Wêreldonderwysersdag: Onderwysers is waardevolle spesialiste

skool 2 klas onderwyser

(Argieffoto)

Vanjaar word daar erkenning gegee aan die vasberadenheid en ywer waarmee die wêreld se sowat 63 miljoen onderwysers sedert die begin van die pandemie hul werk aangepak het.

Só sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas).

In Suid-Afrika val die amptelike datum vir Wêreldonderwysersdag in die skoolvakansie. Terwyl onderwysers ʼn welverdiende ruskans op dié dag geniet, moedig Fedsas beheerliggame en die skoolgemeenskap aan om die dag op die eerste Vrydag (15 Oktober) van die vierde kwartaal te vier.

“Dit is ook belangrik om erkenning te gee aan die emosionele impak wat inperkings en noodgedwonge afstandsonderrig op die welstand van onderwysers het. Onderwysers is die draers van drome. Loopbaandag is ʼn gewilde dag vir leerders om te spog met hul toekomsdrome. Wat gewoonlik ʼn prettige dag by die skool is, is egter ook ʼn herinnering aan die verantwoordelikheid wat op onderwysers rus om hierdie kinderdrome ʼn werklikheid te maak. Die manier waarop hulle dit te midde van die ontwrigting die afgelope twee jaar gedoen het, is prysenswaardig.”

Deacon sê onderwysers is die belangrikste enkele bate in die skoolstelsel. “Dit is die res van ons as die breër skoolgemeenskap se plig om toe te sien dat onderwysers alles het wat nodig is om hul taak as waardevolle spesialiste te kan doen.”

Die Verenigde Nasies (VN) het reeds in 1966 onderwysers as belangrike spesialiste geïdentifiseer in sy aanbeveling rakende die status van onderwysers. Dié aanbeveling het aanleiding gegee tot die viering van Wêreldonderwysersdag jaarliks op 5 Oktober.

Onderwysers is aan die voorpunt van pogings om onderwys weer op die herstelpad te kry gegewe die impak wat die pandemie steeds op hierdie belangrike sektor het.

Fedsas moedig beheerliggame, ouers, leerders en ander betrokkenes aan om nou reeds te begin met beplanning vir die viering van Wêreldonderwysersdag by hul skole.

“Kyk gerus na Fedsas se video op sosiale media en gebruik die hutsmerke #dankieonnie en #fedsas om op sosiale media erkenning te gee aan onderwysers,” sê Deacon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.