Groot Trek-kinderheld inspireer nog twee eeue later

Dirk du Toit, ‘n 17-jarige leerder by Hoërskool Dirkie Uys. (Foto: Verskaf/FAK)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vanjaar die 200 jaar-herdenking van die jong Groot Trek-kinderheld, Dirkie Uys se geboortedag, 3 Maart 1823, op ʼn unieke wyse gevier.

Die FAK het Hoërskool en Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg besoek om die heldedaad van Dirkie Uys oor te dra, en self ervaar hoe die 15-jarige Dirkie se verhaal vandag steeds inspireer.

Dié skole is in 1938 na Dirkie Uys hernoem met die Simboliese Ossewatrek en Groot Trek-eeufeesvieringe. Die skoolhoof van Hoërskool Moorreesburg, wat daardie jaar verdeel het in ’n hoër- en laerskool, het dié naamsverandering voorgestel.

In 1972 is daar ook ’n beeld van Dirkie Uys by dié laerskool onthul.

Marné Scholtz, mediabeampte van die FAK, vertel dat sketse van die kinderheld teen die muur bokant die een skool se ontvangstoonbank sigbaar is.

Hoërskool Dirkie Uys-leerders. (Foto: Verskaf/FAK)

Dié hoërskool se 15-jarige seuns het ook vir die geleentheid vir ʼn foto bymekaargekom, siende dat dit die ouderdom van die kinderheld was toe hy sy lewe uit liefde vir sy pa opgeoffer het. Daar is vandag ook twee seuns met die naam Dirk wat tans daar skool gaan.

“Dirkie Uys se verhaal laat my dink oor my verhouding met my pa. Ek is dankbaar dat ek ’n pa in my lewe het. Ek dink ek gaan van nou af my verhouding met my ouers meer waardeer,” het Dané Joubert, ’n hoërskoolleerder oor haar skool se naamgenoot gesê.

Die groep seuns se antwoord op die vraag of hulle dieselfde vir hul pa’s sou doen is volgens Scholtz ʼn sterk “ja”.

“Die skool se leuse is ‘Wees getrou’. Getrou soos Dirkie Uys aan sy pa was, maar ook getrou in alles wat hulle aanpak, of dit akademie of sport is. Dís hoe Dirkie Uys hierdie skool se leerders inspireer,” meen Scholtz oor die jong held se invloed.

Laerskool Dirkie Uys-leerders by die beeld van hul skool se naamgenoot. (Foto: Verskaf/FAK)

Dirk Cornelis Uys (Dirkie), die seun van Petrus Lafras Uys en Alida Maria Uys is op 3 Maart 1823 in Swellendam gebore, aldus Maroela Media se e-naslaangids vir skoolleerders, Weet.

Petrus is gedurende die slag van Italeni deur ʼn Zoeloe-vegter met ’n assegaai in die sy gesteek en dodelik gewond. Hy het sterwend beveel dat sy manne, en ook Dirkie, moet vlug en hulself red, maar sy seun het volgens oorlewering sy perd omgedraai en geskree: “Ek sal saam met my pa sterf!” en op die Zoeloes afgestorm. Dirkie het langs sy pa geval, waar hulle albei met assegaaie doodgesteek is.

Hierdie weergawe van gebeure word ook op een van die historiese friese van die Voortrekkermonument uitgebeeld.

Bykomende bronne: Weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.