Vroue in Beweging: Geestelike voorbereiding vir trou

 vrou-see-summerstock.jpg

Foto: pixabay.com/summerstock.jpg

In Genesis 2 lees ons hoe God vir Adam, terwyl hy slaap, die vrou van sy drome maak. As hy wakker word, sing hy ʼn loflied van hierdie pragtige mens wat God spesiaal uit hom voortgebring het om vir hom ʼn hulp te wees, een wat by hom pas.

Deur die Bybel vind ons baie plekke waar hierdie loflied van die huwelik wat God ingestel het, besing word. Die bekendste is natuurlik die hoogste lied. Die lied van die liedere, of soos ons dit ken: Hooglied.

Moenie ophou droom

In Hooglied 3 word aan ons beskryf hoe die bruid ook snags op haar bed rondrol en verlang na haar beminde. Sy droom oor daardie groot dag, met daardie spesiale mens wat God aan haar gee.

Dit laat ons ook wonder oor ons geestelike voorbereiding vir daardie groot oomblik. Hoewel jou huweliksdag so ʼn groot gebeurtenis is, moet jy in gedagte hou dat die lewe aangaan na jou sprokiesdag.

Baie maal leef jy jouself so in hierdie sprokiesverhaal van jou troudag dat jou lewe na die troue skoon teleurstellend kan wees. Jou drome word heeltemal bederf omdat jou verwagtinge onredelik was. Ander word ontnugter omdat hulle gedink het dat die huwelik ʼn rehabilitasie sal wees van al die slegte gewoontes.

blomme-veld-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Soek en jy sal vind

Net soos die bruid in Hooglied, mag ons en moet ons droom oor daardie groot dag. Maar om net te droom, bly net ʼn droom. Jy moet jou drome najaag. Jy moet soek, net soos hierdie bruid. Sy soek na haar geliefde. En sy hou nie op soek nie.

Hierdie soeke is nie net fisiek nie, maar veral geestelik. Jy moet ook by die voete van die Vader soek na jou geliefde. Jy moet vir God vra, net soos Hy aan Adam, sy droomvrou gegee het, dat Hy ook aan jou die regte man sal gee. So vind die geestelik soekende bruid en bruidegom mekaar in Christus.

Vlam van die Here

Hooglied 8 beskryf vir ons die onafskeibare band tussen bruid en bruidegom. ʼn Band wat brand soos vuur. Hierdie vuurvlam kan nie geblus word nie, want die ywer daarvan is sterker as die dood. Hierdie vuur is die liefde. Die liefde van God is die geestelike band wat man en vrou aan mekaar verbind.

 trouring-bybel-pexels.jpg

Foto: pixabay.com/pexels.jpg

Liefde sonder God is geen liefde nie. Ware liefde is alleen in God te vind omdat God self liefde is. Daardie liefde is ʼn ander soort liefde as vriendskapsliefde (filia) of die sensuele liefde (eros). Dit is die Goddelike liefde van offervaardigheid (Agapé). Dit is die liefde wat ons leer ken in Jesus Christus, wat Homself gee as offer vir ons sondes sodat ons God ons Vader mag noem.

Hy is die Bruidegom wat sy lewe aflê vir sy bruid. So ʼn liefde is onbeskryflik. Dit is die uiterste daad van selfopoffering. ʼn Liefde tot die dood toe. Meer nog, ʼn liefde wat selfs die dood nie kan skei nie. Want deur die dood, bring hierdie Bruidegom lewe sodat ons in Hom kan lewe en in Hom kan liefhê.

Die vervulling van God se liefde is deur Jesus Christus sodat ons mekaar kan liefhê. En dat ons God bo dit alles sal liefhê. Dit is daardie liefdesverhouding tot God wat ons ook leer ken as ʼn huwelik. Christus is die bruidegom en die kerk is die bruid.

Huwelik as beeld en voorbeeld

 verliefde-paartjie-pexels.jpg

Foto: pixabay.com/pexels.jpg

So geweldig heilig is die huwelik vir God dat Hy ons verhouding met Hom op hierdie wyse beskryf. In Efesiërs 5 leer ons verder: “manne julle moet julle eie vroue liefhê, soos Christus die gemeente liefhet.” Daar is geen plek om van ander mans te droom in die huwelik nie, maar slegs die man wat God aan jou gee. Daarom moet jy jou man alleen liefhê want hy is die man van jou drome wat God na jou gelei het.

Verder staan daar: “vroue julle moet julle mans onderdanig wees, soos die gemeente aan Christus onderdanig is.” Hierdie onderdanig bedoel nie slaaf wees nie, maar hulp, ʼn steunpilaar; jy moet jou man se hulp wees, die een wat by hom pas want hy is die man van jou drome wat God na jou gelei het.

So is die verhouding van julle huwelik ʼn intieme ervaring van Christus se liefde vir ons en ʼn weerspieëling van ons liefde vir Hom. Soos wat die liefde vir mekaar in die huwelik groei, so moet jou huwelik in verhouding met God groei.

Elke dag moet die lig van God se Woord ʼn lamp wees vir julle voet, en ʼn lig vir julle pad. Ons moet elke dag aan ons geestelike huwelik werk, dan sal ons aardse huwelik floreer.

bruid-pixabay-cihanu44.jpg

Foto: pixabay.com/cihanu44.jpg

Hoe lyk jou trourok

In Openbaring 19:8 word die bruid se trourok, die fyn en rein wit linne, beskryf as die regverdige dade van die gelowiges. Met ander woorde, goeie werke wat ewigheidswaarde het.

So moet ons die liefde as uitnemende gawe van God elke dag aanwakker soos ʼn onblusbare vuur van die Here om te doen wat reg en goed is. Dit word aangevuur deur die Woord en die Gees van God. Dan word hierdie vlam van die Here vir ons die gawe waardeur ons die mooi van ons beminde raaksien. Dan kan ons soos die bruid en die bruidegom liries raak oor die skoonheid en voortreflikheid van ons geliefde! Want dit is ʼn gawe van God.

Hierdie liefde as ʼn vlam van die Here wek ʼn vurige verlange van die bruid om by haar beminde te wees. So moet jy altyddeur in die huwelik soekend en verlangend wees om by mekaar te wees in Christus. Julle moet die liefde as gawe van God deel om die vlam te wees in julle liefde vir mekaar.

En saam kan julle as bruid uitsien na die koms van die Bruidegom. Julle verlange nie net na mekaar nie, maar saam verlangend na Christus!

Geskryf deur LJE Venter – Begrond Instituut

 troue-paartjie-pixabay-olcayertem.jpg

Foto: pixabay.com/olcayertem

Meer oor Vroue in Beweging:

René Roux, voorsitter van die Vroue in Beweging, by die bekendstelling van Vroue in Beweging. (Foto verskaf)

Hierdie artikel is die vyfde een van ʼn reeks vir die tweejaar‑agenda van die Vroue in Beweging. Met skrywes soos hierdie wil die Vroue in Beweging graag ruimte skep vir oop gesprekke en debatte oor sekere kwessies. Die Vroue in Beweging is ʼn inisiatief van die Solidariteit Beweging en die doel is om vroue in Suid-Afrika te bemagtig om voluit vrou te wees deur om te sien na die werk, welstand en opleiding van die vrou sodat sy as pilaar van hoop in haar gemeenskap kan optree. ʼn Gemeenskap kan slegs bevorder word as die gemeenskap self intree om die verskil te maak. Dus wil hierdie inisiatief vroue motiveer om ook mekaar se belange op die hart te dra.

Die Vroue in Beweging fokus op geestelike voorbereiding om te trou as maandtema vir Januarie. Ons kyk ook na wat jy nodig het om jou nuwe huis saam jou bruidegom reg te kry vir na afloop van die troue. Die Solidariteit Beweging-instelling wat deel is van hierdie maand se tema, is die Ons Winkels van Solidariteit Helpende Hand, waar jy enige iets vir jou nuwe huis kan bekom.

Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is dikwels goed wat in die pad daarvan staan om voluit vrou, meisie, suster, ma en vriendin te wees. Hierdie dinge wat in die pad daarvan staan, kan fisiek, emosioneel en geestelik van aard wees.

Die Vroue in Beweging-inisiatief wil dié gapings tot ’n beter lewe oorbrug en die kettings van armoede wat dreig om te vernietig, verbreek. Dit sal vroue wat deur hierdie goed gekeer word, bemagtig om as gesonde vroue in die samelewing te kan funksioneer.

Hierdie inisiatief wil dit doen deur al die instellings van die Solidariteit Beweging te mobiliseer om die insette en projekte van die onderskeie instellings te fasiliteer. Hulle gaan ook kragte saamsnoer met ander vennote om sodoende vroue te bemagtig om nie net ʼn verskil te maak in hul gemeenskappe nie, maar om ook uiteindelik as sterker vroue vorentoe te kan tree. Om meer te lees oor die Vroue in Beweging besoek gerus www.onswinkel.co.za om te sien waar is die naaste winkel aan jou. Vir meer inligting oor die Vroue in Beweging besoek www.vroueinbeweging.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.