‘Oewerkonyn’-ontdekking toe nié die seldsame diertjie

ewt-en-wb-konyn

Links is die EWT se enigste foto van ʼn jong oewerkonyn en regs is die lesersfoto van want nou as ʼn jong vlakhaas geïdentifiseer is. Foto: Verskaf.

ʼn Noord-Kaapse inwoner was baie opgewonde toe hy vandeesweek ʼn klein soogdier op sy plaas aangetref het wat lyk soos die baie skaars en kritiekbedreigde oewerkonyn.

Wicus Bruwer (22) het foto’s van dié diertjie wat hy Dinsdag omstreeks 11:00 in sy lusernlanderye op sy plaas in die Upington-omgewing teen die Oranjerivier opgemerk het aan Maroela Media gestuur.

“Ek het gesien dit is ʼn klein hasie en het hom eenkant gesit terwyl ons nog so halfuur lank op die landerye gewerk het. Die diertjie was steeds daar en ek was bang roofdiere vang hom toe neem ek hom maar huis toe,” vertel hy.

Volgens Bruwer is die diertjie nog baie jonk met piepklein voortandjies.

Esté Matthews, ʼn spesialis bewaringsbeampte verbonde aan die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), het Woensdag na verskeie foto’s van die dier gekyk en bevestig dat dit ʼn vlakhaas eerder as ʼn oewerkonyn is.

“Die leser hoef nie sleg te voel nie, dit is ʼn algemene fout wat gemaak word. Die oewerkonyn is so skaars dat dit in 99% van die gevalle nie dié kritiek bedreigde spesie is nie,” het sy gesê.

wb-konyn-haas-2018-12-12-04

Die haas se stert het hom weggegee. ʼn Oewerkonyn het ʼn kenmerkende rooibruin stert terwyl vlakhase en kolhase swart en wit sterte het. Foto: Wicus Bruwer/Verskaf.

Volgens haar kan die konyn, wat in die volksmond ook as die doekvoetjie bekendstaan, uitgeken word aan sy kenmerkende swart streep op die wang, ʼn bruin stert, pote met ʼn dik pels en buitengewone groot ore.

Matthews het bevestig die oewerkonyn is steeds ʼn kritiek bedreigde spesie en verskyn op die IUCN’s se rooi lys van bedreigde spesies.

“Niemand is seker presies hoeveel oewerkonyne daar is nie, maar ons skat daar is sowat 250 volwassenes van die konynspesie oor. Dit is egter baie moeilik om te bevestig want hulle is uiters moeilik om op te spoor.”

Verder is die konyn, wat ook soms die pondhaas genoem word, se verspreiding ook onbekend. “Ons het ʼn redelike goeie idee waar die konyne mag voorkom en waar hulle histories voorgekom het, maar soms word hulle vir jare lank nie meer gesien nie en bewaarders het moontlik ook nog nie al die plekke gevind waar hulle voorkom nie.”

Oewerkonyne is so onlangs as 2003 in die Wes-Kaap ontdek nadat daar aanvanklik gedink is hulle kom net in die Noord-Kaap voor.

ʼn Britse soldaat het die eerste oewerkonyn in 1902 op ʼn plaas in die Deelfontein-omgewing naby Richmond gevind. Daarna is die oewerkonyn nooit weer gesien nie tot in 1929 en later is nog van die skugter konyne in 1947 in Calvinia opgemerk.

“Die vermoede bestaan ook dat hulle dalk nie meer in die omgewing van Richmond of Calvinia voorkom nie, hoewel sommige inwoners steeds sê hulle sien die konyne daar. Ons kan die bewerings nog nie met enige beeldmateriaal bevestig nie.”

Die oewerkonyn is so uniek omdat dit die enigste konyn is wat onder die grond geboorte gee.

“Hase gee amper soos ʼn springbokkie geboorte – die kleintjies is dadelik gereed om te hardloop, hulle ogies is oop en hulle het ʼn pels op hulle lyfie. Konyne se kleintjies word blind en kaal gebore. Die rooiklipkonyn se kleintjies word tussen rotse en klippe gebore en daarom hoef dié konyn nie in die grond te grawe nie.”

Matthews sê die oewerkonyn se grootste bedreiging is habitatverlies wat droogte en die oorbeweiding van die noordelike bevolking se habitat langs rivierbeddings insluit.

“In die Karoo word die rivierhabitat ook vir weiding gebruik. Die bosse word dan oop gemaak en roofdiere kan die konyn makliker vastrek. Hase het meer spoed en stamina, daarom kan hulle makliker in oop vlaktes vir roofdiere weghardloop. ʼn Konyn moet in die ruigtes kan wegkruip om homself te beskerm.”

ewt-id-oewerkonyn

Die EWT het hierdie nuttige identifikasiekaart saamgestel vir die publiek wat hulle kan help om tussen die oewerkonyn en sy ander familielede te onderskei. Grafika: EWT/Verskaf.

Hoe gemaak as jy op ʼn bedreigde spesie afkom?

“Die beste raad is om nie aan die diertjies te vat nie, veral as jy vermoed dit is ʼn kritiek bedreigde spesie, maar neem gerus soveel foto’s as moontlik van veral die gesig en stert,” sê Matthews.

“Dit sal ʼn bewaringsorganisasie of beampte help om die konyn reg te identifiseer. Dan kan ons uitreik na die eienaar van die plaas om bestuurplanne vir die bewaring van die spesie te bespreek.”

Geen oewerkonyn is tans in aanhouding of kom selfs in ʼn gesertifiseerde bewaringsgebied voor nie. Matthews maan ook dat dit onwettig is om dié soort konyn aan te hou en boetes van R50 000 kan opgelê word as die wet oortree word.

“Klein diertjies is gewoonlik afhanklik van hulle ouers en as hulle net gelaat word behoort die ouers hulle verder te versorg.”

Matthews sê haar organisasie vra boere om nie strikke in die seldsame konyn se oewerhabitat te gebruik nie en weiding in rivierbeddings te beperk.

“Ons verwelkom egter altyd foto’s van ʼn moontlike oewerkonyn omdat dit ons help om navorsing oor die spesie te doen en dit die enigste manier is om vas te stel hoeveel daar van die konyne is.”

  • Foto’s van vermoedelike oewerkonyne kan aan die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, ook bekend as die Endangered Wildlife Trust, se Facebook-blad gestuur word. Die publiek kan ook foto’s per e-pos na Esté by [email protected] of Belinda by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

dries ·

hase en konyne is nie knaagdiere nie. Rotte, muise, springhase en ystervarke is knaagdiere..

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Dries

Dankie dat jy laat weet het. Die berig is gewysig om enige verwarring te voorkom.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Hans ·

Baie interesante inligting oor konen en haas asook die Oewer konyn.

Mike ·

Dankie Vir boer wat gered het….roofdiere Kon verskeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.