Wees stil en weet

(Argieffoto: Unsplash)

Deur dr. Gavin de Kock

Daar bestaan ʼn toenemende gevoel van ʼn dreigende krisis wat baie negatiewe gevolge vir die hele mensdom kan inhou. Die mens se lewenswyse op hierdie aarde is nie volhoubaar nie, wat die mens op ʼn pad van toenemende ellende, lyding en selfs uitwissing plaas. Talle bestaande en nuwe uitdagings en probleme, soos armoede, rassisme, materialisme, hebsug, vernietiging en besoedeling van die lug, grond, water, woude en oseane en die uitwissing van talle onskuldige wesens, is steeds onopgelos. Hierdie probleme belig net die dringende tekort en behoefte aan uitstaande leierskap. Die antwoord hierop lê in ʼn nuwe soort leier, ʼn ‘bewuste leier’ (conscious leader).

ʼn ‘Bewuste leier’ se optrede word bepaal deur sy/ haar diepsinnige bewustheid van die groter prentjie, die besef van wedersydse konneksie en eenheid, die resultaat van so ʼn leier se uitgebreide besef van sy identiteit en erbarming.

Hierdie tipe leier neem sy volgelinge op ʼn reis, persoonlik en gesamentlik, na heelmaking, waar hierdie holistiese benadering in elke besluit weerspieël word. Die belangrikste vraag is nou: waar moet hierdie reis in die proses op soek na die ontwikkeling en groei van ‘bewuste leiers’ begin? Die beoefening van stilte blyk so ʼn beginpunt te wees. Die beoefening van stilte lei tot introspeksie, oordenking en selfondersoek en uiteindelik tot innerlike kalmte wat groter bewustheid skep.

Stilte en bewustheid

Sou dit nie bevrydend kon wees as ʼn mens kon weet nie. Werklik wéét! ‘Wat’ weet? sou natuurlik die eerste vraag wees wat by menige lesers opduik. En ‘hoe’ moet ek te werk gaan om werklik te weet?

Om by die ‘wat’-vraagstuk uit te kom, gaan van persoon tot persoon afhang, asook van elkeen se eiesoortige omstandighede. Hierdie artikel poog om ʼn ‘weg’ – oftewel padkaart – voor te stel ‘hoe’ om by wyse antwoorde uit te kom.

Om by ʼn wyse en ‘regte’ antwoord uit te kom, benodig ʼn persoon dikwels meer inligting, groter perspektief, insig, kennis, ervaring, ensovoorts. Alom, ʼn groter bewustheid. Die metafoor van teen ʼn berg uitstap, kan gepas wees om die proses van groterwordende bewustheid te begryp. Elke tree wat ʼn mens hoër teen die berg neem, veroorsaak dat ʼn mens verder kan sien. Hoe verder ʼn persoon kan sien, hoe groter neem ʼn persoon se bewustheid van die landskap, soos dit meer waarneembaar word, toe. Hoe groter jou bewustheid (van byvoorbeeld meer inligting wat beskikbaar raak), hoe beter kan jy besluite met groter wysheid neem.

Elkeen van dié leiers het gereeld stilte beoefen

Hoe kan ʼn persoon sy/ haar eie bewustheid vergroot, om by ‘weet’- antwoorde uit te kom? Ek het by veertien historiese en lewende leiers wat gereken word as ‘bewuste leiers’ (conscious leaders), onder andere die Dalai Lama, Albert Einstein, Thuli Madonsela, FW de Klerk, Moeder Teresa, Nelson Mandela en Confucius, kers opgesteek in ʼn poging om te leer ‘hoe’ hulle by groter bewustheid uitgekom het.

Stilte het heelwat ooreenkomste met suurstof:

  • Suurstof is lewensnoodsaaklik en lewegewend, net soos wat elke mens in ‘stilte’ slaap benodig.
  • Elke persoon haal op ʼn eiesoortige manier asem, net soos wat elke persoon ʼn unieke wyse het om by ‘stilte’ uit te kom, hetsy deur gebed, meditasie, joga, stap in die natuur, selfs draf of gholf speel.
  • Suurstof is alomteenwoordig, maar word dikwels besoedel, so ook stilte wat maklik deur geraas (ook kop-geraas) verdoesel en verberg word.
  • ʼn Tekort aan suurstof maak ʼn mens benoud, angsbevange of dood, terwyl ʼn stilte-tekort stresvlakke verhoog en tot dodelike siektes kan lei.
  • Voldoende kwaliteit suurstof lei tot gesondheid, terwyl die gereelde beoefening van stilte lei tot on der andere groterwordende bewustheid.

Groterwordende bewustheid is ook ʼn proses van groei in erbarming (compassion). Dit is soos ʼn sirkel wat vergroot: vanaf ʼn klein egosentriese sirkel (egosentriese persoonlikhede gee gewoonlik net vir hulself en hul eie belange om), na ʼn groter etno-sentriese sirkel (wat nou jou etniese groep insluit), na wêreld-sentriese sirkel (die omgee-sirkel sluit nou alle lande en nasies in) na eko-sentriese omgee (sirkel van erbarming sluit nou alle lewende wesens en die planeet in), en verder.

Elkeen van die leiers word gehuldig vir hoe hulle die groot vraagstukke van hul tyd met wysheid en erbarming aangespreek het. Een van die groot vraagstukke van ons tyd, wat die ganse mensdom raak, is die groterwordende probleem van aardverwarming. Klimaatwetenskaplikes waarsku al vir baie lank dat onbeperkte aardverwarming die grootste bedreiging nie net vir die mensdom se voortbestaan is nie, maar ook vir die behoud van ekostelsels en ʼn magdom van ander spesies.

Kan ons werklik ‘weet’ dat daar ʼn oplossing is vir die aarde se noodkreet en hoe om dit op te los? Bewuste leiers gee ʼn belangrike riglyn, deur hul eie groei na groter bewustheid, gekoppel aan hul gereelde beoefening van stilte.

Stilte

Wat gebeur in stilte? Dit bly ʼn enigmatiese vraag. Honderde gepubliseerde en eweknie-beoordeelde studies, van oor talle toonaangewende universiteite wêreldwyd, openbaar egter die veelvuldige voordele van die gereelde beoefening van stilte. Dit sluit in sielkundige, sosiologiese, ekologiese en fisiologiese voordele. Miskien gee Rumi se wyse woorde ʼn belangrike riglyn na die antwoord van stilte, toe hy sê: “Silence is the language of God, all else is poor translation”.

Sou dit dus nie sin maak om gereeld na Iemand, wat gelowiges alom erken as Almagtig, Alomteenwoordig en Alwetend, se Stem te luister nie? Leonard Bernstein, bekende komponis, musikant en dirigent, het sy weergawe van wat in stilte gebeur beskryf as:

“Stillness is our most intense mode of action. It is in our moments of deep quiet that is born every idea, emotion, and drive which we eventually honor with the name of action. We reach highest in meditation, and farthest in prayer. In stillness every human being is great.”

Die gevolg van die gereelde beoefening van stilte het elkeen van die leiers van die gemelde studie se lewes merkwaardig verander, deurdat hulle almal onder andere minder waarde begin heg het aan die materiële – almal het eenvoudig gelewe (hul ekologiese voetspoor het verklein), terwyl hul erbarming vergroot het om ander, die planeet en ander lewende wesens in te sluit. Hulle het almal ʼn groter prentjie begin sien en ʼn groter bewustheid het ingetree soos wat hulle hoër teen die berg van bewustheid opklim. ʼn Bewustheid van ʼn groter eenheid of holisme het begin ontstaan.

Nelson Mandela het sy groterwordende bewustheid mooi verwoord:

“Honesty, sincerity, simplicity, humility, pure generosity, absence of vanity, readiness to serve others – qualities which are within easy reach of every soul. Development in matters of this nature is inconceivable without serious introspection, without knowing yourself, your weaknesses and mistakes.”

In ʼn tyd van geraas (die antitese van stilte), is dit nog moontlik om gereeld tyd vir stilte in te ruim? Wat is tog makliker om niks te doen, stil te raak en in stilte net te ‘wees’ nie? Prakties blyk dit egter dat min mense dit regkry om stil te wees. Jare se kondisionering van ouditiewe geraas (kop-geraas ingesluit) en veral moderne e-geraas (sosiale media wat ons slawe maak van die selfoon en ander elektronika), maak dit bloot baie moeilik, maar nie onmoontlik nie.

Mag hierdie herfs- en winterseisoen ons begeester en oproep om opnuut gereeld stilte op te soek, die bron van alle wysheid en oplossings, sodat vir elkeen se eiesoortige, maar ook ons gesamentlike vraagstukke, ons die ervaring kan hê: Wees stil en weet…

  • Gavin de Kock het met die dissertasie genaamd “The practice of silence as a journey towards conscious leadership” sy PhD in Filosofie (Persoonlike en Professionele Leierskap) in 2021 aan die Universiteit van Johannesburg behaal. Hy het hierdie artikel geskryf na aanleiding hiervan.

Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Oeee! Ek is bly ek was nie die professor wat hierdie dissertasie moes beoordeel nie! Bowe werklikheid verhewe en diep geborge. Die Groot Filosoof het ‘n ietwat ander blik op die toekoms. Maar Hy is nie geraadpleeg as eksterne eksaminator nie en Hy het baie goeie maniere…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.