Luister: Diens is die wagwoord vir ‘n suksesvolle onderneming

klipkouers-foto-

” ‘n Besigheid gaan nie net oor geld nie; jy moet ook ʼn verskil in mense se lewens wil maak.”

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself.

Ek is 50 jaar oud en reeds die afgelope 30 jaar in die sakesektor. Ek was vir ʼn paar jaar in die korporatiewe wêreld voordat ek met my eie besighede begin het. Ek is een van daardie entrepreneurs wat elke paar jaar ʼn nuwe besigheid begin! Om die waarheid te sê het ek in die afgelope 30 jaar soveel as 32 besighede begin en opgebou. Ek het sodoende geleer waar al my foute gemaak is, en ek kan eerlikwaar sê ek geniet dit baie om ʼn besigheid te bedryf.

  • Watter een van die besighede uit die 32 sou jy sê het vir jou die meeste uitgestaan?

Elke besigheid is uniek en elkeen het iets wat hom suksesvol maak, maar ek dink vir my is dit die eerste besigheid. Dit was die Nikon-besigheid wat taamlik klein in Suid-Afrika was toe ons hom gekoop het. Dit het maar slegs 5% van die markaandeel beslaan en na net drie jaar het ons reeds ʼn 50%-markaandeel bewerkstellig.

  • Watter soort probleem los jou besigheid op?

Ek dink ek is in verskillende besighede in die ekonomie, so ons kyk maar na watter besighede daar nog oor tien of 20 jaar sal wees. Wanneer ons ʼn nuwe besigheid begin, kyk ons na iets wat anders is en probeer vasstel wat ons kan doen om die besigheid op te bou en uniek te maak. Ons het oorspronklik met King Price-versekering begin om integriteit vir die mense te bewerkstellig en ʼn goeie premie te kan bied wat laer was as ons kompetisie s’n. Dit het daartoe gelei dat die sakeplan suksesvol was. By Nikon voel ons weer dat ons daartoe bydra dat mense anders na die wêreld kyk. Ons begin besighede om ʼn verskil in mense se lewens te maak.

  • Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie s’n?

Ek dink een van die belangrikste dinge waarin ek glo is dat diens deesdae ʼn baie groot faktor is. Met ander woorde, as jy net ʼn effens beter diens as jou kompetisie bied, sal die kliënte jou besigheid suksesvol maak. Ek wil ook emosioneel by my kliënte betrokke wees.

  • Hoe gaan jy te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek vind met elke besigheid dat ek ʼn ander soort aanslag het as dit kom by kliëntewerwing. Byvoorbeeld, ’n versekeringsmaatskappy sal beslis nie dieselfde werk as jou fotografiebesigheid nie. Ek hou van “guerrilla”-bemarking om meer selektief te wees. As mense van jou produk en diens hou sal hulle daaroor praat, want mense glo nie altyd alles wat hulle in die media lees nie; hulle wil eerder ʼn produk gebruik wat iemand vir hulle aanbeveel het. Ons doen baie gratis werksessies en dan is mense meer gewillig om hulle tyd op te offer. Ons reël ook heelwat gratis werksessies aan die begin om hulle opgewonde te kry oor die produk en dan komplimenteer hulle jou produk.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou sakebedryf?

Daar is nie meer sterk senior bestuurders in ons land oor nie. Dis moeilik om ʼn goeie leier vir die besigheid te kry wat oor die regte ondervinding beskik. Mense wil ook nie meer eienaarskap neem van iets nie, so dit maak dinge nogal taamlik moeilik.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Jou grootste fout in besigheid is maar altyd waar jy verliese gely het. As ek na die grootste verliese wat ons gely het kyk, sou ek moet sê dit het by die bestuurder begin. My grootste probleem in die verlede was om die verkeerde mense aan te stel. Ek het later ook agtergekom dat ek net bietjie langer oor groot besluite moet dink en meer met mense daaroor moet praat; daar lê werklik waarde in.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid of vrees?

As ek onseker is sal ek terugkom na iets toe; ek sal met mense gaan praat wat sukses in ʼn besigheid ervaar en hulle siening vra oor iets spesifiek. As dit egter by vrees kom – dis iets waarvan ek ver weg wil bly, want ek wil nie toelaat dat vrees posvat in ʼn besigheid nie, want dis dán dat jy begin foute maak.

  • Watter sagteware of applikasie is vir jou baie waardevol?

Daar is so baie wat ons gebruik, maar ek sou sê die belangrikste vir my is die produk wat ek moet gebruik om daaglikse inligting vir my te kan weergee, want jy het daagliks inligting nodig om die regte besluite te kan neem. ʼn Mens moet net die regte program kry wat vir jou daardie inligting gee wat jy benodig en die funksies moenie té ingewikkeld raak nie.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Oornagsukses neem ten minste tien jaar”, en “Moenie oorhaastig wees nie”. En daarmee saam ook “’n Goeie karakter sal altyd ʼn besigheid vorentoe neem”.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Per e-pos by [email protected] of besoek die webwerf www.premiumgroup.co.za.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.