Foto’s: Erica Wessels neem rol as ma in op 41

Erica en Stella (Foto: Instagram)

Die bekende Dwaalster-aktrise Erica Wessels neem nóú haar belangrikste rol ooit in as ma, nadat haar babadogtertjie gebore is.

Stella Kato Boshoff is op 11 Oktober om 18:11 gebore en het ʼn gesonde 3,8 kg geweeg.

Maroela Media het vroeër berig oor Erica en haar aktuaris-man, Willem Boshoff, se moeilike pad na swangerskap. Stella is Erica en Willem se eerste kind en Erica was 41 toe sy gebore is.

Erica vertel aan Maroela Media dat sy gehoop het vir ʼn natuurlik geboorte, maar dat sy weens haar ouderdom en haar en haar baba se veiligheid ʼn keisersnee moes ondergaan.

“Ek het myself voorberei dat dinge nie noodwendig volgens my plan gaan verloop nie; ek het net laat gaan en oorgegee, want in geboorte loop dinge selde soos jy dit beplan het. Om te laat gaan, het ek gelukkig voor die tyd geleer, toe ek so gesukkel het om swanger te word,” sê sy.

Buiten die pyn van ʼn keisersnee-sny, sê Erica sy is gesond en sy voel goed. “Ek voel bietjie vreemd in my lyf, want dis nie regtig meer myne nie, maar my melk het mooi ingekom en ek het regtig ʼn wonderlike swangerskap gehad. Ons is geseënd met ʼn vet, gesonde baba.

Stella kato Boshoff (foto: Instagram)

“Ek is mal oor haar,” sê Erica. “Jy word so gedompel in onvoorwaardelike liefde. Ons Skepper het geweet wat Hy doen toe Hy babas so bleddie oulik gemaak het. En al is hulle partykeer ʼn pyn omdat hulle jou wakker skree in die aand, is die liefde só groot. Ek weet nie van waar die liefde vandaan kom of wat presies dit is nie, dis ongelooflik.

“Dit is ʼn fantastiese ervaring en regtig moeilik om vir enigiemand te beskryf.”

Erica vertel dat sy en Willem nie geweet het wat Stella se naam gaan wees voordat sy gebore is nie.

“Ons het idees gehad, maar ons was nog onseker. Maar toe sy uitkom, toe weet ek sy is Stella Kato.”

Kato is Erica se ouma se naam en sy vertel dat sy nog altyd van die naam gehou het. Die betekenisse van name is ook vir haar belangrik. Kato beteken suiwer.

Die naam Stella, wat “ster” beteken, vertel Erica, was nog altyd vir haar ʼn pragtige naam. Sy het aan dié naam gekom in die boek Great Expectations wat ʼn karakter genaamd Estella in het.

Erica, Stella en Willem (Foto: Instagram)

Volgens Erica is Willem ʼn handige pa en is hy nie bang vir ʼn vuil doek nie. Hoewel die paartjie wat in 2016 getrou het, swaarkry met die min ure van slaap wat ʼn pasgebore baba meebring, maak hulle ʼn goeie span.

“Hy is so verlief op haar, dit is nie eens snaaks nie. Dit is wonderlik. Hy was die afgelope elf dae my rots, daar is nie ʼn manier wat ek dit sonder hom kon doen nie.

“Ons albei juig met elke vuil doek en wind wat uitkom. Willem verander baie doeke, hy voed haar, bad haar en help met alles. Dit is wonderlik hoe mens net meer verlief raak op jou man wanneer jy hom so sien,” sê sy.

Erica sê sy was aanvanklik net na Stella se geboorte “hoog van die liefde”, maar dat dinge nou ʼn bietjie meer ʼn realiteit geword het. “Ons vat dit een dag op ʼn slag,” sê sy.

Hoewel daar baie dinge is waarna Erica uitsien met ʼn nuwe mensie in haar lewe, sê sy sy is verskriklik opgewonde om haar te leer ken.

Erica en Stella pas na die geboorte (Foto: Insagram)

“Ek glo kinders kom met ʼn persoonlikheid uit mens uit. En ja, daar is ʼn vlak van jouself wat jy in hulle sien, maar ek glo regtig hulle is hul eie individuele entiteite. Hulle kom met hul eie dinge en talente. Ek sien uit om uit te vind wie sy is.”

Erica sien ook daarna uit om haar belangrikste rol nog, die rol as ma, vol te staan.

“Vir die eerste keer in ʼn lang tyd voel dit of my lewe ʼn ongelooflike doel het. Ek sien uit om die ervaring as ouer te hê; om te sien hoe dit lyk en watter tipe ma ek is. Dit is amper soos ʼn eksperiment, ek sien daarna uit om myself in dié rol te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sonja Alberts ·

Baie geluk julle 2’tjies met julle bonneltjie vreugde!!Sy is pragtig!!

Zettie ·

Baie baie geluk met jul pragtige pienkvoetjie! Sy gaan vir julle eindelose plesier en vreugde verskaf. Geniet haar en koester haar. ♥

Marietjie ·

Dankie dat julle haar vir die publiek wys. Sy is pragtig. Baie geluk.

Linda ·

Baie Geluk met jul pragtige baba !! Mag sy n groot vreugde deur haar lewe vir jul wees !!!

susan ·

Baie groot seer om nie kinders te kan hê. Een van die dinge wat ons almal as vanselfsprekend aanvaar. Dan kry jy ‘n ma wat haar kind emosioneel bully selfs al is haar dogter al ‘n vrou van 50. Wie mag kinders hê en wie nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.