande tuimeldraai-rondomtalies kry nie kans om stil te staan nie. Wilrich Marais (5) geniet net vet pret op sy witperd in die mallemeule, terwyl Lategan Bredenkamp (10) op sy beurt ’n unieke avontuur gehad het – om vir die eerste keer in sy lewe op ’n kameel se rug te ry.

Ander unieke besienswaardighede is die reusagtige “monster-trokke”, die kykNET-snuffelmark, asook ’n groot uitstalling van kampeer-woonwaens en ander 4×4-kampbybehore.

“Dit is wonderlik om te sien hoe oud en jonk op die VTM-terrein tuis voel by die kultuurtuiste.

“’n Skou soos dié bring nie net die gemeenskap bymekaar nie, maar bevorder ook Afrikaanse musiek, is opbouend vir die ekonomie en ondersteun plaaslike ondernemings,” het Marné Scholtz, mediabeampte van die Voortrekkermonument, gesê.

Kyk hier na Saterdag se pret by die Voortrekkermonument:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.