Bestuur krisis-tuisonderwys met hulp

Foto ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

Talle ouers wat steeds in ʼn vorm van “krisis-tuisonderwys” gedompel is, ervaar tans talle emosies, maar hulle moet besef dat daar geen eenvoudige of regte antwoorde is vir die situasie waarin hulle hulself tans bevind nie.

Dit is die mening van Tanya van de Water, die kliniese sielkundige wat tans as ʼn konsultant vir Brainline, ʼn tuisonderwysverskaffer, optree.

Sy benadruk die Covid-19-pandemie het wêreldwyd leerders se onderwys beïnvloed. Dit beteken dikwels dat ouers omskep is in stresbelaaide tuisonderwysers terwyl hulle hul kinders probeer help om hul akademiese skooljaar te red.

In Suid-Afrika het skole teen die middel van Maart gesluit en eers weer op 8 Junie vir gr. 7 of gr. 12-leerders geopen, terwyl ander grade geleidelik terug sal kom skool toe.

“Die status quo tans het daartoe gelei dat ouers nou al die verantwoordelikhede opneem wat hulle voorheen dikwels uitgekontrakteer het. Ouers is nou die sjef, skoonmaker, werkgewer, werknemer, ouer en selfs onderwyser,” sê Van de Water.

Sy meen dit is belangrik dat ouers maatreëls tref om hulle in hierdie onbekende omstandighede te help.

Die onus rus op ons skouers as ouers om duidelike en beslissende rigting te gee. Dit mag ʼn oorweldigende verantwoordelikheid wees, maar hier is drie stappe wat kan help:

Dink eerstens sake duidelik deur en moenie oorhaastig optree nie. Onthou ʼn krisis hou gevaar én geleenthede in – so besluit waarop jy gaan fokus.

Tweedens, moenie huiwer om hulp te vra nie. Jy hoef nie alleen te ly nie – ʼn ouer kan na familie, vriende en tuisonderwysorganisasies uitreik.

Laastens is dit belangrik om fisiek en emosioneel na jouself om te sien.

Coleen Cronje, uitvoerende hoof van Brainline, sê tuisonderwysverskaffers ervaar steeds ʼn toestroming van nuwe leerders omdat talle ouers nog nie gemaklik is met die idee om hul kinders terug skool toe te stuur nie.

Sy sê Brainline het verskeie maatreëls getref om ouers in hierdie onseker tye te help. Brainline het begin om weeklikse inligtingsessies met ʼn geregistreerde sielkundige vir ouers en leerders aan te bied. In dié sessies help die sielkundige ouers en leerders om hanteringsmeganismes te vind vir die kwessies wat die pandemie vir onderwys en gesinne meebring.

Ouers en leerders wat nie aan Brainline behoort nie kan ook die aanlyn sessies bywoon. Daar is ʼn weeklikse vide-opname en artikel van die sessies se besprekingspunte op Brainline se webwerf en sosiale media beskikbaar vir die mense wat nie self die sessie kon bywoon nie.

“Ons kurrikulum is so gestruktureer dat leerders en ouers gereeld met onderwysers kan skakel as hulle met ʼn sekere onderwerp sukkel. Ons het ook ʼn toegewyde mentor om leerders op ʼn persoonlike vlak te help as hulle angs of depressie ervaar.

“Verder skakel ons elke week met die ouers in Brainline se gratis aanlyn sessies waar hulle vrae kan vra en terugvoering kan kry oor kwessies wat hulle het. Ons wil seker maak dat ons ouers en leerders weet dat Brainline vir hulle welstand omgee,” sê Cronje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.