Met my Instamatic op Wimbledon

Spel op die Wimbledon-tennistoernooi in Londen is op die vyfde dag onderbreek deur reën in 2016. Die baan word droog gehou deur ʼn spesiale seil wat oor die baan getrek word. (Foto: Ben Curtis via AP/ANA.)

Oudjoernalis, Pierre Massyn, kyk terug na sy epiese besoek aan Wimbledon, dié tennisheiligdom.

Toe die straler deur die mis breek, lê Londen onder ons. ’n Groot plek wat jou kan insluk, veral as jy van Suidwes kom. Die Lufthansa-vlug van Boston na Heathrow was lank en koud. Ná ʼn maand in die VSA, het ek ʼn oordosis van vlieg gehad, veral van kus-tot-kus-oorkruisings.

Ek het twee dae gehad om in die Engelse hoofstad te vertoef voor ek die terugtog na Windhoek via Johannesburg moes aanpak.

Dit was Junie 1984. Daar was tennis in die lug. Dit was tyd vir Wimbledon. Daar was egter een probleem: kaartjies was onbekombaar. Dit het my egter nie afgeskrik om die trein na Wimbledon te haal nie. Dan klim jy op die bus en binne tien minute is jy daar: by die All England Lawn Tennis Club – venue vir die beroemdste grasbaan-tennistoernooi ter wêreld. Die Franse spog met Roland Garros, maar hy is op klei.

Die tou mense van die tennisbane strek terug tot byna by Wimbledon-stasie. Ek skat hulle so by die tweeduisend siele wat almal toustaan vir ʼn kaartjie om die helde van die grasbaan te sien speel. Ek steier uit die bus, tam ná ʼn trans-Atlantiese vlug van byna tien uur. Toe sien ek hom. Hy was nie net groot nie, hy was ʼn kolos. Hy was ʼn swart man wat met gemak op slot in ʼn Springbokpak sou kon sak. Hy het ʼn donkerbril gedra en die kraag van sy baadjie was opgeslaan. Sy lippe het nie beweeg toe hy met ʼn swaar Karibiese aksent lostrek: “Hey, white boy, wanna ticket?”

Hy verkoop ʼn kaartjie op die swartmark. Ons begin tersluiks onderhandel. Vyftig pond later het ek hom: ʼn kaartjie om te gaan tennis kyk. In daardie dae was vyftig pond nog vyftig rand. Vandag sou ek glo daardie vyftig pond om die beste slaners van ʼn tennisbal op aarde in aksie te sien, is die beste slag wat jy ooit sou kon slaan.

Wimbledon, soos dit genoem word, bestaan uit die sentrale hoofbaan met 17 ander tennisbane rondom die Centre Court uitgelê. Ek koop vir my ʼn program. Engeland se hoop, Virginia Wade, is nou op een van die buitebane in aksie. Ek besluit ek moet hierdie legende darem van nader beskou. Ek gee my kaartjie en hulle laat my moeiteloos in. Virginia is op wedstrydpunt. Sy is mooi ook. Die Engelse skare is bly.

Ek bekyk die program. Hulle is almal daar – die McEnroe’s, die Beckers, die Connorse, die Lendls.  Buite Baan 1 loop ek my vas in Kevin Curren. Curren sou die volgende jaar, 1985, Suid-Afrika se vlag op die hoofbaan laat wapper toe hy teen die Duitse Wunderkind, Boris Becker, in die eindstryd kragte gemeet het. Ja, hy ken vir Johan Kriek. Kriek, Springbok van Pongola en Affies wat die Australiese Ope twee keer gewen het en met wie ek jare gelede ʼn TV-onderhoud gevoer het. En Curren is bevriend met Vitas Gerulaitis wat ek so pas in New York ontmoet het.

Nou sit ek af na Centre Court met my kaartjie. Sal hulle my daar inlaat? Die hekwag beduie: gaan maar in, old chap. Vir die eerste keer beskou ek my kaartjie ordentlik: daar staan dit duidelik: “Press – DAILY ROVER.” Ek verteenwoordig die media en kan enige wedstryd op enige baan gaan “dek”! En so beland ek direk langs die Royal Box. Vlak voor my stal John McEnroe sy atletiese veerkragtigheid uit. Ek dink in my lewe het ek net twee spelers gesien wat soos hy oor ʼn tennisbaan kon beweeg: die Argentynse bergleeu Guillermo Vilas en die Spaanse matador Raphael Nadal. Vilas was ʼn hotklou en ek het hom op Ellispark sien speel toe kollega Heinrich Marnitz nog uitgesaai het. Maar dit was ʼn ander era. Dis nou Wimbledon 1984 en my Instamatic werk oortyd.

Ná die wedstryd beweeg ek saam met die nuus-troupe na die mediasentrum. Ek flits my kaartjie en neem my plek tussen die mengelmoes internasionale sportkorrespondente in vir die onderhoude ná die wedstryd. Tussen die CNN’s, die ABC’s, Guardians en die Mirrors van hierdie wêreld met hulle kanonne vir kameras, is ek daar met my Instamatic. Sy eienaar is ongeskeer en vlugflou. Die wêreld se beste tennisspeler sit so vyf stoele voor my…

pierre-massyn

Pierre Massyn. Foto: Verskaf.

Klaar met die onderhoude, is dit tyd vir aarbeie en room. Nou weet ek waaroor al die bohaai gaan. Ek bekyk die klubhuis – deurdrenk van die tennisgeskiedenis.

Maar wag, daardie gesig ken ek mos, dis Lappe Laubscher, befaamde sportjoernalis. Ons gesels land en sand in Afrikaans. Ná ʼn maand in die buiteland proe die soetste taal soos braaivleis en koeksisters. Met my buitelandse ekskursie kon ek die Bokke se laaste wedstryde teen Engeland nie sien nie.

“En hoe het dit gegaan sonder Naas?” wil ek weet. Die blonde losskakel was op daardie tydstip besig by die Dallas Cowboys. “Man, Errol Tobias is mos in Naas se plek gekies.” “Ja?” wil ek weet. “Nee, Errol het net heeltyd laat loop. Dit het gewerk”, lig Lappe my in.

En so loop my besoek aan Wimbledon ten einde. Dit het seker nog nooit gebeur dat ʼn volslae buiteperd soos ek daardie tennisheiligdom vir 50 pond en gewapen met net ’n Instamatic-kameratjie betree nie.

Ek het hierdie storie tot dusver net om die braaivleisvure vir my pêlle vertel, maar nou word dit, danksy Maroela, wêreldwyd gehoor.

  • Pierre Francois Massyn, oud-TV joernalis en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stunning ·

Net ‘n plesier om jou spesiale(vintage moment) te deel. Ken ook al die name wat jy noem want ek is ook vintage. Memories maak jou lewe as jy ouer word. Dit was beslis die geld werd.

Peet Schabort ·

Pragtige stukkie herinnering Pierre, aan ‘n tyd wat voortleef in die geheue. Ook opvallend dat die swart man jou as ‘n ‘white boy’ kon aanspreek in ‘n gees van welwillendheid sonder ‘n nadraai. Dis die gees waarin ek ook groot geword het. Eers die onlangse verlede wat die haat aanblaas in ‘n tyd wat ons dit nie nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.