AfriForum se teenboelieveldtog: Oorsake van afknouery in skole

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

Skoolgeweld en afknouery kan ’n invloed op enige kind uitoefen. Een van die vernaamste faktore wat van kinders en adolessente ’n teiken van afknouery maak is as hulle as “anders” beskou word. Voorbeelde van andersheid sluit die volgende in: kinders wat wees gelaat word, kinders met gestremdhede, sosiale status wat met etnisiteit geassosieer word, kinders in huishoudings waar MIV/vigs, armoede en kulturele en taalverskille voorkom, asook kinders wat aan migrasie of verplasing blootgestel word. Volgens ’n Unesco-verslag kan fisieke voorkoms ook as risiko dien vir kinders of adolessente om ’n teiken van afknouery te word, soos byvoorbeeld om oorgewig of selfs ondergewig te wees.

Skole is veronderstel om ’n veilige hawe vir kinders te wees waar hulle nooit hoef te vrees om op die skoolterrein of speelgronde te beweeg nie – waar niemand vir hulle wag om hul lewe te versuur nie. Selfs al is dit die geval moet kinders kan huis toe gaan met ’n goeie gemoed waar hulle van die dag se drama by die skool kan vergeet. Ongelukkig werk dinge egter nie altyd uit soos ’n mens hoop nie. Met die toename in internetgebruikers kan al hoe meer kinders by hulle sosialemediarekeninge inteken en sodoende uitvind indien iemand van hulle skool iets vernederend oor hulle gepubliseer het. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die geval van die 14-jarige Bloemfonteinse meisie wat deur twee seuns verkrag is terwyl ’n derde seun ’n video-opname daarvan gemaak het. Hierdie voorval kan as seksuele afknouery, asook kuberafknouery beskou word. Maroela Media het ook vroeër hieroor berig.

Die meeste kinders besef dat boeliegedrag ander kan seermaak. So waarom sal een kind dan ’n ander kind wil boelie? Moet ouers, onderwysers en skooladministrateurs nie uitvind waarom sommige kinders dit nodig ag om ander te boelie nie? Daar is absoluut geen verskoning vir iemand om ander te teister, te martel of te verneder nie, maar die meeste boelies het onderliggende kwessies wat hulle tot hierdie soort gedrag – boeliegedrag – dwing. Populariteit en mag kan as uiters belangrik deur boelies beskou word, daarom laat hulle hul toorn op slagoffers los wat gesien word as leerders wat nie so “goed”, “sterk” of “mooi” soos hulle is nie. Boelies sal nooit iemand aanvat wie hulle weet teen hulle sal opstaan nie. Om die algemene oorsake van afknouery te verstaan, is dit belangrik om te weet wat die eienskappe van slagoffers van boeliegedrag is.

In die meeste gevalle is slagoffers:

  • ongewild/nie so populêr soos die boelie nie;
  • van ’n ander ras of geloof;
  • homoseksueel;
  • swaksiende en dra dus bril;
  • van ’n ander sosio-ekonomiese agtergrond; en
  • gestremd.

Hoewel boelies selfversekerd voorkom, is hulle eintlik onseker oor hulleself en kan hulle ook minderwaardig teenoor ander voel. Wanneer hulle ander leerders sleg behandel, is dit ’n manier om hulle beter oor hulself te laat voel en hulle gebruik dit as ’n hanteermeganisme. Om die gevoel van mag en status te behou, moet die oortreder dus voortgaan met hierdie soort gedrag.

Vyf algemene oorsake van afknouery:

  1. Boelies kom uit wanfunksionele gesinne: ’n Wanfunksionele gesin waarborg geensins dat ’n kind in ’n boelie sal ontaard nie, hoewel meeste boelies uit huise afkomstig is waar daar min of geen liefde of eerlikheid is nie. Hulle neem ook op ’n gereelde basis waar hoe hulle ouers aggressief teenoor hul vriende, broers/susters of ander familielede optree.
  2. Boelies moet in beheer wees: Kinders wat ander kinders rondstamp of slaan streef daarna om populêr te wees of mag te hê. Hulle vind dit bevredigend indien ander kinders hulle aan hulle onderwerp. Hierdie soort kinders is impulsief en hardkoppig en floreer wanneer hulle slagoffers bang is in hulle teenwoordigheid.
  3. Boeliegedrag word beloon: Die meeste kinders boelie nie opsetlik nie, hoewel die oortreder per ongeluk beloon word wanneer die slagoffer ingee, soos byvoorbeeld om hulle snoepiegeld of besittings vir die boelie te gee. Hulle word dus ook beloon omdat hulle meer aandag kry deur ander te boelie en sodoende word hulle meer populêr of kry hulle meer mag omdat ander kinders vir hulle bang is. Hierdie beloning wat onbedoeld plaasvind het tot gevolg dat boeliegedrag versterk word en dit kan die oortreder aanmoedig om ander kinders ook te boelie.
  4. Boelies neem nie ander se gevoelens in ag nie: Sommige kinders het min of geen empatie nie, of hulle vind vreugde daarin om te sien hoe ander kinders ly. Wanneer hulle iemand seermaak, weet hulle geensins wat die slagoffer of die ander kinders om hulle voel nie. Soms kan die oortreder selfs plesier daarin vind om ’n ander kind seer te maak. Die reaksie van die slagoffer kan die boelie ’n gevoel van vervulling gee en daarom sal hy dus aanhou met hierdie soort gedrag.
  5. Boelies kan nie hulle emosies reguleer nie: Wanneer kinders geïrriteerd of kwaad raak kan hulle hulself gewoonlik stop om dinge te doen wat ander kinders moontlik kan seermaak. Wanneer kinders nie die vermoë het om hulle emosies te reguleer nie kan klein struikelblokke/irritasies veroorsaak dat hulle oorreageer en dan heeltemal beheer oor ’n situasie verloor. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n kind onskuldig in die gange van die skool loop en dan per ongeluk teen ’n boelie vasloop. Selfs al vra die kind om verskoning kan die boelie sy humeur verloor en die ander kind slaan.

Afknouery in skole is tans ’n groot probleem en iets wat deel van die samelewing sal bly indien ouers, onderwysers en ander rolspelers nie die oorsake van boeliegedrag identifiseer nie. Met die korrekte hulpbronne en leiding kan kinders die regte hulp ontvang wat hulle benodig om konflik te hanteer, in stede daarvan om dit te hanteer deur ander te boelie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het verlede week sy teenboelieveldtog by Laerskool Roodekrans in Roodepoort, Gauteng, van stapel gestuur. Dié projek dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met kinders, onderwysers en ouers in. Dit is belangrik vir die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) en die trauma-eenheid om saam met kinders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.

“Ons is dankbaar dat AfriForum hierdie bewusmakingsprojek by ons skool aangebied het, aangesien ons ’n waardegedrewe skool is wat waardes soos eerlikheid, omgee vir ander, verantwoordelikheid, integriteit en respek nastreef,” sê Deon Rousseau, hoof van Laerskool Roodekrans.

Indien jou kind se skool by hierdie projek betrokke wil raak, stuur ’n e-pos na [email protected].

  • Kyk hier na ’n video van die veldtog:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Eish ·

Verstommende ooreenkoms met die wêreld van die volwassene.

tiaan ·

Kinders se toegang en gebruik van pornografie neem dramaties toe. Navorsing toon dat pornografie onder andere tot geweldadige gedrag kan lei. Lees die boek van dr Jan Bothma “Pornografie : Sal jy hierdie dwelm neem ?” Dit is skrikwekkend hoe die euwel van pornografie onders ons kinders toeneem.

Kev ·

Leandi is n onsaglike mooi vrou, en doen ook nog sulke wonderlike werk!

John ·

Ruik ons nepotisme of is dit van te veel kafeien in ons Afrika-gebroude koffie. Ons Afrikaners kan nie nog kolle op die tafeldoek trotseer nie, terwyl ons self wil vingerwys…

Boetman ·

Ek is nie ñ kenner nie, maar dink die punt wanfunksionele gesin is die begin van alles. Die aggressie lei tot jaloesie wat nie gehanteer kan word nie. Kinders wat mooi en slim en maar is loop ook deur. As jy na boelies en hul gesinne kyk sien mens dit nogal.

Anoniem ·

Ek dink nie mens moet te veel soek na redes tot waarom kinders ander kinders boelie nie. Dit word deur soveel komplekse faktore veroorsaak en elke geval is individueel. Dikwels is dit gewoon net jaloesie. Hoe is dit in die “ou” dae hanteer? Volgens my ondervinding ly die kind wat deurloop baie erger as die boelie. Boelies moet eenvoudig gedissiplineer en gestraf word vir onaanvaarbare gedrag.

Veritas ·

Hoera!!, ek het ‘n maatjie gekry. Elke keer wat ek, in my kommentaar, net durf noem dat ‘n boelie in eie munt terugbetaal moet word, word my kommentaar verwyder. Ek was altyd onder die indruk dat MM debat goedkeur maar moet net nie sê hoe jy oor boelies voel en hoe hulle hanteer moet word nie. Daar is net een manier om ‘n boelie van sy streke te genees. Wiks dit uit hom uit en verneder hom voor die afgeknoudes. Ek waarborg ‘n 100% genesing van die kwaal.

Theresa ·

Boelies neem die geboeliede se vreugde weg. Hul steel lewensvreugde. Meestal seker bedorwe brokkies wat tuis met als oorlaai word en voetjies stamp en ‘n fit vang as hul nie hul sin kry nie. Die twyfel in die gemoed van die geboeliede mensie genees moeilik en soms nooit. Twyfel ontstaan juis omdat die boelie iets soek om op in te zoom soos korter as ander, langer as ander, introversie, sproetjies, haarstyle, brille, nie-sportman/meisie, iemand slimmer as hy/sy, iemand minder slim, enige iets om daardie persoon te verkleineer en minderwaardig te laat voel. Verseker ‘n tweeledige probleem. 1. Boelie se omstandighede en/of bloot sy/haar geaardheid. 2. Die lyer onder ‘n boelie se minagting. Albei kan ondersteun word. Die boelie moet egter ‘n ernstige skriftelike waarskuwing kry en herhaalde gedrag ‘n straf wat ‘n les leer. Die lyer onder boelie-gedrag moet verstaan dat die boelie eintlik die minderwaardige is en dan kan aandag gegee word om so ‘n lyer se selfvertroue te herstel. Geboeliedes moet ook geleer word om boeliegedrag te erken. En dit by ‘n senior persoon aan te meld. Basta met boelies – dis ‘n euwel op alle vlakke.

Danie Mulder ·

Die GROOTSTE teiken van boelies is ongetwyfeld diè leerders wat slim, toegewyd, getrou,
mooi (meisies) en aantreklik (seuns) is. Die boeilie kan positiewe persoonlikhede/karakters nie uitstaan nie en raak neerhalend en uitgesproke aaklig! Nee, Afriforum, dis nie net die bril-
draertjies en “domes” en “vettes” wat geteiken word nie. gaan dink maar weer en voeg diè groep ook by julle voorbeelde!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.