Suksesverhale van tuisonderwys

Cobus en Lana Maree saam met hulle kinders Cherié, Delarey, Righardt en Desirèe. (Foto: Verskaf)

Alhoewel tuisonderwys al jare in die prentjie is, het die uitbreek van die koronavirus die soeklig opnuut op tuisonderwys geplaas. Na wat berig word, was daar voor die inperking ongeveer 150 000 kinders wat tuisonderwys ontvang het. Sedertdien het daardie getalle gestyg tot ongeveer 450 000. Yolanda Wessels het gesels met twee gesinne wat dié pad al lank stap en oor die loopbaankeuses wat dit tot gevolg gehad het.

Vir die afgelope veertien jaar gee Cobus en Lana Maree hul kinders tuisonderwys. Hul kinders was nog nooit in ’n skool nie en is nou 18, 16, 11 en 9.

“Ons tuisonderrigpad het begin toe ’n gehoorprobleem by ons oudste, Cherié (18), gediagnoseer is toe sy drie en ’n halfwas, en die oudioloog vir ons gesê het dat alhoewel sy bogemiddeld intelligent is, sy binne twee jaar in ’n skool vir gehoorgestremdes kan beland, sou ons haar skool toe stuur. Die besluit was eenvoudig, die huis was die beste plek vir haar.”

Aanvanklik het die Maree’s begin met ’n baie formele kurrikulum en toe Delarey (16) later bykom, het hulle vinnig agtergekom dat die kurrikulum hulle bestuur en nie andersom nie.

“Vier jaar in hierdie avontuur het ons Martie du Plessis van Dynamis Instituut ontmoet. ’n Seminaar en ’n gesinskonsultasie later het ons ’n totaal nuwe rigting ingeslaan, in ’n selfgerigte leerrigting, wat vandag bekend staan as “Uncapped Education”.

Lana vertel dit het hul lewens totaal en al verander, in die sin dat hulle verhoudings wat skade gely het as gevolg van hul onkunde, kon herstel en leer weer opwindend en lekker kon maak vir die kinders.

“Ons het die formele werk beperk tot wiskunde en tale en alle ander leermateriaal so prakties as moontlik begin aanbied. Ons fokus het geskuif van ’n “akademiese uitkoms” na ’n “karakter-gebaseerde uitkoms” sodat ons die kinders kon voorberei op die lewe in al sy fasette en nie net boekekennis nie. Ons het hulle ook deel van ons daaglikse lewe gemaak en oral met ons saamgeneem. Later het hulle saam met ons in ons familiebesigheid – ’n dansskool – begin werk, deur eers te help waar daar te min meisies of seuns is en later self klasse begin aanbied.”

Boonop was daar net een werker op hul plaas en die kinders moes ook inspring en help met die skape of beeste, wat vir almal ’n goeie werksetiek geleer het.

“Veral Cherié het ’n liefde vir boerdery en sy het boerderyrigtings begin navors. So het ons gehoor van ’n KI (kunsmatige inseminasie)-kursus, wat sy toe op veertien voltooi het en so goed gedoen het dat sy ’n jaar later teruggenooi is om die dragtigheid-kursus vir beeste ook te doen, wat sy ook met vlieënde vaandels geslaag het. Sy is baie handig met gereedskap en tegnies aangelê en het op 12-jarige ouderdom ingeskryf vir ’n aanlyn elektronika kursus.”

Cherié en Delarey gaan gereeld saam met hul pa wanneer hy windpompe herstel en oprig en sy het verlede jaar ’n basiese sweiskursus voltooi en hierdie jaar haar aandag gevestig op houtwerk – ’n droom vandat sy ’n klein dogtertjie was. ’n Ou meubelmaker het van haar eerste houtwerk gesien en was so beïndruk dat hy haar nou leer meubels maak. Sy en Delarey is tans besig met indiensopleiding en beplan om dit in ’n winsgewende besigheid te omskep.

“Delarey het ook al verskeie kursusse gevolg in sy belangstellingsrigtings, wat strek van kursusse in noodhulp tot ’n sonkrag, sweis en nou ook houtwerk. Hy beplan om homself in ’n paramedici-rigting te kwalifiseer.

“Desirèe (11) doen naaldwerk vandat sy maar drie jaar oud was en het vroeër vanjaar haar eie besigheid begin waar sy herstelwerk aan klere doen vir ander mense en mettertyd ook begin bestellings kry vir die maak van klere, kussingoortreksels, ensovoorts. Sy stel belang in modeontwerp en is tans aanlyn besig met ’n basiese kursus in ontwerpsketse.”

Lana sê die wonder van Uncapped Education is dat jy vir jou kind sy of haar eie kurrikulum kan ontwerp in hul onderskeie belangstellings – anders as waar hul kinders in die skool sou wees en hulle ’n baie geroetineerde lewe sou gelei het. En waarvan die kinders nie naastenby die hoeveelheid geleenthede sou gekry het wat tuisonderrig hulle reeds gebied het nie.

“Van die oudste tot die jongste is baie selfstandig en weet wie hulle is en wat hulle wil hê. Die oudstes is reeds gereed om die wêreld in te gaan met hoop vir die toekoms – ’n hoop wat mens by baie kinders van hul ouderdomme nie kan sien nie. Tuisonderrig-ouers kyk anders na die lewe en wil hê hul kinders moet eendag ’n verskil maak in die wêreld. Dit is beslis die beste besluit van ons lewens!”

Charle Kuhlmann is tans by die Atterbury-teater werksaam waar hy ook vele ander passies kan uitleef. (Foto: Verskaf)

Marié Kuhlmann het besluit om hul kinders aan die einde van hul graad 5- en graad 3-jaar uit die skool te haal en tuisonderwys te gee.

“Dit was vir ons duidelik dat skool hulle nie goed gedoen het nie, veral nie vir ons oudste wat in daardie stadium geboelie is en elke dag gehuil het wanneer ons van die skool af huis toe gery het. As ouer weet mens net dat dit nie veronderstel is om so te wees nie. Ons het baie gebid en aan die einde van daardie jaar tot die oortuiging gekom dat ons gaan tuisonderrig gaan gee.

“Daar was verskeie redes in daardie stadium daarvoor, maar ons het in ’n klein dorpie in die Oos-Kaap gebly en daar was nie regtig ’n goeie skool naby nie en die goeie (ook duur) skole was te ver om elke daagliks na toe te ry. Koshuis was nie vir ons ’n opsie nie. As gesin, was dit nog altyd vir ons belangrik om gehoorsaam te wees aan die Here en ons het altyd verstaan dat die ouer verantwoordelik is vir die kind. Toe ons die besluit geneem het, het Charle reeds dramaklasse geneem. Hierdie besluit was aan die einde van 2008.”

Marié sê hulle het nie ’n formele kurrikulum gevolg nie, aangesien hul kinders beide reeds kon lees en skryf en somme maak. Dit was vir hulle belangrik om te investeer in hul karakter en het geweet dat hulle teen die ouderdom van 16 hul eie keuse moes maak ten opsigte van enige sertifikate. Charle het reeds ander kinders ook geleer wat hy geweet het deur te help met die drama-afrigting en ook saam met Daniel ‘n dansgroepie afgerig wat ‘n paar keer opgetree het. Hy het ten tyde van sy besluit reeds ’n Trinity College-sertifikaat verwerf vir Spraak en Drama wat meer as ’n matrieksertifikaat werd was (sy keuse was om nie ’n formele matriekeksamen af te lê nie).

“Dit was baie duidelik dat ons keuse dit moontlik gemaak het om die uitvoerende kunste in al sy vorme 100% te kon ontdek en ontgin in ons kinders se lewens!”

Charle het sy Uitvoerende Kunste-kursus voltooi en is tans heeltyds werksaam by Atterbury-teater waar hy ook vele ander passies kan uitleef, onder meer grafiese ontwerp. Charle het altyd geweet hy wil in die uitvoerende kunste wees.

Daniel Kuhlmann speel krieket, dans, is ‘n model, akteur en koreograaf. (Foto: Verskaf)

“Ons jongste, Daniel, was sterk op pad om voor te berei vir sy GED-matriek, maar het ná twee maande besef dat dit hom in alle opsigte beperk om sy passies uit te leef en hy het toe ook daarteen besluit om ’n formele matriekeksamen af te lê. Ons kry baie keer vrae wat ons besluit bevraagteken. Ek wil graag noem dat ons ons kinders geleer het om vir hulself te besluit. Hulle is beide 100% bewus van hul keuse en wat dit behels en is bereid om die verantwoordelikheid en gevolge daarvan te dra. Indien hulle vir enige rede nodig het om ’n sertifikaat te bekom, is ek oortuig daarvan dat hulle alles het wat nodig is om enige eksamen af te lê (dit is ook reeds meer as een keer in hul lewens bewys).”

Daniel is ook baie passievol oor krieket en het vir ‘n paar jaar al sy energie en tyd daaraan spandeer. Hy het ‘n sertifikaat by die Centurion Krieketakademie voltooi as junior krieketafrigter en hy het kinders in die area afgerig.

“Ons het aanvanklik ons eie kurrikulum saamgestel met dit wat tot ons beskikking was, maar later van tyd het ons oorgeskakel na ‘unschooling’. Hierdie term word baie keer verkeerd verstaan en die algemene wanpersepsie is dat daar geen opvoeding/opleiding plaasvind nie. Dit is egter die teendeel. Met unschooling kan mens 100% van jou tyd spandeer aan die dinge wat jy nodig het om te leer vir jou spesifieke passie en gawes. Een van die grootste skuiwe wat in ons lewens gebeur het, was om te besef om mekaar te help om te weet dat ons almal eintlik lewenslange studente is. Ons glo dat mens nooit te oud is om te leer nie; ons verstaan dis nodig in die era waarin ons leef en ons kon hierdie waarheid in ons seuns, vandag jong manne van formaat, vaslê en hulle kan dit uitleef en toepas waar hulle vandag werksaam is. Hulle staan kop bo skouers uit en ons is baie trots op hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkewiet

Tuisonderrig is ‘n baie groot verantwoordelikheid en moet versigtig oorweeg word. Dit is egter ‘n groot voorreg as dit reg gedoen word. Ons het 3 van ons 4 kinders tuis onderrig, ook met die klem op lewenservaring eerder as net skool by die huis. Dit was in die dae toe daar nog in die gemeenskap oor sulke goed gefrons is(20 jaar gelede). Vandag is ons geweldig trots op ons kinders, ousus wat in die skool gebly het is ‘n GR maar die tuisskolers het nie teruggestaan nie. Tweede dogter het diploma in landbou en graad in besigheidsbestuur, derde honneursgraad in… Lees meer »

Die Wolf

Ek is n groot voorstaander vir tuisonderig. Ek voel dat daar darem ook interaksie vir die leerlinge moet wees met ander leerlinge. Ek praat nie van interaksie op n webwerf nie.

Derek

Daar is nie n beter opsie as tuisonderig, ontwikkeling is baie beter en die kind ontwikkel die vryheid van keuse en ontdek hulself baie vroeer as n geforseerde kind. In elk geval word baie kinders gedwing om te doen waarvan hulle nie hou nie om dan later spyt te wees.