Vrywilligers brei duisende prosteses vir kankeroorlewendes

Gerda Strauss, hoof van dienste by Kansa, Anina Meiring, borskankeroorlewende, en René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. (Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek het reeds meer as 4 000 gebreide borsprosteses verskaf aan vroue wat hul borste weens borskanker verloor het.

“Helpende Hand se FroueVonds het die Boesemvriendinne-breiprojek in Mei verlede jaar in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) van stapel gestuur. In 2021 het ons met die hulp van ons ondersteuners altesaam 1 421 wolprosteses ingesamel. Ons is trots daarop om te sê dat ons vanjaar weens bykomende ondersteuning reeds vir 2 722 prosteses kon sorg,” het René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en projekbestuurder van die FroueVonds, gesê.

Die FroueVonds is deel van Helpende Hand en is in 2019 gestig om vroue te bemagtig. Die naam is met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie.

Borskankermaand word jaarliks in Oktober gehou om die publiek van dié siekte bewus te maak. As deel van borskankerbewusmaking het Helpende Hand Donderdag van die gebreide prosteses aan Kansa by hul hoofkantoor in Pretoria gaan oorhandig.

Anina Meiring, ʼn bestuurder van Kansa en ook ʼn borskankeroorlewende, het ook die geleentheid bygewoon. Meiring het op 36-jarige ouderdom albei haar borste weens kanker verloor. Sy self gebruik van die gebreide prosteses en help aktief om dit op grondvlak onder pasiënte te versprei.

“Dit is reeds erg as ʼn vrou hoor sy het kanker. En om dan nog te moet hoor jy moet ʼn mastektomie kry, maak alles net veel erger. Borste is deel van ʼn vrou se lewe en seksualiteit, en as dit ewe skielik net weg is, is dit geweldig traumaties. Nie almal kan borsrekonstruksie bekostig nie,” het Meiring gesê.

“Silikoonprosteses het hulle plek en tyd, maar dit is swaar en warm en ongemaklik,” skerts sy. “Daai gebreide outjies werk wonderlik. As ek pajamas dra, steek ek dit vas met ʼn speldjie en kan lekker gemaklik voor my gesin rondloop. Ek swem selfs daarmee. Ek gebruik dit soveel as wat ek kan.”

ʼn Stelletjie gebreide borsprosteses. (Foto verskaf)

Meiring wens die publiek kan die uitdrukking op vroue wat hul borste verloor het se gesigte sien as hulle ʼn stel gebreide prosteses ontvang. “Hulle voel hul vroulikheid kom onmiddellik terug. Mense wat verby jou in die straat loop, sien nie eens jy het nie borste nie. Ek kan julle waarborg hierdie boesems is lewensveranderend vir ʼn vrou. Moenie die waarde daarvan onderskat nie. Namens al die pasiënte wat al gehelp is, sê ek baie dankie aan almal wat op ʼn manier hiermee help.”

Roux het gesê Boesemvriendinne is ʼn voortdurende projek en sy hoop om volgende jaar in Oktober meer as 4 000 van die “gemaklike en relatief goedkoop” borsprosteses aan Kansa te kan skenk. Kansa verskaf dit dan aan vroue nadat hulle ʼn mastektomie ondergaan het.

“Pakkette bestaande uit ’n brei- of hekelpatroon, die spesiale wol en vulling word teen R60 per pakket aangekoop en onder Helpende Hand se vrywilligers versprei. Om dié pakkette te finansier, het Helpende Hand met USN hande gevat en veelsydige, interessante Sox Footwear-sokkies begin verkoop. Finesse Voelgoed het ook ʼn aansienlike bedrag geld geskenk wat tydens hul Fliekaand in Pajamas ingesamel is,” het Roux gesê.

Sy het mense aangemoedig om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die pakkette aan te koop. Besoek gerus www.boesemvriendinne.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.