Voetpad na die toekoms

sonsopkoms-pad-toekoms-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Lizelle van der Klashorst

Om geroepe met passie en gedrewenheid te wees is dikwels iets wat ʼn mens spontaan elke dag die moed gee om die voetpad met oortuiging te loop. Tog moet ʼn mens soms ʼn wyle vertoef en met bewustheid waarneem waarop om volgende die fokus te verskerp. Op dit wat vorentoe saak maak en gedoen moet word. Dus: Wat beteken dit spesifiek om geroepe te wees in hierdie spesifieke tyd en spasie en binne die visie en doelstellings van die Studietrust en die span ?

Ek word dikwels gekonfronteer om voor die uitdagings maar ook die ongelooflike geleenthede van ons tyd stil te staan. Baie spesifiek word ʼn mens getref deur die groot verantwoordelikheid om hierdie uitdagings en geleenthede struktuur te gee, met die bedoeling dat dit ʼn voetpad en kompas word wat die toekoms rig. Hierdie uitdagings en geleenthede is nie net relevant vir die groei en volhoubare prestasie van die Studietrust nie, maar ook relevant vir al ons rolspelers binne die ekosisteem en waardeketting van die Studietrust.

Ek gebruik die simboliek van ʼn “voetpad”. Vir die afgelope 15 jaar reeds is daar met die roeping, goedgunstigheid en harde werk van verskeie mense, ʼn voetpad van hoop stadig maar seker uitgetrap, tree vir tree vir ʼn toekoms wat baie jongmense se lewens onherroeplik verander het. Wat hierdie voetpad demonstreer is nie net die vasbyt en harde werk oor ʼn periode van baie verandering nie, maar dit het ook verantwoordelikheid met bepaalde kundigheid, vaardighede, kapasiteit, hulpbronne en kosbare verhoudings gekos het om hierdie mylpaal te kan vier. Dit is nou van groot belang dat ons nie op ons louere rus nie. Ons moet met volgehoue dryf sterker handevat met al ons rolspelers in ons waardeketting, om sodoende die uitdagings en geleenthede tot ons voordeel te gebruik om sterker te bly verskil maak met volhoubare prestasie. Die boodskap is dat ʼn voetpad nie oornag ʼn snelweg word nie. ʼn Snelweg word gebou met spesiale kundigheid en moet ook konstant onderhou word.

Sosiale, ekonomiese en maatskaplike welstand in ons land en gemeenskappe is onlosmaaklik gekoppel aan sukses en volhoubare prestasie. Sukses kom met verantwoordelikheid en meer so om te verstaan en te doen wat van ons vereis word, belyn met ons visie, doelstellings en rolspelerbelange binne die raamwerk van gemeenskaplike doelstellings. Sukses het ook ʼn prys, − in konteks van sekere kwaliteitstandaarde wat gehandhaaf moet word. Volhoubaarheid word egter ook met konstante verandering en tye van onstabiliteit gekonfronteer. Kritiese vaardighede en kwalifikasies word benodig wat die nodige kapasiteitbehoeftes in konteks van konstante verandering en kwaliteitstandaarde in die ekonomie kan adresseer. Wanneer hierdie vaardighede en kapasiteit beskikbaar is, word die fondasies van organisasies, besighede en maatskaplike strukture versterk. Sterk fondasies verseker sukses en volhoubare prestasie.

Lizelle van der Klashorst van die Helpende Hand Studietrust. (Foto: Reint Dykema)

Deur middel van studie, opleiding, opvoeding en ontwikkeling, kan ons toegerus word vir die toekoms. Deur te fokus op die studierigtings en kursusse wat die relevante en nodige vaardighede en kapasiteit skep wat die uitdagings maar ook die geleenthede van ons tyd  kan aanspreek, kan ons aan die behoefte vir kwaliteit, aanpasbaarheid en volhoubare prestasie voldoen. Vaardighede wat krities benodig word sluit tegniese, besigheid, leierskap en interpersoonlike vaardighede in om sosiale, ekonomiese en maatskaplike welstand te verseker. Probleemoplossing, kreatiwiteit, kommunikasie, onderhandelingsvermoë en veerkragtigheid staan bo aan die lysie van vaardighede wat nodig is vir ons tyd. Daar is ook ʼn gesonde spanning tussen “ek kan self” en “ek kan meer as ek saam met ander handevat”, en deel van ʼn span of gemeenskap wees met ʼn samehorigheid en ʼn gedeelde waardesisteem. Leierskapvaardighede vereis dat ons beide kan toepas, elkeen relevant soos die omstandighede, geleentheid of proses dit vereis.

Wat beteken sukses en volhoubare prestasie in konteks van die Studietrust? Die Studietrust-span is verbind tot sukses as deel van die visie: “Sewe generasies van hoop gegrond in studie”, wat die suksesvolle volhoubaarheid beginsel uitbeeld. Die Studietrust stel graag die voorbeeld om konstante groei en verandering met verantwoordelikheid ook vir die Studietrust so te bestuur deur tegniese en leierskapvaardighede te ontwikkel, en sodoende kapasiteit te skep vir volhoubare prestasie. Om waarde toe te voeg d.m.v. die studieleningplatform en sodoende die ekonomiese en interpersoonlike vaardighede en kapasiteit te help skep vir die ekonomie en welstand in ons gemeenskappe, is vir ons ʼn kosbare nalatenskap.

Verhoudings en handevat met al ons rolspelers van donateurs, instellings, instansies, medewerkers in ons gemeenskappe en studente, is vir ons van onskatbare waarde, as deel van ons volsirkel-model. Ek wil die volsirkel-model verder neem deur elke donateur en studiefondskomitee te vra om te besin oor die kwalifikasies en vaardighede wat benodig word om ons gemeenskappe te dien, en waardetoevoeging tot die ekonomie en die behoeftes van ons tyd relevant te kan adresseer. Werkskepping word van kardinale belang as deel van hierdie gesprekke om die kundigheid en vaardighede wat deur hierdie proses ontgin en geskep is, tot vrugbare kapasiteit te kan terugploeg in die ekonomie en om ons gemeenskappe vlerke te gee.

Psalm 24:1 – “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.”

Die Studietrust-span het erns met rentmeesterskap, die verhoudings, vertroue, gawe van kennis, donasies en ander hulpbronne aan ons toevertrou. Daar is nie roem in sukses nie. Daar is net groot dankbaarheid met ʼn diep verantwoordelikheidsbesef. Die Studietrust-span vier vandag met dankbaarheid die vooruitgang om ʼn verskil te maak saam met almal wat ons ondersteun met hart, hande, harde werk en visie.

Dankie aan elke individu, donateur, leier en medewerker wat saam met ons die voetpad na die toekoms loop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.