Jy is nie alleen nie, emigrant

Foto: deur Tim Gouw van Unsplash

Ek praat met jou, die emigrant. Jy, wat jou wortels uitgetrek het om dit weer te probeer vestig in vreemde grond. Jy, wat met jou hart in twee geskeur rondloop – ʼn stuk van jou in ʼn ander land as jou lyf. Jy, wat moes kies tussen jou geskiedenis en jou toekoms. Jy, wat nie meer pas in die plek waar jy vandaan kom nie, maar ook nie heeltemal pas in die plek waar jy jou bevind nie.

Ek praat met jou, wat nou ʼn tyd beleef soos nog nooit gesien in ons leeftyd nie, en dit boonop in ʼn vreemde land. Jy is ver van jou vriende en familie. Ja, dit was jou keuse. Maar toe jy daardie keuse gemaak het, het jy nie geweet wat voor jou lê nie. Jy het nie geweet dat jy baie van die mense wat jy groet, nooit weer sal sien nie. Jy het nie geweet dat die aarde se gemeenskaplike moeilikste tyd voor jou was nie.

Jy het nie geweet dat jou ouma deur hierdie pandemie weggeruk gaan word nie. Jy het nie geweet dat jou broer se gesin en sy eenjarige seuntjie positief sal toets vir hierdie verskrikking van ʼn virus nie. Jy het nie geweet dat jou sussie se droomtroue afgestel sou word nie. Jy het nie geweet dat jou neef sy werk sou verloor en sy gesin van aalmoese afhanklik sou wees nie. Jy het nie geweet dat jou kuier by die “huis” sou verhoed dat jy teruggaan na jou aangenome land nie. Dat jou gesin dan vir maande in ʼn houthuis sou moes bly terwyl al jou spaargeld verdwyn, jy jou werk en jou huurhuis sou verloor nie. Dat jy nie sou weet wanneer daar weer eendag internasionale vlugte sou wees om by die huis te kom nie. Jy het nie geweet jy sou nie kan teruggaan na die lewe wat jy vir jou gesin gebou het nie, en dat jy op die punt sou staan om alles te verloor nie.

Ek praat met jou wat met ʼn tydelike visum in ʼn vreemde land sit. Dit het alles gekos om daar te kom, en nou weet jy nie of jy alles gaan verloor nie. Jy, wat weet jou toekoms is uit jou hande en jy weet die politici gaan gewetenlose besluite neem wat bepaal wat met jou gesin se toekoms gebeur. Jy, wat nie weet waar jy oor ses maande of ʼn jaar sal wees nie en die moontlikheid van platsak teruggaan Suid-Afrika moet bedink. Jy, wat nou moet hoor “Gaan huis toe!” en jy weet daar is niks vir jou daar nie. Jy, wat nou ʼn ongenooide, onwelkome bywoner in ʼn vreemde land is.

Vir ons is die vrese en angs van hierdie tyd uniek, en ons kan nou kies hoe ons gaan reageer. Soos die Israeliete wat uit Egipte gevlug het na ʼn vreemde land, is daar reuse voor ons. Hierdie reuse kan ons toekoms vermorsel, of bitter moeilik maak. Ons kan nou kies om te kyk na die reuse, of ons kan klippies optel en kyk na ons God. Hy het tog immers geweet wat kom lank voor ons. Hy het ons paadjies in Sy hand. Jy is Sy kind en Hy hou jou in die holte van Sy hand waar jou naam gegraveer staan saam met dié van jou ouers, jou susters en broers, jou kinders en jou vriende. Net soos vir jou, wil Hy ook vir hulle die beste hê.

Jy, emigrant, is gestuur na die plek waar jy nou is. Jy kom van ʼn plek waar die Here vir ons ʼn geleentheid gegee het om Hom te leer ken en te dien. In ander lande is dit nie so maklik nie, selfs baie van die lande waar ons emigrante nou woon, is dit nie maklik nie. Die pad wat voorlê is donker, en ons weet nie wat hy inhou nie. Maar in hierdie tyd van onsekerheid, onmin en hartseer, dra jy die Lig. Onthou dat jy nie alleen is nie. Jy is een van miljoene emigrante, elkeen met ʼn unieke storie en uitdagings.

Jy is nie alleen nie. Ek is saam met jou in hierdie ding. En God ook.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Ek sal met liefde heel onder met niks, net met die klere aan my lyf, van vooraf, van onder af begin in Amerika, Kanada, Europa of Australië. Ten minste sal net my kwalikasies, ondervinding en hardwerkend daar tel. My “verkeerde” velkleur sal nie meer ‘n rol speel nie. En so met niks daar in die vreemde sal ek ook bly in ‘n land SONDER beurtkrag, regstellende aksie, plaasmoorde, swak staatshospitale, hemelhoë misdaad ens ens ens.
As die ANC dan nie van ons hou nie (hulle uitsprake deesdae bewys dit), kan hulle ons almal mos maar net na “wit” lande deporteer. Dis hoogstens ‘n 2jaar proses. Stempel net in elke wit Suid-Afrikaner se paspoort “this passport holder is forbidden to return to South Africa”. Dan is daardie “wit” lande gedwing om ons in te neem.

Nici ·

Dis waar daar is sekere voordele maar daar is so ander dinge wat baie sleg is wat mens eers sien wanneer jy ‘n klomp jare in ‘n plek woon.

Miskruier ·

Soms verkwalik ek my ouers dat hul hier kom bly het, alles lyk soveel beter in Europa. Ek glo dat God wel n doel daarmee gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.