ʼn Ma vertel: My seuntjie met outisme

Klein Ethan (Foto: Verskaf)

deur Carina Verwey

Maroela Media het vroeër berig oor Carina Verwey, die ma van ʼn outistiese seun, se pleidooi om hulp op Facebook waarop honderde weldoeners landwyd gereageer het. Verwey het dié brief aan alle ouers wat met outisme te doen het, geskryf.

Ethan Verwey, ons pragtige vyfjarige seuntjie met outisme… Waar begin ek? Dis nou al twee jaar en  agt maande vandat hy gediagnoseer is. Dit voel al soveel langer… Ons lewe het so baie verander in hierdie tyd. Ons moes soveel aanpassings maak. Almal van ons in die gesin. Dit was en is steeds nie maklik nie. Ons leer elke dag. Dit is ʼn avontuur. Een wat ons met hom stap, elke dag, en ons stap dit een dag op ʼn slag.

Ethan is ons enigste seuntjie, ons laatlam, die seuntjie vir wie ons so lank gewag het. Ons het twee pragtige dogters, Alicia (23) en Nicole (16). Alicia het ook ʼn pragtige seuntjie, Kian (3). Ons dierbare kleinseun, Kian. Ethan en Kian verskil twee jaar en omdat Alicia en Kian by ons bly, word hy en Ethan soos twee boeties groot.

Ek was 35 toe ons besluit het om ʼn laaste keer te probeer vir ʼn seuntjie. Ons wou so graag ʼn seuntjie gehad het en het besluit dat my ouderdom nou teen ons begin tel. Ons het gesukkel en ná ʼn operasie vir endometriose en ʼn prosedure waartydens my buise skoongespuit is, het ek sommer dadelik in die tweede maand swanger geraak. Groot was ons vreugde toe ons op die sonar sien dat dit ʼn seuntjie is.

Ek het ʼn baie moeilike swangerskap gehad. Op drie maande van swangerskap het ek varkgriep opgedoen en was baie siek. Op sewe maande was ek in en uit die hospitaal en kort daarna tot die einde van my swangerskap het ek Braxton Hicks-kontraksies gekry. Dit is alles faktore wat kon bydra tot sy outisme.

Ethan was op sy regte tyd gebore – ʼn baie gesonde en soet baba. Hy het net op twee maande hospitaal toe gegaan waar ons toe vasgestel het dat hy allergies is vir melk. Dít reggestel, het ek die soetste baba gehad. Dit was so lekker, want hy het nooit sommer regtig gehuil soos wat babas sal huil nie. Behalwe as hy regtig siek was. Hy het nie gehuil as hy wakker word nie. Altyd met ʼn gebrabbel en gesels wakker geword. Ek het nooit gesukkel dat hy aan die slaap moes raak nie. Hy het altyd sommer vanself voor die televisie aan die slaap geraak op sy bean bag.

Hy het op een jaar masels en Duitse masels gehad (ook ʼn moontlike rede). Ek het klein goedjies begin opmerk wat vreemd was, maar vir eers het ek niks daaraan gekoppel nie. Hy het altyd na ons geklap as hy nie iets wou hê of doen nie toe hy ʼn baba was. Ek kon dit nie vir hom afleer nie en dit het my gepla, want dit was iets wat ek baie gou vir die twee meisiekinders kon afleer en laat verstaan het dis verkeerd toe hulle babas was.

Hy het begin om altyd sy bottel vreeslik hard te gooi as hy nie gelukkig was nie of ons iets gedoen het waarvan hy nie hou nie. Toe hy begin loop, het hy altyd sommer so tussen die loop deur gaan stilstaan en met sy een handjie een maal op die vloer geklap en ʼn kwaai skreegeluidjie gemaak. Ons het ook agtergekom dat hy glad nie met sy nefie en toe later met sy niggie gemeng het wanneer hulle kom kuier het nie. Hy was altyd op sy eie. Toe Kian gebore is, het hy ook glad nie soos ander kinders vir die nuwe baba omgegee nie. As ons wys na die baba, dan het hy weggedraai, so asof hy sê “nee”. Hy het net eenvoudig nie omgegee nie. Selfs met ons hond … Hy wou ook nie die hond naby hom hê nie.

Hy het op daardie tydstip redelik geëet en ook begin om oulike woordjies te sê. Hy het toe net nog nooit die kosbare woordjies Mamma of Pappa gesê wat ʼn mens so graag wil hoor nie. Dit het geklink of hy gaan bry in sy spraak en ek kon nie wag dat hy begin praat om te hoor hoe sy stemmetjie sou klink nie.

Hy het minder kossoorte begin eet (wat hy voorheen wel geëet het) en al minder woordjies begin sê, selfs daardie wat hy reeds gesê het. Hy het vreeslik begin skree. Sommer so uit die bloute, hard en kwaai, en hy sou dit party dae heeldag kort-kort doen. Ons het partykeer kopseer gehad daarvan. Hy het voor die televisie vreeslik opgewonde geraak en gespring en sy handjies geflap van opgewondenheid en partymaal in die rondte gedraai. Hy wou glad nie met maatjies meng nie en het steeds aanmekaar sy bottel gegooi. Ek het begin wonder, want dit was als te vreemd. By die twee meisiekinders het ek dit nooit gesien nie en hy het begin agterraak by kinders van sy ouderdom. Ek het op Google gaan soek en soek en elke keer op outisme afgekom. Dan sien ek die video’s van die kindertjies wat baie erg outisties is en sê: “Nee, Ethan het die simptome wat hulle noem, maar hy doen nie die goed wat hulle doen soos om sy kop te stamp teen goed en al die vreemde gedrag wat ek daar sien nie.” Natuurlik het ek nie toe geweet dat daar verskillende grade van outisme is nie en dat geen kind met outisme dieselfde is nie.

Klein Ethan (Foto: Verskaf)

Ek het eendag by die huis gekom met etenstyd, toe het hy weer so verskriklik geskree. Ek het my man gebel en gevra dat ons hom dokter toe vat en net hoor of daar nie iets is wat hulle hom kan gee sodat hy bietjie rustiger kan wees en nie so skree nie. Ons huisdokter het tot ons verbasing gesê dit klink of Ethan outisme het. Hy het ons na ʼn uitstekende pediatriese neuroloog in Pretoria verwys. Ons was ʼn hele rukkie op die waglys, maar kon hom uiteindelik sien en ja, selfs toe ons geweet het wat hy vir ons gaan sê, was die oomblik dat hy die woord outisme noem vir ons oorweldigend en baie moeilik om te aanvaar.

Ons moes Ethan so gou moontlik in ʼn kleuterskool kry, want een van die kenmerkende simptome was gebrekkige sosialisering en dit sou goed wees vir hom om met ander kinders te meng. Ons het in daardie tydstip in Tzaneen gebly en daar was nie ʼn kleuterskool waarheen hy kon gaan nie. Ons het gelees van Boland Skool vir Outisme (School for Autism) in die Paarl en het dadelik ʼn oorplasing gevra. Ethan is in September 2014 gediagnoseer en ons het in Mei 2015 na die Paarl verhuis. Ons lewe het ná sy diagnose ʼn totale omwenteling ondergaan en ons moes soveel aanpassings maak.

As gesin het ons dit soms baie moeilik gevind. Ons kan nie sommer iewers heen gaan nie. As ons dorp toe gaan of winkel toe, dan moet ons ons voorberei. Ons moet al ons opsies oorweeg en beplan, soos vir ʼn meltdown en wat ons dan gaan doen om ons uitstappie deur te voer of kort te knip. Ja, dis nie sommer net eenvoudig nie. Ons kan nie in Checkers loop en sommer in enige gang stap nie. Ethan het ‘n roete vasgelê en ons moet dit loop. As ons enigsins iets vergeet het, moet een van die gesin terugdraai en dit gaan haal. Ons mag nie omdraai nie. Ons moet in al die gange stap en reg in die volgende een indraai, en so sal dit altyd wees. As ons na ʼn mall toe gaan en dis te besig, dan sal hy sy ore toedruk, want die geluide is vir hom net te veel. Hy sal skree totdat ek met hom al stoeiende en natgesweet half amper oor my skouer en al terug is in die bakkie. Dit is altyd so swaar. Almal staar en hulle het geen benul waaroor dit gaan nie. Hulle dink seker hy is baie stout. Dis wat ek seker sou gedink het voor ek geweet het van outisme. Ek is natuurlik elke keer in trane.

Hy loop ook nie in die dorp of enige plek behalwe by die huis en skool nie. Ons moet hom altyd dra of stoot in ʼn stootwaentjie of trollie. Natuurlik sukkel ons met die stootwaentjies, want hy raak nou bietjie groot vir hulle. Ons hoop dat dit ook beter sal raak wanneer hy ouer word en hy self sal loop.

Ons is maar net altyd by die huis. Dis waar hy veilig voel en die gelukkigste is. Ons kan nie by vriende gaan kuier nie. Outistiese kinders dwaal altyd af en bly nie op een plek nie. ʼn Mens moet hulle die HELE tyd dophou. Hulle besef nie hulle dwaal af nie, want hulle leef in hul eie wêreld. Daar is wel een plek waar hy op sy gelukkigste is en wat hom kalmeer, en dis die see. Ethan is mal oor die see!

Ethan eet net ʼn paar goedjies en dit maak dinge soveel moeiliker vir ons in daardie opsig ook. Hy eet net KFC se pops. Geen ander pops of nuggets nie. Hy eet 2 Minute Noodles, droëwors en Flings-skyfies. Dan hou hy net van rooi Cherrie-suigstokkies, pienk Fizzers en net sekere jellielekkergoed. Veral meestal die rooies. Hy drink Oros, Coke, Crème Soda, Raspberry-koeldrank, water en dan sy pienk Nesquick-melk wat ek met Pediasure-melk moet maak. Dit is al.

Klein Ethan (Foto: Verskaf)

Ethan is baie roetinevas. Sy noedels moet elke keer in dieselfde potjie op die stoof gemaak word en hy eet dit net uit een bord. Hy trek net twee paar rooi kousies by sy tekkies aan en hy trek ook nie baadjies of hemde met ritssluiters of knope en krae aan nie. Ek weet dit sal seker ook nog vorentoe vir ons ʼn uitdaging wees, maar ons sal dit hanteer wanneer ons daar kom en hanteer dit nou maar net dag vir dag. Outistiese kinders slaap baie min. Ethan slaap bitter min. As hy voor 23:00 in die aande aan die slaap raak, dan sal hy altyd weer tussen 02:00 en 03:00 die oggend wakker word en dan is hy WAKKER! So, ja! Min slaap vir ons!

Elke ouer het soveel drome vir hul kind wanneer hulle gebore word. Drome van wat hulle eendag gaan word, van hul vrou wat hulle gaan ontmoet en die kinders wat hulle gaan hê. ʼn Pa droom van bal skop en krieket speel saam met sy seun en so baie ander dinge. Outisme verander als, maar as ons kyk hoe spesiaal ons verhouding met hom is, sal ons dit nie anders wou gehad het nie. Selfs nie eens my man nie. Daardie band wat ʼn mens met hulle het, is anders, meer diep en meer spesiaal as wat dit in normale omstandighede is. Dis moeilik om te verduidelik, maar ek weet ander mense met “special needs”-kinders sal presies weet wat ek bedoel. En Ethan is gelukkig! Hy is so gelukkig! Dis al wat belangrik is nou.

Ethan floreer so wonderlik goed in sy skool (Boland School for Autism) en het soveel wonderlike onderwyseresse wat hom elke dag help. Hy begin al soveel woordjies nasê, al is dit nog onduidelik! Ons is vol moed en vertroue dat hy nog gaan praat, al is dit eers later.

Ons kan net vir elke mamma en pappa vra, let op – en as iets nie reg lyk nie, kry inligting van mense wat weet. Hoe vroeër outisme gediagnoseer word, hoe groter is die kans op hulp vir jou kind. En aan die mense daarbuite: Raak bewus van wat outisme is, dit sal families met outisme baie help as ander mense beter verstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Leonora ·

Liewe Carina. Ek is so jammer dat julle hierdeur moet gaan. My seun is ook gediagnoseer (in 2012 eers – graad 8) met Asperger Sindroom. Hy was as kind by verskeie dokters, kort nadat hy Virale Encefalitis opgedoen het na duitse masels. Hy het erge agressie probleme ontwikkel en op ouderdom 2 my deure stukkend geskop. Hy was sy lewe lank geboelie op skool en sukkel nou nog om maats te maak. Hy word hierdie jaar 19 en het sy matriek suksesvol voltooi. Hulle is sulke dierbare mense. Ek kan my lewe nie sonder hom indink nie. Hy gaan glad nie winkel sentrums toe nie, nie eers Spar toe nie. As ons nou ook iewers heengaan, moet ek hom lank voor die tyd reeds voorberei. Dis ‘n moeilike pad, maar daar is soveel mense daar buite wat verstaan en omgee. Sy probleem is wel dat hy nooit kan werk nie, want hy kan nie tussen mense wees nie. Ek wens dat dit so anders kon wees want hy voer nou letterlik ‘n kluisenaarsbestaan. Ek wens julle alle geluk, liefde en vrede toe vir die toekoms. Groete Leonora

peanut ·

Middag Leonora, dis met trane in my oe wat ek jou briefie lees. Glo my, daar is n uitweg. As mamma moet jy jou kniee stukkend kniel voor Vader vir rigting, wysheid en geduld. Ek was self daar, met my kleinkind wat ek van babadag af grootgemaak het. Sy is nou amper 17, n pragtige mensie, steeds met al haar nukke en grille, maar ons het haar ‘forte’ gevind.

Alle werke behels nie dat hierdie uiters spesiale kinders tussen ander moet funksioneer nie, daar is werke waar hulle heeltemal op hul eie kan aangaan, ons moet hul plekkie net vind. My kleinkind is n savant, en uiters begaafd met kuns. Ons het haar aangemoedig deur die regte kunsmateriale, kryte, verwe, ens.te koop en sy het self besluit sy wil n ‘comic artist’ word, hetsy in gedrukte media of rekenaar animasie.

Welenswaar sal sy seker nooit n miljoener daaruit word, maar sy sal haar eie dak oor haar kop, kos en klere kan bekostig. En belangrikste van als, sy sal menswaardig voel en ‘normaal’ behandel word.

Ek bid dat jy jou kind sal kan help om sy volle potensiaal in die verband ook te bereik. Eerste stap is om te kyk waarop ‘hyperfocus’ hy, moedig dan daai area van belangstelling aan, en kyk wat gebeur. En bly op jou kniee, Vader Elohim is oneindig groot.

HN ·

Sit ek hier by my tafel & huil soos ‘n baba. Julle is mammas 1000!! Sterkte vir elkeen van julle. xxx

Riana ·

Outisme is nie ‘n maklike pad nie maar ‘n mens se wêreld word soveel meer verryk en gelèèf deur die oë van ‘n outistiese kind. Ons seun is gediagnoseer toe hy 2jr oud was. Nou amper 4 jaar later kan ek net met ongeloof en verwondering kyk na hom. Hy het al soveel vermag, soveel mylpale bereik. En hy is so gelukkig. As mense outisme hoor het hul hierdie een beeld in hul kop, outsime is so wye spektrum, daar is nie ‘n defnitiewe ‘beeld’ van hoe outisme lyk nie. My seun speel met en soek maatjies, hy is in gewone kleuterskool en probeer als wat sy ouderdomsvlak doen. Hy en sy ouboet is onafskeidbaar (sy ouboet gee soveel van homself vir sy kleinboetie – onselfsugtig met die grootste liefde), hy blom tussen sy niggies en nefies. Dit is net wanneer jy dieper aandag gee dat jy sien sy optrede, handeling en spraak is bietjie anders. Groot verandering in ons leefwyse maar na 4 jaar is ons so na aan ‘n ‘normale’ huishouding as kan kom. Hy slaap deur, bad sonder ‘n gestoei om hom in die water te kry, loop sonder skoene, dra nie meer elke dag ‘n baadjie met ‘n kappie nie, ons kan winkels toe gaan. Selfs al ‘n fliek aangedurf! Dan kom die harde dae – hy is 2016 in hospitaal opgeneem en verpleegpersoneel weet nie wat outisme is nie, die besef daar is soveel meer bewusmaking nodig. Dankie vir elke persoon wat probeer verstaan.

Nitilda ·

Halo tannie *** ek wil begin deur te se DAT tannie hul n wonder like seuntjie het* ek het n Langer journey gehad waar ek nie geweet het wat ek moet doen met my lewe nie, n rukkie terug het ek n baby en petsitting besigheid begin en my passie ontdek * ek het 2 outistiese seuntjies gekry, wat dadelik by my aanklank gewys het en net daar het ek begin navorsing doen en is tans Besig met my onderwys graad wil graag spesialiseer in RO en Dan n leerskool en sosialisering developed vir outistiese kinders* suid afrika het baie min skole en aktiviteite gemik vir Outisme en ek is van plan om dit te verander…. Wat ek eintklik wil se is DAT tannie moet weet DAT daardie seuntjie wonderlik is en DAT tannie hul wonder like ouers is, Engele van bo….. :) tannie kan trots wees!

Herman G ·

Ja, daar is baie in die berig wat ek kan mee identifiseer. My seun (6) se kos soorte wat hy eet kan ek op 2 hande tel (was voorheen 1 hand). Hy het vir lank net ‘n tipe wit tekkies gedra – ek kan vir niemand se hoe bly was ek toe hy begin swart tekkies dra. Ons kan ook nie vir vriende gaan kuier nie, of as ons gaan is dit 2 ure max – dinge loop vinnig skeef!
Maar ek is lief vir hom soos wat hy is – outistiese kinders is baie spesiaal (saam met al die drama).
Met ons reis oor sy outisme, het ek baie sterk vermoede ek is ook outisties – baie dinge uit my kinderjare maak nou sin!
Baie dankie vir die artikel – dis baie goed. Ek is bly jou kind is in ‘n goeie skool – dit maak ‘n groot verskil.

Carina Verwey ·

Hallo julle almal!! Baie dankie vir jul mooiste woorde! Elkeen van julle se storie het my in trane en julle is almal so amazing!!! Julle het deur julle goedheid en liefde en omgee weer vir my geinspireer en gee my soveel moed. Ek het n blog nou op facebook begin want elkeen se verhaaltjie is so spesiaal en tog kan ons almal so ‘relate’ en mekaar verstaan. Deel asb ook elkeen van julle se verhaaltjies en help my asb om sodat julle ervarings ook ander mammas kan inspireer en moed en hoop gee en nog mense kan bewus maak van Outisme. Ek sien so uit en is sommer opgewonde dat ons alles kan deel en mekaar kan help. Gaan like dit asb en gebruik dit ook sodat julle verhaaltjies ander kan help en inspireer. Dankie dankie so baie!! Die blog se naam is Autism – I Am His Voice He Is My Heart

Melt Olckers ·

Ek is ‘n volwasse persoon met outisme, wat voorheen bekend was as Asperger Sindroom, Asperger Outisme en Hoe-Frikwensie Outisme. Ek is selfstandig, met ‘n vaste betrekking. Ek het ook ‘n tersiere kwalifikasie.
Ek sal glad nie wil verander of genees wil word nie omdat outisme vir my ‘n bate is. As gevolg van outisme het ek ook Synisthesia. Dit laat my toe om verbande tussen feite raak te sien wat vir “normale” mense glad nie moontlik is nie.
Outisme is nie ‘n vloek nie, en om Temple Grandin, ‘n Professor met outisme aan the haal; “Die eerste spies was gemaak deur ‘n outistiese persoon terwyl al die ander in die grot om ‘n vuur gesit en klets het.
Die beste ingenieurs en wetenskaplikes is outisties. Dit sluit in Einstein en Newton wat die fondament gele het vir die moderne wetenskap. In die woorde van Dr Tony Atwood is rekenaars ontwikkel vir outistiese persone, deur outistiese persone. Die eerste rekenaar, bekend as die Turing Masjien was gebou deur Alan Turing wat outisties is. Ander bekendes met outisme is Suid Afrika se Daantjie Badenhorst wat Noot vir Noot gewen het, Julian Assange, Daryl Hannah, Dan Aykroyd.

Carina Verwey ·

Dis waar Melt. Ek het al so baie oor dit gaan lees en ek weet al die ander mammas ook! Outistiese mense is baie intillegent en talentvol en baie opreg. Ethan begin nou eers woordjies sê al is baie nog onduidelik en meestal in Engels. Hy is nou 5. Hy tel tot by 20 en terug en is baie lief vir syfers en tel. Dan is hy ook baie lief om na die woorde op die tv te kyk. Die name van die kanale bo in die hoekies en veral aan die einde van film as die woorde oor die skerm begin rol rol. Hy sal voor die tv gaan staan en ons mag nie die kanaal verander voor dit klaar is nie. Daar was ook al n oorsese artikel van n mamma wat gesê het dat hul agtergekom het dat haar seun homself so leer lees het. Ek sien hulle noem dit Hyperlexia.( The advanced ability to read compared to the ability to understand spoken language. Children with Hyperlexia have a precocious ability to read words( far above what would be expected at their chronological age) or an intense facination with letters or numbers. Between 5 or 10 percent of children with autism have been estimated to be hyperlexic.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.