Disleksie en die Brein

kinders

Foto: pixabay.com

Middag Susan

Ek het hulp drasties nodig.

My seuntjie is nou in graad 1 en daar is ’n vermoede dat hy disleksie het. Ek weet glad nie hoe om die probleem te hanteer, waar om behandeling te kry of selfs net ’n toets of iets te laat doen om te bevestig of dit wel so is nie. Ek en my bokkie is al reg om op te gee, want hy sukkel vreeslik. Ruil klankies om, skryf heeltemal ’n ander woord neer as wat hy klank, ensovoorts.

ASSEBLIEF, kan jy help!

Rika

Hallo Rika

Ons het verlede keer gesels oor die simptome van disleksie en die verwarring rondom die term: sommiges beskou dit as ongeneeslik terwyl ander meen dat ’n disleksie-diagnose min waarde het. Ons het ook begin gesels oor tegnologiese vooruitgang, soos fMRI-skanderings, wat dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak het om te sien dat die brein plasties is, en dat neuroplastisiteit die lig aan die einde van die donker disleksietonnel is.

Fantasties-plasties – ons wonderlike brein

Neuroplastisiteit beteken dat die brein kan verander, nuwe breinselle gebore word en oues afsterf, nuwe verbindings gevorm word en dat die struktuur van bestaande sinapse kan verander. Die linkerkant van die brein beheer byvoorbeeld die vermoë om taal te verstaan en te gebruik in 90 persent van die mensdom, en selfs al sou die linkerkant van die brein ’n ernstige besering opdoen, kan die regterkant sommige taalfunksies oorneem. Wanneer ’n mens ’n deskundige op ’n sekere gebied word, is daar groei in die dele van die brein wat met daardie kundigheid en vaardighede verbind word.

’n Interessante studie het bevind dat taxibestuurders in Londen groter hippokampi het as Londense busbestuurders. Die hippokampus is dié deel van die brein wat betrokke is by ruimte-intelligensie en die aanleer van roetes. Hoe langer die persoon taxi bestuur het, hoe groter was sy hippokampus. Dit impliseer dat ’n mens se hippokampus ontwikkel deur ’n taxi in Londen te bestuur.

Daar was ook ’n prettige studie waarin 12 jong mense in hulle vroeë twintigs gevra is om ’n klassieke driebal-jongleurtoertjie (juggle) oor ’n tydperk van drie maande aan te leer, sodat hulle die toertjie ten minste ’n minuut lank kon volhou. Die kontrolegroep, 12 ander jong mense, het nie die toertjie aangeleer nie. Die eerste groep het ’n aansienlike groei in grysstof in die V5-area van die brein getoon; dit is die area wat verantwoordelik is vir die prosessering van visuele beweging.

En wat gebeur wanneer ’n nuut-aangeleerde vaardigheid soos die jongleurkuns verwaarloos word? Kom ons kyk: die deelnemers was gevra om vir drie maande op te hou oefen, en toe het hulle weer breinskanderings ondergaan. Die resultate van hierdie skanderings het getoon dat hulle grysstof in die V5-area verminder het. Hierdie bevinding ondersteun die idee dat die brein oefening en stimulasie benodig, anders verloor ’n mens jou vaardighede.

Plastisiteit is ook duidelik waarneembaar in die breine van tweetalige mense. Dit blyk dat funksionele veranderinge in die brein die aanleer van ’n tweede taal moontlik maak. Mense wat jonk reeds ’n tweede taal aangeleer het, staan ’n groter kans om meer gevorderde grysstof te hê as hulle wat eers later ’n tweede taal aangeleer het.

Nuwe navorsing oor disleksie

Navorsing oor disleksie het natuurlik nie agtergebly nie. Soos lankal vermoed, het fMRI-skanderings bevestig dat daar wel verskille tussen die breine van dislektiese persone en mense wat goed kan lees, bestaan. Die oortuiging dat hierdie breinverskille beperk is tot dislektiese persone (dit is swak lesers met ’n gemiddelde tot bogemiddelde IK), het egter in die slag gebly.

Deur gebruik te maak van breinskanderings het neurowetenskaplike John Gabrieli van die Massachusetts Instituut vir Tegnologie bevind dat swak lesers van alle IK-vlakke (kinders met en sonder disleksie) beduidend minder breinaktiwiteit as gewone lesers toon, in al ses breinareas wat waargeneem is. Daar was dus geen verskille in die breine van swak lesers nie, ongeag hulle IK.

Die resultate van daaropvolgende studies dui ook daarop dat ons dalk die oorsaak-gevolg-verhouding moet omdraai, met ander woorde dat hierdie breinverskille nie die oorsaak van leesprobleme is nie, maar wel die gevolg.

’n Aanlyn publikasie van die Journal of Neuroscience berig oor navorsing waarin die breine van kinders met disleksie vergelyk is met twee ander groepe kinders: ’n groep van dieselfde ouderdom sonder disleksie en ’n groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as dié met disleksie. Die kinders met disleksie het minder grysstof as die groep met dieselfde ouderdom gehad, maar wel dieselfde grysstof as die jonger kinders op dieselfde leesvlak.

Volgens hoofnavorser Krafnick beteken dit dat die anatomiese verskille in die linkerkant van die brein ’n gevolg van die leeservaring van die kinders is, eerder as ’n oorsaak van disleksie.

Kom ons som die bevindinge van neuroplastisiteit, en die navorsing van Gabrieli en Krafnick op: Die brein van ’n dislektiese persoon – en ook alle ander swak lesers – lyk anders as die gewone leser se brein, maar die breinverskille is nie die oorsaak van die leesprobleem nie. Dis die leesprobleem wat die breinverskille veroorsaak, en as ’n dislektiese persoon leer om goed te lees, sal sy of haar brein verander om uiteindelik soos die normale leser se brein te lyk. Selfs al sou daar in enkele gevalle ’n breindisfunksie wees wat bydra tot die disleksieprobleem, weet ons vandag dat die brein wel kan herstel.

Disleksie kán oorkom word

Rika, ek moet weereens bevestig dat daar hoop is. Hieronder is byvoorbeeld die onafhanklike toetsresultate van ’n graad 5-meisie wat volgens die Essi-leestoets drie jaar onder graadvlak gelees het. Haar spelling, volgens die Essi-speltoets, was twee en ’n half jaar onder graadvlak. Sy is met behulp van die Disleksie-Beslissingstoets-Toets (DBT) met “disfoneidese” gediagnoseer. Disfonese is ’n slim woord vir ouditiewe disleksie, terwyl diseidese verwys na visuele disleksie. Disfoneidese beteken dat albei tipes teenwoordig is.

Algemene opmerkings/opsomming:

Marie presenteer met visuele disleksie (diseidese) tydens lees, asook ouditiewe disleksie (disfonese) tydens spelling. Marie se sterker punt lê in die area waar Marie woorde korrek kan spel wat bekend is vir haar. Volgens die Disleksie-Beslissingstoets-Toets (DBT) ervaar Marie die disfoneidese vorm van disleksie.

Interpretasie (Sintese van bogenoemde toetse se resultate) 

_____ Geen disleksie (Geen disleksiese patroon)

_____ Disnemkinese

_____ Disfonese

_____ Diseidese

__X__ Disfoneidese

_____ Disnemkinfonese

_____ Disnemkineidese

Twee jaar later het Marie se lees en spel genoegsaam verbeter sodat sy nie meer as dislekties beskou word nie:

Algemene opmerkings/opsomming:

Marie presenteer nie meer met enige tekens van disleksie nie. Marie se sterker punt lê op hierdie stadium by haar leesvermoëns. Alhoewel Marie se spelvaardighede volgens die DBT steeds binne perke is, behoort Marie se spelvaardighede steeds aandag te kry en ekstra inoefening behoort weekliks gedoen te word.

Volgens die Disleksie-Beslissingstoets-Toets (DBT) ervaar Marie geen dislektiese patroon tydens lees en spelling nie.

Interpretasie (Sintese van bogenoemde toetse se resultate) 

__X__ Geen disleksie (Geen disleksiese patroon)

_____ Disnemkinese

_____ Disfonese

Ons gesels volgende week verder oor disleksie, en veral oor wat dit veroorsaak, want gewoonlik kan ’n mens ’n probleem net oplos as jy weet wat die oorsaak daarvan is.

Tot volgende week.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Breggie van der Walt ·

Waar kan ek asb iemand kontak indien ek meer wil uitvind
i v m disleksie en waar kan ek asb die opvolg
programme bekom,
Baie dankie ek hoor gou van u

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.