Outisme-bewusmakingsmaand – ʼn Persoonlike ervaring

Jandré-kunsuitstalling-outisme

Jandré by sommige van sy kunswerke. Foto: Verskaf.

Dit is nou die tweede dag dat ons jongste, wat môre 23 word, sy pa en ma nie kan aankyk nie. Hy beweeg soos ’n spook deur die huis en kom kry kos wanneer hy weet pa en ma sal nie in die kombuis op hom afkom nie.

Jandré is outisties. Die rede vir die optrede: ’n Paar jaar gelede moes sy ouboet se honde, Wolf en Sheba, by ons kom bly omdat hulle te veel van die plaasskool waar hulle waghonde moes wees, weggeloop het. Twee jong honde – Wolf was nog nie eens heeltemal uitgegroei nie – en met hul lewendigheid het hulle Jandré verkeerd opgevryf. En so iets verander nie sommer nie.

Die twee het ʼn ruk later saam-saam onder ’n bus beland. Wolf, ’n wit poolhond, was byna pikswart getrap, maar het min of meer niks oorgekom nie. Sheba het dit nie gemaak het nie.

Teen wil en dank moes Pumba, ons ou boerboel, die treurende Wolf se speelmaat word, maar kort daarna was Pumba ook nie meer daar nie. Wolf het opgehou vreet, en ons het die kleine Nala gekry om sy treurmare te verbreek. Dit het soos ’n bom gewerk.

Die probleem is dat Wolf steeds net een baas erken, en dis ons oudste wat so elke paar maande kom kuier. Wolf is gek oor sy baas. Ons mag glad nie probeer instaan, soos met dissipline nie. Hy reageer aggressief.

En dis waar sy probleme by Jandré verdiep het. Jandré en Nala is weer baie erg oor mekaar.

Met die droogte het Jandré begin om ons tuin met die badwater nat te lei en dit het wonderlik gehelp. Sy doring in die vlees was egter Wolf, wat nie soos ’n gewone hond skrop as hy sy ding gedoen het nie, maar behoorlik ’n stofstorm opskop.

Plantjies en struike bly lag-lag in die slag. Dus word die honde nou so goed as moontlik uit die voortuin gehou, wat apart afgekamp is, maar as ons met die honde gaan stap, of as Wolf saam gaan ry (Nala haat saamry), dan kom hy kortstondig in die voorste tuin. En soms neem hy sy kans waar en skrop.

Sondag was dit weer so – maar Jandré het Wolf op heterdaad betrap – busted!, en ʼn  skermutseling het ontstaan. Vroulief Joan het Jandré aangepraat want ʼn mens is bang die hond byt hom dalk.

En toe het die langdurige vloermoer begin. Ongelukkig kan dit nie sommer maklik kortgeknip word nie. Hy moet ook eers op sy manier afkoel, en dan moet ons mooi om verskoning gaan vra (skuldig of nie), en gewoonlik sal hy ook dadelik om verskoning vra, en dis asof niks gebeur het nie.

Gelukkig gebeur dit min.

Hoewel Jandré oor beperkte spraak beskik en die woordeskat wat hy het nog moeilik uitspreek ook (hy vind Engels sonder die harde klanke makliker), en heelwat klassieke outistiese kenmerke het, is hy in baie opsigte ʼn droomkind. Trouens, hy is so lieftallig en gereed om drukkies te gee (hoewel die grootword-stramheid daarmee ook ingetree het), dat hy eers baie laat as beslis outisties gediagnoseer is. Op jong ouderdom het een van die land se voorste kenners hom trouens as “beslis nie outisties nie” gediagnoseer.

Hy kan al van jongs af self kos maak, hy is kunstig en sy is kunswerke gewild, hy is ʼn kranige bergfietsryer en was dol oor judo wat ons weens die studente-onluste op die kampus moes kortknip. Maar nie voor hy ʼn geel gordel gekry het nie.

Spider-Man is jare lank sy held. Wanneer ’n nuwe Spider-Man-reeks begin, maak hy weer ’n nuwe Spider-Man-pak, want Spider-Man se pakke verskil van reeks tot reeks. Niemand het hom geleer naaldwerk doen nie, en hy meet ook bloot met die oog om die grootte en proporsies reg te kry.

Die aanwesigheid van ’n outistiese kind in die huis bring vir die hele gesin groot aanpassings. Kuierplekke en kuiermense moet so versigtig gekies word om die kans op ’n probleem te voorkom. Van jongs af moes ek hom menige keer al skoppende, krappende en bytende oor my skouers uit ’n winkel dra omdat hy iets wou hê waarvoor daar eenvoudig nie geld was nie. Eers toe sy kommunikasie verbeter het en hy beter kon verstaan, het dit verander en het hy eintlik besonder inskiklik geword.

Hy het ’n ongelooflike sin vir rigting. By ’n rugbywedstryd sal hy tussen neus en ore verdwyn en al die toeskouers word oor die luidsprekerstelsel gevorder om te help soek. Iemand moet kort-kort motor toe hardloop om seker te maak hy het nie daarheen koers gekies nie. En dan daag hy bloot dood ongeërg by ons op. Hy het gesien waar word die Coke verkoop, en hy meen dis tyd dat pa die hand in die sak steek.

En soos enige pa sal kan getuig, om selfs met ’n miljoen rand in die sak rugby toe te gaan en ’n mens span nie die brieke in nie, beteken ’n mens is na die rugby daai miljoen rand armer.

Joan, ’n opgeleide onderwyseres, het vir hom tuisonderrig begin gee nadat die een Bloemfonteinse spesiale skool hom weens sy outisme nie wou hê nie, en die ander spesiale skool hom weens sy hoër IK nie kon vat nie. Ons het nie die hart gehad om hom Pretoria toe te stuur en in ʼn koshuis te sit nie. Hy het eenvoudig ’n té toegeneë en liefdevolle geaardheid, en met sy gebrekkige begrip sou die sin daarvan ook nie aan hom verduidelik kon word nie. Maar voor hy uit die skool is, was hy, kwalik meer as net ’n graat, vreeslik beïndruk met hoe “terks” hy is toe hy derde in gewigstoot gekom het.

’n Pa van so ’n kind kan ook nie bekostig om gou oud te word nie. Terwyl hy nog in die skool was, moes ek gereeld skool toe ry wanneer die atlete landloop oefen, en saam hardloop, want anders besluit hy gewoon self wanneer hy klaar is. Met een wedloop, met sy rigtingsin, het hy gou ’n kortpad uitgepluis, en daarvandaan moes pa hom basies eindstreep toe sleep, want hy kon nie verstaan waarom die vreeslike ompad gehardloop moes word nie.

So het ek naderhand weer ’n Naval Hill-wedloop gehardloop nadat ek eintlik as student “uitgetree” het, en op ouderdom van 50 my eerste standaard halfmarathon voltooi het (en weens die toestand waarin ek was het Joan ook gelas dit was my laaste).

Die fietsry was min of meer dieselfde storie. Hy kon ook naderhand aan taamlike wedrenne deelneem, soos die Volksblad-wedren. ’n String deelnemersmedaljes hang in ’n kas in ons eetkamer.

Daar is wonderlike vrugte. Om maar een voorbeeld te noem, nadat ek met kanker gediagnoseer is en die behandeling dit vir my moeilik gemaak het om te loop, en veral trappe te klim soos by die kerk, sou Jandré sorg dat hy byna teenaan my die trappe uitklim om te keer dat ek val.

Kersfees is sy ding, en klokslag op 1 Desember slaan hy ons Kersboompie op, versier dit (meestal met keramiek-versierings wat hy self gemaak het), en sorg  dat presente, soos ons dit kry, mooi toegedraai onder die boompie kom. Kersaand sit hy sy Kersvadermus op en deel die geskenke uit.

Omdat hy so laat eers met outisme gediagnoseer is, het ons baie navorsing gedoen om te probeer vasstel wat hom makeer, sodat ons kon vasstel of iets gedoen kan word. (Dit is eienaardig hoeveel mense en selfs deskundiges by ons wou weet hoekom ons wou weet). Vandag word heelwat sindrome, sommige uiters skaars, onder die sambreel van outisme ingedeel.

Wat belangrik is om van die oorsaak van outisme te weet, is dat outisme die gevolg van een van ’n aantal genetiese mutasies of enkele chromosoomafwykings kan wees. Wat verwarrend is, is dat so ’n afwyking dikwels eers deur ’n snellerfaktor geaktiveer moet word. ’n Mens kan dus twee persone met dieselfde afwyking hê waarvan die een geen teken van outisme het nie, en die ander outisties is. So is byvoorbeeld vasgestel dat die kanse dat ’n baba outisties sal wees groter is as die ma in ’n bepaalde periode van haar swangerskap griep kry. Die griep self kon egter nie die outisme veroorsaak nie, want die genetiese mutasie was lank reeds teenwoordig.

Daar is reeds meer as 20 mutasies ontdek wat outisme tot gevolg kan hê, en dit sal waarskynlik meer word want dis soos om ’n naald in ’n hooimied te soek. Daar is byvoorbeeld nog net twee mutasies gevind wat disleksie veroorsaak, en albei is oorerflik.

Is outisme oorerflik? Die kanse dat iemand wat erg deur outisme geraak is die sosiale vaardighede vir ’n huwelik sal ontwikkel en trou, is skaars. Outisme is dus gewoonlik as die gevolg van de novo-mutasies toegeskryf. Elke mens beskik oor ʼn hele aantal genetiese mutasies waaroor die ouers nie beskik het nie, wat hulle dan ook uniek van die ouers maak, maar in enkele gevalle ’n skadelike mutasie kan insluit.

Die Nederlandse stad Eindhoven het egter die bynaam van “stad van outisme” gekry omdat die voorkoms daarvan onder kinders hoër as elders in Nederland is. Dit blyk dat Eindhoven se nywerhede tipies mense benodig wat lank, intensief eentonige werk kan verrig. Baie van hierdie werkers beskik klaarblyklik oor hierdie eienskap juis omdat hulle ’n ligte graad van outisme het wat nie normaalweg geïdentifiseer word nie. By die kinders kan dit egter erger manifesteer.

Geen ouerpaar is gewaarborg dat hulle nie ’n outistiese kind gaan hê nie, al was daar nog geen outismegevalle in die uitgebreide families van die ouers nie. Die belangrike is dat elke outistiese kind ’n unieke individu is, en ’n mens raak vreeslik geheg aan daardie kind. Hoe gouer die outisme gediagnoseer word, hoe beter is die kanse dat die regte terapie en hope ouerliefde ingespan kan word om die kind die beste moontlike kans in die lewe te bied. Iets soos ’n spesiale trust vir die kind gaan eerder vroeër as later geskep word om ’n geldjie op te bou vir die versorging wanneer die ouers die dag nie meer daar is nie.

Om ’n outistiese kind te hê is die begin van ’n nuwe fase in ’n mens se lewe, nie die einde nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Johann ·

Middag Herman, ek kan sien Jandré is ‘n knap en welopgevoede jong man. Sy toekoms is blink te danke aan sy ouers wat hom so liefhet en waardeer. Dankie dat julle so mooi sorg vir hom. Sterkte met jou siekte.

Jolandi ·

Wat ‘n pragtige artikel oor iets waarvan mense eintlik so min bewus is. Ek salueer ouers wat outistiese kinders het, die wat ek bevoorreg is om te ken het die wereld se geduld en liefde! Mag die wereld ook so hulle arms oopmaak om mense met outisme te akkomodeer en te respekteer. Mag God elke familie soos die ekstra seën.

Jacoba ·

Baie dankie vir ñ positiewe en insiggewende artikel. Jandré is ñ gelukkige jong man om julle as ouers te hê.
Ek stem saam, dit is ñ voorreg en ñ uitdaging om ñ kind met outistiese einskappe in die huis te hê. Ons seun (11 jr) het fragile-x sindroom, met sommige outistiese kenmerke. Hy het ñ dierbare hondjie, ñ Jack Russell, wat hom soos goud oppas. Saam het hulle tonne energie!
Ons seun baat geweldig baie by perdry. Ek wens alle outistiese kinders of volwassenes kan die geleentheid kry om met perde in kontak te kom.
Ek wens Jandré en sy gesin nog baie vreugde en seën toe.

Eliza-beth ·

Jou berig het my wou tranerig maak maar ook laat glimlag. Tranerig, omdat so min mense so min verstaan oor enige soort “geestestoestand” as jy dit so kan noem, en glimlag oor jou positiewe ingesteldheid en die humor in hoe jy dinge beleef. Dit kan sowaar nie maklik wees nie en ek glo mense met sulke kinders is spesiaal uitgesoek as ouers omdat nie enigeen dit kan hanteer nie. Sterkte!

E ·

Die knop sit nou so hier in my hart vas. Mag die Here hierdie ouers seen met alles wat hulle nodig het om hulle reis met die jong man te voltooi. Ons kry hierdie spesiaale kinders nie net sommer nie. Dit is spesiaale ouers wat hierdie kinders kry, so uit God se hand, want dit is n geskenk van bo en so n groot seen. Kyk net die pragtige skilderye! Ek wens net die publiek dink eers mooi voordat hulle onvanpaste opmerkings teenoor hierdie kinders maak, en ja ook onderwysers. Ek weet want ek is in dieselfde booitjie. Dit vat aan n ma se hart om te hoor haar kind het geen maniere nie of is bloot onopgevoed.

Mamma en pappa, welgedaan! Julle sal wel die prys aan die einde van die wedloop ontvang. Wees sterk en hou moed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.