Wêreld werp kollig op teater, kunste

Van links na regs: Pieter Strauss, Jeske van der Walt, Salet Smith, Elaine van der Merwe, Estel de Beer, Cherisé de la Rey, Carien Bloem van die AfriForum Teater. (Foto: Verskaf)

Op 27 Maart vier AfriForum Teater, soos vele ander teaterliefhebbers, Wêreldteaterdag. Dié dag is in 1961 deur die Internasionale Teater-instituut (ITI) begin en sedertdien word dit jaarliks wêreldwyd gevier.

“AfriForum Teater is dié tuiskomplek vir die gemeenskap. Een van die teater se fokuspunte is om die ruimte vir ʼn professionele teaterervaring te skep wat skole en gemeenskapsorganisasies kan ervaar.

“Op Wêreldteaterdag nooi ons ʼn ieder en elk om deel van die wonderwêreld van die kunste te wees. Kom ervaar ʼn opvoering, wees bewus van die mense langs jou en laat jouself toe om deur kunstenaars meegevoer te word,” sê Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater.

Volgens World Theatre Day is hierdie dag ʼn viering van mense wat reeds die waarde en belangrikheid van teater as ʼn kunsvorm besef. Dit is ook ʼn wekroep tot regerings, politici en instansies wat nog nie die waarde daarvan in mense se lewens erken nie, of nog nie bewus is van die potensiële ekonomiese groei wat hierdeur gestimuleer kan word nie.

AfriForum Teater se storie is uniek. Die teater het gedurende die nasionale inperking van die Covid-19-pandemie tot stand gekom en in hierdie tyd was dit vir talle kunstenaars en teatertegnici ʼn reddingsboei.

“Dit was moontlik om die teater te open in ʼn tyd waar soveel geleenthede ontoeganklik was, juis omdat mense altyd ʼn behoefte aan konneksie het,” sê Carien verder.

Die Afriforum Teater het al meer as 5 000 mense gelok. (Foto: Verskaf)

In die milieu van ʼn teater lyk verbindinge vir almal anders. “Teater skep ʼn ruimte waar ʼn mens van die buitewêreld kan afskakel en wek ʼn gedeelde ervaring, iets om oor te gesels,” lui ʼn verklaring deur die AfriForum Teater.

Die teaterlandskap het sedert 1961 ingrypend verander. Teaters kan deesdae deur sosiale media met groter gehore skakel en nuwe maniere vind om mense te bereik.

Hoewel teaters nou op vernuwende wyse na ander organisasies uitreik, hande vat, oor teater dink en die manier waarop die kosbaarste stories vertel word, is die kern van teater blywend. “Wat egter dieselfde gebly het, is dat teaters steeds ʼn tuiste vir die kunste is.”

  • Besoek AfriForum Teater se webwerf om meer te wete te kom oor produksies en geleenthede wat binnekort op die AfriForum Teater se planke gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.