Outisme – wat jy moet weet

outisme

Foto: Autismepicenter.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Gevalle van outisme neem wêreldwyd toe. Tog is die simptome van dié toestand soms so vaag dat ouers en selfs medici nie altyd verstaan wat ’n kind makeer nie. Boonop is daar ’n groot gebrek aan opleiding asook onkunde wat outisme betref, wat dikwels verhinder dat dit reg gediagnoseer en behandel word. 2 April is Wêreld Outismedag. Hier is inligting wat ouers behoort te weet.

Outisme is ’n neurobiologiese ontwikkelingsteuring wat hoofsaaklik deur sosiale, kommunikasie- en gedragsprobleme gekenmerk word.

Op sosiale vlak weet kinders met outisme nie hoe om met ander te verkeer nie. Hulle speel selde met ander en hou hulself liewer eenkant besig met herhalende, soms eienaardige gedrag. Hulle kan ook nie ander se emosies en liggaamstaal verstaan nie en tree dikwels onvanpas op. Sowat 40% van outistiese kinders gebruik nooit woorde vir kommunikasie nie, of hulle manier van praat is eienaardig en herhalend. Baie verkies ook gebare, eerder as woorde, om te kommunikeer.

Wat gedrag betref kan outistiese kinders heeltemal obsessief raak oor ’n onderwerp of voorwerp, of hulle haak vas by ’n spesifieke ritueel. Soms voer hulle herhalende bewegings uit, soos om heen en weer te wieg, en hulle kan veral sensitief wees vir sekere klanke, reuke, teksture en selfs aanraking.

Om die situasie meer verwarrend te maak, is die term “outisme” omvattend vir vyf verskillende toestande wat in die outismespektrum val. Dit is:

  • Outistiese versteuring: Die klassieke vorm van outisme waar kinders meestal in hul eie wêreld leef en nie eintlik op die buitewêreld reageer nie.
  • Aspergersindroom: Lyers het ’n gemiddelde of bogemiddelde intelligensie en hul taalontwikkeling is gewoonlik uitstekend, dus kom baie ouers nie dadelik agter iets is verkeerd nie.
  • Rett-versteuring: Byna net meisies ly aan hierdie seldsame toestand. Hulle sukkel om te kommunikeer, het eienaardige handbewegings, groei stadig, loop moeilik, en hul koördinasie is swak.
  • Kinder-disintegrasie-versteuring: Kinders ontwikkel normaal tot op die ouderdom van twee of drie, en begin dan agteruitgaan. Hierdie seldsame vorm van outisme gaan soms met epilepsie gepaard.
  • Omvattende ontwikkelingsversteuring: Dit sluit kinders in wat sommige maar nie al die simptome van outisme toon nie en is op baie kinders van toepassing.

Alles van besoedeling en dieet, tot die MMR-inenting teen masels, Duitse masels en pampoentjies is al as oorsake van outisme ondersoek, maar die oorsaak bly onbekend. Wat kenners wel weet, is dat outisme ’n lewenslange toestand is en teoreties nooit genees kan word nie.

Gevaartekens

Indien ’n kind – veral tussen die ouderdom van twee tot vyf – ’n buitengewone kombinasie van die volgende eienskappe of gedragspatrone toon, moet dit met ’n spesialis bespreek word.

  • Geen gesigsuitdrukkings en/of eentonige stemtoon
  • Ontwikkeling van spraak stadig, of praat glad nie
  • Reageer nie as jy met hom praat nie, lyk doof
  • Lyk asof hy in ’n wêreld van sy eie leef
  • Maak min of geen oogkontak
  • Verkies om op sy eie te speel
  • Swak verbeelding, sukkel om self met verbeeldingspeletjies te vermaak
  • Ingestel op fyn detail
  • Obsessiewe, herhalende gedrag, byvoorbeeld maak deure aanhoudend oop en toe
  • Eienaardige gedrag, byvoorbeeld wieg heen en weer
  • Gedrag waarmee hy homself kan beseer, byvoorbeeld kopstamp, byt, krap
  • Kan nie by vreemde roetines of rituele inskakel nie
  • Hou nie van fisieke aanraking nie
  • Baie sensitief vir klank of sensoriese prikkels, soos harde geluide, growwe materiale of helder ligte.

Die diagnose

Die werklikheid is dat diagnose van dié toestand ’n gesin se lewe ingrypend verander, en dat dit hoë eise stel aan ouers ten opsigte van tyd en geld. Boonop is die simptome van outisme so wyd – en elke lyer se behoeftes so uniek – dat daar nie een enkele oplossing vir almal is nie.

Gelukkig ontdek navorsers elke dag meer oor hoe presies outistiese breine werk en kenners – veral dokters, terapeute en onderwysers – spits hulle toenemend daarop toe om meer van die toestand te leer.

Dus hoef ’n diagnose van outisme nie ’n hopelose situasie te wees nie. Terapie, die regte opvoedkundige omgewing en professionele ondersteuning kan ’n reuse-verskil in die lewens van outistiese kinders én hulle ouers maak.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae