Vorentoe, op gister se spore van ’n oudsoldaat

Lede van 2 SAI se mortierpeloton poseer in 1971 vir ʼn foto op ʼn ou pantserkar by die Swartkoppies-skietbaan. (Foto verskaf)

Deur Jan Bezuidenhout

ʼn Oudsoldaat se herinneringe en drome oor ʼn bykans vergete era en die werklikheid van vandag.

Vyf dekades is ʼn lang wag om weer gister se spore te vat, terug na Walvisbaai en 1971, waar jy diensplig gedoen het. Daardie jaar toe die Namib ongemerk in jou bloed ingekruip het.

ʼn Warboel gedagtes maal deur my kop terwyl ek en my vrou, Jo-Anne, op ʼn vlug van Kaapstad oor die uitgestrekte Namib na die Rooikop-lughawe buite Walvisbaai onderweg is. Ons gaan ʼn weermag-reünie op dié kusdorp bywoon.

Oor die 40 jaar van ons getroude lewe het sy geduldig na my weermagstories geluister. Ons sou ééndag saam Walvisbaai toe gaan, maar my beplanning het só ʼn besoek gepypkan: Dalk was ek ongeneë om terug te keer na dié plek wat 51 jaar gelede ʼn kerf in my en duisende ander dienspligtiges se laat-tienerjare gemaak het?

My herinneringe aan die woestyn en die dorp was die bleekgeel wat jou oral omgeef, die mis uit die koue Atlantiese Oseaan wat soos ʼn spook oor die Namib kruip, die skerp vroegdag-reuke ná swaeluitbarstings in die see, die sagte gesuis van swerms flaminke wat snags na die strandmeer vlieg, die brakwater wat jou nóg dorser maak as jy oor duine en tussen duine op die harde kalkgrond met R1-geweer en mortiere rondhardloop.

Van die oud-lede van 2 SAI by Duin 7 op die reünie in 2022. (Foto verskaf)

Ek dink aan verdwene makkers, die ingrepe van die militêre lewe, die streng dissipline, die inspeksies, die swaarkry, die rondhol met pale op ons skouers in die duine langs die basis, die inoefen van vuur-en-beweging totdat jy soos ʼn masjien reageer en optree, die bataljonparades op Vrydae waar die mis soms só dig was dat jy nie die offisiere voor kon sien nie en net die uitgebulderde bevele kon hoor, die reuk van mortierbomme wat met volle ladings op die Swartkoppies-skietbaan in die woestyn afgevuur is wat met soveel impak ontbrand dat dit die sand om die stelling gelyk skud en snot uit jou neus laat spat, die welkome pakkie met lekkernye van jou ouers uit die Republiek, die verlange huis toe, die brief van ʼn matrieknooi wat koebaai skryf, die betaling van 62 sent per dag per troep waarmee jy tandepasta, Sunlightseep, skoenpolitoer, ʼn Coke en ʼn vleispastei kon koop en ʼn paar wakkerskrik-drome oor ons hoogs bedonnerde maar formidabele soldaat, sersant Rooies de Jager, met sy wilde snor, wat ons in gelid oor duine gejaag en gesorg het dat ons superfiks was en totdat ons die verskeidenheid van ons infanteriewapens met toe oë kon hanteer. Hy wat jou later jare soms in ʼn droom bekruip en jou net in stilte aanstaar – as jy wakker skrik, is dit net jy en jou slapende vrou langs jou.

Ek dink aan die lang nag-ure van wagstaan, die woestynkoue, die gevitrioelde blou koffie in die waghuis, die troepemenasie waar ons dienspligtiges uit ons varkpanne geëet het (ʼn weermag marsjeer mos op sy maag) die “gippo guts” (maagaandoenings) wat selfs deur die hele bataljon kon bruis, die klakklak-klakklak van honderde troepe wat hul lepels in ʼn simfonie op die bliktafels in die menasie slaan om die opwinding van die komende min-dae trein na te boots.

En die vele lekkerlag, soos vir die peloton van lammes, siekes en dooies – dié ouens vol werklike en gewaande skete – wat op ligtediens was. Dié peloton is oral in die basis rondgemarsjeer vir ligte werkies terwyl hulle deurgaans ʼn ambulanssirene moes naboots: Hieeho-hieeho! En dié troepie wat dit sou waag om een dag nie te stort nie. Sy makkers sal letterlik snuf in die neus kry, op hom toesak en hom al skoppende en spartelend storte toe dra om hom met klipharde vloerborsels blinknerf te skrop totdat hy silwerskoon en rooi is en na karbol ruik!

Ek onthou toe ons troepetrein destyds ná vier lang dae vanaf Grahamstad op die Walvisbaai-stasie ingestoom het. Dit was te midde van ʼn sandstorm – die Oosweer. Die woestyngeel-Bedfords wat ons op die stasie ingewag het, was nóg ʼn skok vir ons sat-van-treinry-troepe. So anders as die bekende olyfgroen van alle weermagvoertuie tydens basiese opleiding. Die drywers van die geel Bedfords het stofbrille gedra. Dit was asof ons op Mars beland het! Later sou ek ook uitvind dat elke stukkie metaal in jou militêre toerusting oornag sal roes as jy dit nie daagliks met ʼn stukkie “two-by-four”-lappie en geweerolie vertroetel nie.

Walvisbaai en die Namib was so ʼn anderster wêreld. Hoe sou dit ek en Jo-Anne ontvang? Dié besoek is aangelê deur oud-lede van 2 SAI Bataljon Groep wat ʼn reünie van dié trotse weermag-eenheid in laat April 2022 op dié kusdorp gereël het. Tientalle oud-lede van verskillende innames het die drie dae lange reünie bygewoon. Oud-dienspligtiges plus ʼn goeie skeut eertydse Staande Mag-lede van alle range. Met vroue, metgeselle en kinders. Elkeen met stories om te vertel, om te luister, om hopelik ʼn oud-makker raak te loop en lekker te kuier.

Die reünie was ʼn hoogtepunt: Ons oud-makkers is met ope arms verwelkom. Ons het almal min of meer dieselfde ervarings en herinneringe gehad en die “corps de esprit” het jou hart met trots laat pomp. Veral toe ons onder leiding van ʼn vorige bevelvoerder en ʼn RSM op dag twee vir ʼn parade aan die voet van die berugte Duin 7 kon aantree. Eie aan sy aard, het RSM Dirk Prins daarna beveel dat ons drie ure se strafdril moet doen omdat ons nie op standaard is nie! Daarna kon diegene wat daarvoor kans gesien het die duin aanpak. Wees verseker, ons is handeviervoet dié gewraakte duin uit. Jo-Anne het Duin 7 neffens my uitgeklouter en ons het saam met makkers op die kruin gesit, na ons asems gesnak, ons tam bene en brandende longe laat rus en die Namib doer ver onder beskou. En gedroom. Elke lid is met ʼn botteltjie sand van Duin 7 as kosbare aandenking terug huis toe.

Walvisbaai het sedert die 1971 baie uitgebrei: Waar die 2 SAI-basis langs die dorp gepryk het en dalk meer as ʼn duisend troepe in “bungalows” kon huisves, was nou ʼn woonbuurt. Net die menasie het staande gebly en dit is nou die NG Kerk Meersig.

Die reünie is juis die Sondagoggend afgesluit tydens ʼn erediens in die NG-gemeente Meersig. Ds. Kobus Venter het gesê dié kerkgebou was eens ʼn plek waar die liggaam gevoed is – nou kry ʼn mens kos vir jou siel daarin. Oud-soldate wat Walvisbaai besoek, maak graag ʼn draai by die kerkgebou.

Destyds, in 1971, het my pa gevra hoekom ek, ʼn Nataller, só ver van ons huis op Dannhauser na Walvisbaai toe moes gaan vir diensplig. “Ek moet, Pa,” was my weermag-antwoord. Dit was die plig van diensplig, dis al wat ek geweet het. (“Ons sal antwoord op jou roepstem”.) En toe, binne twee maande is ek nóg verder, na die anderkant van ons wêreld, vir grensdiens in die operasionele gebied. (“Ons sal offer wat jy vra.”) Ons tienerseuns wat soldaat-manne gemaak is.

Ons het met briewe kontak gehou. Pa, ʼn mynwerker, het in ʼn formidabele briefskrywer ontpop. Ma was ʼn onderwyseres wat die pen maklik opgeneem het. Ons troepe moes elke week ʼn brief huis toe skryf en hul briewe aan my het soos klokslag opgedaag en is op posparade, die heerlikste parade in die weermag, uitgedeel! Ons korporaal het gewoonlik dié taak gedoen. As hy enige snuf van parfuum aan ʼn brief kry, moes jy eers opstote doen om dit te kon kry onder geterg van jou makkers! Soms het jy ʼn brief aan ʼn verwese brieflose makker geleen. Ons sou enigiets doen om ʼn makker by te staan.

Jan Bezuidenhout en sy vrou Jo-Anne in die Meersig-kerkgebou. (Foto verskaf)

Ewenwel, ná die heuglike reünie het ek en Jo-Anne ʼn 4×4-bakkie gehuur en noordwaarts gereis om dié deel van Namibië te verken, saans kamp op te slaan en via Etosha na Walvisbaai terug te keer.

ʼn Oud-makker het ons afgeraai om plekke in die Caprivi te besoek waar ek verskeie driemaande-kampe ná 1971 gedoen het. Dit het glo onherkenbaar verander.

Die ver afstande tussen dorpe in Namibië is welbekend, maar ons was nogtans onkant betrap. Van Walvisbaai tot Opuwo – sowat 700 km – was ʼn uitsonderlike rit oor vier dae. Ons, die bakkie, die grondpad en talle stilhouplekke langs die roete. Dis ʼn besonder mooi maar eensame, enorme landskap. Behalwe vir Uis, is slegs hier en daar klein dorpies – eerder gehuggies. Verder is min lewe langs dié pad, so anders as die plase en dorpies in die RSA.

Terwyl ons so gery het, het ons gesels oor die mooi grondpaaie wat duidelik gereeld in stand gehou word (van dié grondpaaie ry veel lekkerder as van die sekondêre teerpaaie in die Vrystaat) die pragtige natuurskoon, die wild wat ons soms langs die pad gesien het. Maar min mense. Nouja, die bevolkingsdigtheid in Namibië is twee mense per vierkante kilometer, een van die lande met die ylste bevolking ter wêreld.

Namibiërs het ons deur die bank getref as vriendelike mense: Ons is gewoonlik hartlik in Afrikaans gegroet en is meestal beleefd as oom en tannie aangespreek. Die Namibiese gasvryheid het ons ook verras. By twee van die ruskampe waar ons gekampeer het, het die ontvangsdames vir ons die gebruik van ʼn kamer met stort en handdoeke aangebied – gratis. Jy voel tuis.

Toe begin ek wonder: Hier, waar die groot niks is: Is dit waarvoor oorlog gemaak is? Vir hierdie ooptes en die leegheid? Met al die gebeure, opofferings, lewensverlies, verdriet en verhale oor die grensoorlog?

Die NG Kerk Meersig, Walvisbaai. Dié kerkgebou was die toentertydse diensplig-menasie. (Foto verskaf)

By die reünie en op die ver paaie van Namibië vind ek die antwoord op my pa se vraag van 1971: Dis te laat om dit vir Pa te vertel, maar Pa was reg. Was dit nodig? Nee. Maar, veral 2 SAI Bn Gp op Walvisbaai het van my ʼn beter mens gemaak, Pa. Ek sou graag my en Jo-Anne se twee seuns ook daarheen wou stuur.

As ek nou terugkyk, sien ek Namibië was goed vir my. Ek kon uiteindelik antwoorde kry en vrede maak met dié pragtige land wat ek van 1971 tot die einde van 1979 nét in ʼn weermaguniform en met ʼn geweer in die hand besoek het, soos duisende makkers. Ek was nie in kontaksituasies met die vyand nie en het nie met medaljes vir dapperheid teruggekeer nie. Maar jy sien, hoor, weet en lees daarvan, vandag nog.

Ek en Jo-Anne voel ʼn sterk band met Namibië en sy mense. Dié mense wat ons ontmoet of raakgeloop het, dra nie ʼn wrok oor hoe ons lyk, of oor die Afrikaans wat ons praat nie. Maar weet dit: As jy daar is, kruip die Namib-sand saggies in jou are in – soos ʼn uurglas wat vol raak. Dit hou jare der jare aan.

Jan en Jo-Anne op ʼn duin naby Swakopmund. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Dis nou ‘n lekker lees… Dankie vir julle onbaatsugtige diens vir ons. In 1971 is ek maar eers in Julie gebore.

Peach ·

Ja nee, dankie vir die gevleuelde woorde….. was nou inderdaad lekker lees stof.

Adriaan ·

Sommer dadelik word ek maande terug geneem na die reunie en ook baie jare na ons diensplig. Jan, en Jo-Anne julle is so gawe mense en ons sou graag n rukkie langer wou kuier. Elkje woord hier kon ek net sowel self geskryf het. Die woestyn wat so diep in jou hart gekruip het, die jare wat ek nie kon terugkeer, Die unieke gawe mense in die land, Die netheid- bittermin papiere en vuil op die strate.

Dankie weereens vir die herinneringe.

Schalk ·

Baie dankie aan die mooi onthou wat jy ons weer herinder het. Ek was 11 jaar later diensplig en natuurlik operasionele tyd bo in Suidwes Afrika. OIns raak minder maar die onthou van ware makkers dra ons deur die stil ure van die nag.

Henri ·

Baie dankie Jan vir hierdie wonderlike blik op díé deel van ons geskiedenis! Ek is ‘n ’76 baba, en het die bosoorlog op TV gaande geslaan. Ek was te jonk om ‘grens’ toe te gaan, en weet nie of ek spyt of bly moet wees nie.

SjN ·

Baie goed beskryf Jan, lekker swaar tye gewees, was self daar in 1983, Namibie bly maar mooi op sy manier, ek het verlede maand daar gaan kuier, Swakopmund en omgewing vanaf Windhoek se kant, sal graag die Grootfontein/Ondangwa/Tsumeb, ou weermag dae plekke later wil gaan besoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.