Osies maak harte, hande oop vir jong kankerlyers

Dr. Ané Büchner, ʼn kinderonkoloog, ontvang die speelgoed by Marius Walkenshaw, hoof van Laerskool Pretoria-Oos. (Foto: Yolane Bayards Photography)

Die maand van liefde is vanjaar by die Laerskool Pretoria-Oos op ʼn minder tradisionele wyse gevier. Waar die skool en leerders gewoonlik in rooi getooi word, is daar vanjaar besluit om eerder ʼn liefdadigheidsprojek aan te pak as ʼn manier om behoorlik liefde te wys.

Die skool het dus ywerig aan die werk gespring om sagte speelgoed vir onkologiepasiënte wat in staatshospitale behandeling kry, in te samel.

“Omgee en ondersteuning is van die kernbehoeftes binne gemeenskappe en selfs persoonlike verhoudings. Osies het besluit om hierdie jaar in liefde ʼn hand uit te reik en iets daadwerklik te doen om die lewe van kinders by wie kanker gediagnoseer is, aan te raak,” sê Marius Walkenshaw, hoof van Laerskool Pretoria-Oos.

“Ons is dankbaar vir die goeie gesondheid van ons leerders, maar hulle moet ook besef dat daar duisende kinders is wat nie daardie voorreg deel nie. Ons verantwoordelikheid is om te help waar daar nood en behoefte is.”

Volgens hom is dit belangrik dat die waardes wat op die skool se mure aangebring is, ook op tasbare wyse aan leerders oorgedra moet word.

“Daar is soveel kinders wat nie die voorreg het om elke aand in hulle eie bed te slaap of om saam met maats te kan speel nie omdat hulle behandeling moet ondergaan. Vir daardie kinders is dit so belangrik om die liefde en ondersteuning van gemeenskapslede te voel. Ons is trots op al die Osies wat met soveel ywer ingespring het om hier ʼn verskil te maak.”

Dr. Ané Büchner, ʼn kinderonkoloog by een van die staatshospitale, het ook die behoefte aan sulke liefdadigheidsgebare beklemtoon.

“Baie van ons kinders in staatsfasiliteite woon ver en het nie noodwendig hul eie speelgoed of iets wat aan hulle behoort wat hulle kan saambring nie. ʼn Sagte speelding is iets wat hulle koester omdat hulle nou iets het wat aan hulle behoort. Ons sien selfs die ouer kinders dit geniet om net ietsie van hul eie te kan vashou.”

Volgens Büchner word daar jaarliks ongeveer 150 nuwe pasiënte deur haar eenheid gediagnoseer, wat behandeling vir ʼn tydperk van tussen ses maande en drie jaar ondergaan.

Omdat baie van hulle uit moeilike maatskaplike omstandighede kom, het hierdie kinders en hulle ouers ook basiese benodighede soos toiletware en kos nodig waarmee die gemeenskap altyd kan help.

“Hierdie kinders se reis is lank, maar liefde en omgee vanuit die gemeenskap helder dit vir hulle op. Hulle weet hulle is nie alleen nie en dat iemand hulle swaarkry raaksien.”

Laerskool Pretoria-Oos het agt groot sakke sagte speelgoed ingesamel wat hulle Donderdag oorhandig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.