Watwou? ’n Splinternuwe blou!

YInMn-blou. (Foto: Oregon State-universiteit)

Die eerste anorganiese blou pigment wat in die afgelope 200 jaar ontdek is, is nou kommersieel beskikbaar – maar dit sal kopers ‘n paar rand uit die sak uit jaag.

Die pigment genaamd YInMn-blou is na sy komponente vernoem en is per toeval in 2009 deur ‘n span wetenskaplikes, onder leiding van prof Mas Subramanian, by die Oregon State-universiteit in die VSA ontdek.

Die blou pigment is ontdek toe Subramanian, ‘n professor in materiële wetenskap, saam met sy studente in die laboratorium met seldsame minerale geëksperimenteer het.

‘n Nagraadse student, Andrew Smith, het yttrium, indium, mangaan en suurstof gemeng by sowat 2 000° Fahrenheit. Toe dit uit die oond kom, het dit ‘n verrassende blou kleur gehad en Sumbramanian het geweet hulle het iets besonders beetgehad.

“Kleur is deel van ‘n spektrum, so jy kan nie ‘n kleur ontdek nie. Jy kan slegs ‘n materiaal ontdek wat ‘n sekere kleur is, of meer spesifiek ‘n materiaal wat lig reflekteer op so ‘n manier dat dit as ‘n kleur gesien kan word,” het Subramanian aan Open Culture gesê.

Ten spyte van sy beskeidenheid word Subramanian gekrediteer daarvoor dat hy die eerste anorganiese skakering van blou in 200 jaar ontdek het. Daar word ook na die kleur verwys as “MasBlue”.

Die New York Post berig dat die Environmental Protection Agency (EPA) eers in Mei verlede jaar die groen lig gegee het vir dié helder kleur om kommersieel beskikbaar gestel te word. Die pigment word nou in uitgesoekte verfwinkels in die VSA te koop aangebied vir soveel as $179.40 (sowat R2 800) per 35 g.

Artnet berig die kleur se ondeursigtigheid dra by tot sy uniekheid omdat daar nie veel daarvan aangewend hoef te word om ‘n ordentlike laag te vorm nie. Dit is ook meer duursaam as pigmente soos kobaltblou en Prussiese blou, wat vermoedelik ‘n karsinogeen (kankerwekkende stof) is.

Boonop kan YInMn-blou gebruik word vir energiebesparende bedekkings, omdat dit infrarooibestraling weerspieël en sodoende alles wat daardeur bedek word koel hou.

YInMn-blou is ‘n gesogte kleur onder kunstenaars. (Foto: Oregon State-universiteit)

“Die kunswêreld hou daarvan as gevolg van die kleur. Die industriële wêreld hou daarvan oor wat dit kan beteken vir omgewingsregulasies van bouprodukte,” sê Mark Ryan van die Sheperd Color Company in Ohio.

Georg Kremer, stigter en president van die Duitse verfmaatskappy Kremer Pigmente, het aan Artnet gesê YInMn-blou “vul ‘n gaping in ‘n reeks van kleure”.

“Ons kliënte was mal daaroor van die eerste oomblik wat hulle dit gesien het. Die reinheid van YInMn-blou is werklik perfek.”

Die EPA het in 2017 die gebruik van YInMn-blou in industriële bedekkings en plastiek goedgekeur en Crayola het in dieselfde jaar ‘n inkleurkryt wat deur die blou skakering geinspireer is vervaardig.

Dit het veel langer vir kunstenaars en verfmakers geneem om die pigment in die hande te kry aangesien toetse vir kommersiële gebruik strenger is.

Produkte in hierdie kleur is steeds selde op winkelrakke te vinde. Verskeie verfmaatskappye het ook gekies om nie YInMn-blou-produkte te verkoop nie nadat hulle die pigment getoets het en aangevoer het dat dit te duur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.