Jou kind en depressie – ken die simptome

Geestesongesteldhede by kinders is ʼn toenemende bron van kommer in Suid-Afrika. Die stres van die daaglikse lewe, eise om in skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite te presteer, egskeidings en die blootstelling aan geweld eis sy tol by die land se jong mense.

Daar word geraam dat 20% van kinders en adolessente ʼn geestesongesteldheid het en dat ongeveer die helfte van alle geestesongesteldhede en dwelmverwante probleme reeds teen die ouderdom van 14 begin.

Volgens Lwanele Khasu, ʼn kliniese sielkundige by Ubuntu Family Health Centre, word tekens van depressie, stres en angstigheid reeds vroeg by jong kinders gesien.

“Ons lewe in ʼn veeleisende en spannigsvolle samelewing. Kinders is onder geweldige druk om te presteer op skool en op die sportveld. Maar behalwe daarvoor word hulle ook blootgestel aan hoë vlakke van geweld, direk sowel as indirek. Hulle hoor hul ouers praat oor inbrake in die buurt, hulle hoor van of weet van mense wat gekaap is en hulle luister na die nuus oor moorde en politieke kwessies. Hulle absorbeer die inligting en dit kan begin om hulle onder te kry,” het Khasu gesê.

“Baie kinders is ook getuies van ʼn bakleiery tussen ouers, terwyl ander deeglik bewus is van finansiële druk by die huis. Die gevolg is dat baie van Suid-Afrika se kinders, nes baie van Suid-Afrika se volwassenes, met posttraumatiese stres lewe. Ons sien dit by kinders so jonk soos twee jaar. Sommige geestesongesteldhede, soos bipolariteit, aandagafleibaarheidsindroom en obsessief-kompulsiewe steuring kan al van ’n baie jong ouderdom, selfs die eerste jaar, opgemerk word.

Daar is ʼn groot hoeveelheid geestesongesteldhede wat kinders kan raak. Party daarvan beïnvloed kinders se ontwikkelingsmylpale, intellektuele vermoëns, motoriese vaardighede en sielkundige volwassenheid.

Khasu sê dit is belangrik om bewus te wees van enige tekens of simptome by jou kind sodat jy vroeg kan ingryp, wanneer dit die effektiefste is.

“Kinders en grootmense kan dieselfde geestesongesteldhede ontwikkel, maar kinders druk dit dikwels anders uit. Byvoorbeeld, depressiewe kinders sal dikwels meer geïrriteerd en aggressief voorkom as depressiewe volwassenes, wat tipies meer hartseer wys. Ouers en versorgers moet veral oplet hoe hul kinders optree, veral as daar merkbare verandering soos buierigheid, irritasie of onttrekking plaasvind.”

Ander tekens waarvoor ouers kan uitkyk sluit in:

  • Rusteloosheid of die onvermoë om take af te handel.
  • Vergeetagtigheid en die gereelde misplaas van items soos ʼn kledingstuk of boek by die skool.
  • ʼn Skielike ongemotiveerdheid vir skoolwerk of die verlies van belang om met vriende te speel, al het hulle voorheen daarvan gehou.
  • Ongewone verandering in geaardheid en persoonlikheid, soos bakleiery, om ander kinders te boelie of die uitdruk van gedagtes om ander seer te maak.
  • Ongehoorsaamheid tuis of by die skool.
  • Skielike bangheid, skrikkerigheid of angs. Dit kan ook die onvermoë om te slaap of nagmerries insluit.
  • Sukkel om te konsentreer, wat kan lei tot swak uitslae by die skool.
  • ʼn Skielike verlies van eetlus. Gereelde braking of die gebruik van lakseermiddels kan op ʼn eetstoornis dui.
  • Fisieke simptome soos ʼn hoofpyn. Dit mag tekens van hartseer of angs wys.
  • Selfbesering en verminking soos om hulself te sny of te brand.
  • Die gebruik van alkohol om hul gevoelens te hanteer.

“Indien ouers en versorgers enige tekens en simptome wat langer as twee weke duur by kinders opmerk, moet hulle hulp soek. Dit is dan kwalik net ʼn fase wat gaan oorgaan,” sê Khasu.

Khasu het gesê ouers moet die tyd inruim om met hul kinders te praat oor dinge wat in hul lewens gebeur.

“Onthou wel dat kinders dit moeilik vind om oop te maak voor ʼn ouer, so dit is belangrik dat die ouers geduldig en ondersteunend moet wees. Skep ʼn geleentheid om te ontspan en om pret te hê saam met jou kind(ers). Vier hul sterkpunte en vermoëns. Jy sal dalk vind dat die kinders dan makliker met jou praat omdat hulle meer gemaklik in die konteks is.”

Khasu stel ook voor dat jy praat met jou kind se onderwyser en vriende om te bepaal of hulle enige veranderinge opgemerk het.

“Indien jy daardeur uitvind dat daar ʼn rede tot kommer is, moet jy nie versuim om ʼn dokter of sielkundige te spreek nie. Jy moet jou kind help om sin te maak van dít waardeur hy of sy gaan deur terapie of medisyne. Geestesongesteldhede dra dikwels ʼn stigma, so jy moet jou kind help om te verstaan dat daar geen skade in is om hulp te soek nie. Inteendeel, dit kan hulle nou en op die langtermyn help as hulle ondersteuning het,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Dis so ·

Dis so hartseer nie een van ons wou dit vir ons kinders en in my geval kleinkinders gehad het nie. Ek dink met verlange terug aan my kind wrrs dae. Hierdie moet ouers en gemeenskappe forseer om saam te staan en wat ookal nodig doen sodat due kind van vandag sorgeloos kan ontwikkel en gebalanseerde grootmense kan word. Hou op toelaat dat alles wat ons ken en lief het vernietig word. Staan op en staan saam.

CK ·

Dit is realiteit dat ons kinders eenvoudig vroeg groot gedruk word. Baie mense opper hulle opinies dat kinders deesdae net eenvoudig te min buite kom, maar ek wonder soms of hierdie mense hul eie kinders het, want wragtig, ek is ‘n senuweewrak as my kinders 16 en 14 wil gaan fietsry en ons bly in die platteland. Dit is eenvoudig realiteit dat hulle nie grootword in ons tye nie. Die lewe daarbuite is siek, daar is siek mense wat om ons rondloop met wangedrag teenoor hul medemens.
Ons as ouerpaar in ons huishouding neem net ekstra tyd om kwaliteit-tyd saam met ons kinders te spandeer. Ek is ook van meening dat tieners regtig baat daarby om ‘n Kliniese Sielkundige te besoek, soms is ‘n 3de party net dit wat hulle nodig het om hul opinies te lig oor wat om hulle aangaan. Hoekom moet kinders net gesien word en nie gehoor word nie. Verstaan my reg, daar is perke tot hoe hulle mag optree, maar maak kinders groot wat weet hulle opinies tel ook.
Net my opinie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.