Vroue in Beweging: Voorbereiding om te trou

trouring-bybel-pexels.jpg

(Foto: Pixabay/Pexels)

Die oomblik waarop jy “ja” sê vir die liefde van jou lewe, is een van die mees intieme en betekenisvolle oomblikke in ʼn vrou se lewe. Maar, om seker te wees dat hierdie man voor jou deur God gestuur is, en om die storms van die lewe met sekerheid te trotseer, is dit noodsaaklik om ʼn rotsvaste fondament in Christus te vestig.

Die vestiging van ʼn huweliksfondament in Jesus is ʼn reis wat jy saam met jou verloofde stap, ʼn pad wat langs die Here loop. Hierdie geestelike voorbereidingsproses is van sleutelbelang vir die sukses en vervulling van ʼn huwelik. Dit is nie net ʼn tyd van troubeplanning nie, maar ʼn tyd van diep selfontdekking, innerlike vrede en waardering vir die heilige verbintenis wat jy aangaan.

Lourens Venter van die Begrond Instituut wys daarop dat ware liefde, volgens Goddelike beginsels, nie net ʼn emosionele verbintenis is nie, maar ʼn offerande van agapé-liefde – die liefde wat Jesus Christus getoon het toe Hy Homself opgeoffer het vir ons sondes. Hierdie Goddelike liefde is die ware bron van vervulling. Lees gerus Lourens Venter se artikel hier.

Die aanloop tot ʼn huwelik is nie net ʼn tyd van beplanning en voorbereiding nie, maar ook ʼn tyd van geestelike groei. Tydens hierdie innerlike reis vind daar ʼn verdieping van geloof, ʼn dieper begrip van self, en ʼn groei in persoonlike en geestelike volwassenheid plaas.

Ek onthou die dae toe ek en my man geestelike voorbereiding gesoek het by ons predikant in Secunda. Dit was ʼn tyd waarin ons Jesus genooi het om ʼn integrale deel van ons huwelik te wees, ongeag die uitdagings wat mag kom. Jesus was altyd daar – in hoogtes en laagtes.

Terwyl die voorbereiding vir die huwelik dikwels gefokus is op fisieke reëlings, is daar ʼn dieper laag wat dikwels oor die hoof gesien word – geestelike voorbereiding. Hierdie proses van innerlike groei, versterking van geloof en selfontdekking dien as ʼn waardevolle bousteen vir ʼn volhoubare en vervullende huwelik.

Die Vroue in Beweging erken die betekenis van hierdie geestelike voorbereiding en die invloed daarvan op ʼn huwelik. Ek onthou my eie tyd van geestelike voorbereiding en hoe dit ons huwelik versterk het deur die fases van die lewe.

paartjie-koffie-priscilla-du-preez-unsplash.jpg

(Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

Om saam huis op te sit

Tydens hierdie geestelike voorbereiding is daar soveel ander aspekte waaraan daar ook aandag gegee moet word. Vir die meeste paartjies is daar ook die finansiële druk van ʼn troue wat gereël moet word, en dan natuurlik die nesskoppery. Dit op sigself bring baie uitgawes mee. In hierdie konteks speel Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel ʼn groot rol. Jy kan enigiets vir jou nuwe plekkie hier vind en deur dit te doen, maak jy nog ʼn verskil in behoeftige gesinne se lewe ook.

Ons Winkel, as skenkingswinkels, ontvang tweedehandse goedere en verkoop dit teen bekostigbare pryse aan lede van die publiek. Hierdie inisiatief is nie net ʼn manier om herbruikbare items ʼn nuwe lewe te gee nie, maar ook om geld te genereer vir maatskaplike hulp, werkgeleenthede en studiefondse.

 paartjie-verhuis-hiveboxx-unsplash.jpg

(Foto: Unsplash/Hiveboxx)

Elke Ons Winkel is nie net ʼn plek om te koop nie, maar ʼn gemeenskap waar mense hul oortollige items kan skenk om ander te help. Hierdie items dra nie net materiële waarde nie; hulle dra by tot ʼn groter doel in die gemeenskap. As jy jou huis wil voorberei vir die huwelik, is hierdie winkels ʼn bron van winskopies vir meubels, kombuisware en ander items.

Die Vroue in Beweging nooi elke toekomstige bruid uit om te kuier by die naaste Ons Winkel. Hier kan jy nie net iets vind om jou nuwe tuiste mee te vul nie, maar ook ʼn bydrae maak tot ʼn goeie doel en die gemeenskap.

Die aanloop tot ʼn huwelik is ʼn reis van liefde, groei en voorbereiding. Mag hierdie pad na die huwelik nie net ʼn fisieke reis wees nie, maar ook ʼn geestelike reis wat julle rotsvas in Christus verenig.

Besoek gerus www.onswinkel.co.za om te sien waar is die naaste winkel aan jou.

  • Geskryf deur Rene Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en voorsitter van Vroue in Beweging.
  • Kyk gerus die video hier waar Rene Roux, voorsitter van Vroue in Beweging, gesels met Marne du Plessis wat onlangs verloof geraak het, deel was van die TV-reeks Boer soek ʼn vrou, en nou aan die hoof van bemarking staan by die Ons Winkel-groep van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.