Stop die stigmatisering van kinders wat met hul gewig sukkel

Argieffoto (Foto: FeeLoona/Pixabay)

“Hou op lui en sleg wees en begin oefen.” Só lui een van die kommentare, in reaksie op my vorige Maroela Media-artikel waarin ek wenke vir die hantering van oorgewig kinders gee.

Die persoon sê verder dis bog dat vet wees net soos verslawing of ʼn siekte is. “Jy wou mos vet word, deal with it,” sê hy.

Nog iemand onder ʼn skuilnaam besluit om gewig-stigmatisering verder te voer, deur die woorde: “Begin om sport te doen dan sal die goed nie gebeur nie. Gaan kyk maar as die kinders oorgewig is, dan lyk die ouers nie veel beter nie.”

En dan verder: “Die probleem begin by die ouers. Geen kind word oorgewig gebore nie.”

Onderaan al die kommentare reageer ʼn anonieme mamma: “Julle, as ouers, is vinnig om te oordeel oor die van ons wat wel kinders het wat oorgewig is. Dis juis ouers, soos julle, wat die lewe vir die oorgewig kinders hel maak.” Haar dogter het skildklierprobleme wat daartoe lei dat sy met haar gewig sukkel.

Dié dogtertjie en vele ander kindertjies is nie net oorgewig nie, maar leef ook met die stigmatisering wat daarmee gepaardgaan.

Argieffoto (Foto: aguri_art/Pixabay)

Nie net op ʼn mediaplatform, soos Maroela nie, maar op die speelterrein, by kinderpartytjies en op die sportterrein is daar alewig die wyses en stigmatiserendes. Dit is boelies wat geen begrip het vir die wêreld waaroor hulle hul uitspreek nie. Hulle maak net seer en stigmatiseer.

Kinders en mammas vlug in hulleself en leef eerder met oorgewig as om dit te erken en te hanteer. Boelies in die gemeenskap skep ʼn klimaat van verwerping. Stigmatisering dra by tot oorgewig en doen niks om dit aan te spreek nie.

Dr Bacon en dr Tomiyama (2018) bevestig dat gewig-stigmatisering ʼn negatiewe effek op die persoon het: “It’s clear from decades of research that weight stigma is much more damaging [to a patient’s health] than high weight itself.” Die rede hiervoor is dat diskriminasie en stigmatisering ʼn fisiologiese stresreaksie in die liggaam kan veroorsaak wat verhoogde kortisole vlakke tot gevolg het, wat tot baie ander mediese toestande lei, en dikwels geassosieer word met oorgewig.

Ons moet deur die stigmatisering van kinders wat oorgewig is, breek. Ons moet ophou om die oorgewig kind te spot as hy/sy om die baan draf. Volgende keer draf hy liewer nie weer nie.

Argieffoto (Foto: manfredrichter/Pixabay)

Ek wens ek kon daardie stigmatiseerders in my praktyk neersit en aan hulle die wonderlike kindertjies met hul talle uitdagings wys. Ek sou hulle vertel van die verband tussen trauma en oorgewig. Egskeidings, dood en siektes. Die gevoel van verwerping wat ʼn kind beleef as pappa en mamma skei, die skok van pappa se skielike dood en die spanning as gevolg van mamma se siekte. Die ongevraagde opmerking verstaan nie die kind se konteks nie en jul sal nie eers weet van die seer wat jul veroorsaak nie.

Ek sou wou vertel van kindertjies wat gemolesteer is en onbewustelik hul lyfies groot maak om onaantreklik te wees, sodat dit nie weer gebeur nie.

Ek sou hul vertel van verskillende siektetoestande wat tot oorgewig lei. Die onsekerheid om die siekte te hanteer en die hartseer, omdat die kind op skool gespot word. En weet julle stigmatiseerders hulle sou ook graag sport wou doen, maar hulle kan net nie.

Daar is wel kinders wat op die bank sit en te veel tyd op selfone spandeer, maar gaan krap bietjie daaragter en jy gaan dalk depressie, eensaamheid en ʼn gemis aan gebondenheid kry. Dit gaan dalk oor ʼn onbetrokke pa of ma of eenvoudig ouers wat finansieel probeer oorleef en ure by die werk moet spandeer.

Ons lewe in kitstye, kitskos, kitsdiëte en kitsverhoudings. Ouers stoei daarmee en moet toegerus word om dit te hanteer. Julle kitskommentaar, soos “gaan oefen net”, “eet net reg” en “dis die ouers se skuld” is ongelukkig deel van die euforie van kitsoplossings.

Argieffoto (Foto: ddimitrova/Pixabay)

Die uitdagings van oorgewig is baie meer kompleks. Die antwoorde is ook baie meer kompleks. Soms moet trauma eers hanteer word, ʼn mediese toestand moet behandel word, ouers moet toegerus word en natuurlik is gesonde oefening en eet een aspek daarvan.

Terwyl die kind stoei met oorgewig moet hy en sy toegerus word om boelies en die vooroordeel van die gemeenskap te hanteer.

ʼn Goeie begin is om nie te stigmatiseer en te veroordeel nie. Baie mense het baie uitdagings.

Niemand is perfek nie. Almal moet met hulle uitdagings stoei en nooit onverskillig daarteenoor staan nie.

Daar is verskillende mense: langes en kortes, ongeskiktes en vriendelikes, grotes en kleintjies, die wat akademies briljant is en die wat met hulle hande kan skep. Almal het egter een ding gemeen en dit is dat hulle deur Hom geskep is, presies soos Hy hulle wil hê en Hy is lief vir almal, net soos hulle is.

Bronne
Rodriquez, T. 2018. Is weight stigma worse than obesity? How to provide more compassionate care.
Sutin, A.R., Stephan, Y. & Terracciano, A. 2015. Weight discrimination and risk of mortality.
Tomiyama, A.J., Carr, D., Granberg, E.M., Major, B., Robinson, E., Sutin, A.R. & Brewis, A. 2018. How and why weight stigma drives the obesity ‘epidemic’ and harms health.

Dr Elsha Hermann is ʼn spelterapeut en spesialiseer in haar praktyk op kinders wat met oorgewig leef. Vir meer inligting kan www.ekterapie.co.za besoek word of stuur vir dr Hermann ʼn e-pos by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bronwyn ·

My 12 jarige dogter het insulienweerstandigheid en as gevolg daarvan sukkel sy ook met haar gewig en sy probeer regtig alles om daaraan te werk. Dit het my as mamma gemotiveer om vir hierdie girls n klere reeks te begin asook hulle te motiveer en hulle te laat weet dat hulle Goed Genoeg is net soos hulle is! BOO! probeer regtig hierdie meisies help om hulle gewig situasies te aanvaar en help hulle om op hulle goeie eienskappe te konsentreer. Dit is nie maklik nie maar ek glo met hulp, leiding en ondersteuning kan ons n verskil maak.

magda ·

oorgewig, ongemanierde en lui kinders begin alles by die ouerhuis. asb ouers raak wakker en sien die probleem raak voordat dit hande uitruk. tree dan ook betyds op want voorkoming is beter as genesing

Humbug ·

Magda duidelik het jy soos vele ander van ons mensdom n probleem met oorgewig mense. Jy het duidelik n bril nodig om die vorige kommentaar te lees en te sien dat haar dogter n daadwerklike probleem het. Sy eet haar nie so nie. MAAR WEEREENS is dit n bewys die stigma dat net maergatte n reg het om te lewe! Kom besoek saam my n onkologie eenheid en sien hoe gaan volwassenes en kinders dood vd honger. Hoe mollig word kortisoo gebruikers maar hul eet hulself mos so. Sies man wie is julle om te oordeel. Stap n dag in hul skoene dan kan jy en al die ander wat snedige aanmerkings maak daaroor dink. Vet mense eet nie hul almal vet nie. Fyi daar is mediese redes ook. So hou op oordeel. Dankie mm vd artikel. Well done bronwyn dat jy nie n mamma is wat jou kind verneder nie of skaam is vir haar nie

Lukas ·

Kan die skrywer dalk verduidelik hoekom party lande se mense meer sukkel met oorgewig as ander lande s’n. Ek was al male sonder tal in Rusland, en daar is bitter min oorgewig kinders of volwassenes. So ook toe ek onlangs in Italië was, so te sê geen oorgewig mense gesien nie.

E ·

Bronwyn, ek ‘like jou. Go, go, go. Dit is positiewwe mammas wat jong dames ondersteun se voorreg om eendag terug te sit en kyk hoe hul dogters floreer.
Ek en my meisie sing en dans baie saam. Een van ons gunsteling liedjies is:” I’ts all about the base” van Megan Trainor.

Jack Russl ·

Ja, daar is mense wat sukkel met n mediese toestand. Die meeste het egter n mediese toestand agv oorgewig wees.

Soos die berig sê alles is kits deesdae. So ook is alles n mediese kondisie. Hierdie slagoffer mentaliteit moet end kry. Boelie, stuur sielkundige toe. Swak resultate, trap onderwysers uit.

Sputnik ·

Baie goeie artikel. Ek is van mening dat “reg eet” ‘n baie groot rol speel, maar ja, dié artikel gee my ‘n breër perspektief.
Jack Russl, jy laat my dink aan die ou gesegde “as Sannie sukkel op skool is dit die onderwysers wat swak is. As Sannie egter presteer, is sy, ai, tog só begaafd en slim!”. As jy ‘n hond wil slaan sal jy altyd ‘n stok kry.

Markus ·

In Ethiopië word die kinders nie gespot omdat hulle oorgewig is nie want hulle het nie kos om te eet nie. Die Dr’s diagnoseer en verdedig graag want hulle rekeninge word lekker dik.

Lag maar ·

“Ek het n skuldklier probleem”, se Groot Sannie terwyl sy nog n chocolate in prop. Dis net te maklik om als op mediese of mentale toestande te blameer. Simpatie vir die baie min wat wel mesiese toestande het, maar wragtig mense word wakker en hou op verskoning soek vir als.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.