Vra vir Susan: Akademiese- en wiskundevaardighede

kinders_wiskunde.jpg

Foto: Imgarcade.com

Hello Susan

Ek is ’n onderwyseres en gee al vir 29 jaar skool by dieselfde hoërskool. Ek gee Afrikaans en wiskunde vir gr. 8 en 9. Dis vir my kommerwekkend om te sien hoe die kinders elke paar jaar swakker toegerus hoërskool toe kom. Baie sukkel met lees, hulle spelling is beroerd, en dis asof basiese konsepte in wiskunde nog nie vasgelê is nie. Ons skool word gevoed deur heelwat laerskole in die omgewing, so dis nie asof ek een skool kan uitsonder en beskuldig van swak gehalte onderrig nie. Dalk is die agteruitgang wat ek sien net in my verbeelding? Wat dink jy? Is daar iets wat ek doen om die kinders te help?

Leonie

Goeiedag Leonie

Dankie vir jou e-pos en omgee vir die kinders.

Ek sê al baie lank dat kinders se lees en wiskunde besig is om agteruit te gaan, maar dalk is die agteruitgang wat ek sien ook net in my verbeelding. Mens weet nie altyd wie en wat om te glo nie, want vir elke berig wat waarsku dat ons onderwys in ’n krisis verkeer, is daar een wat getuig van vordering en vooruitgang. Wat wel seker is, is dat ons baie swak vaar in vergelyking met internasionale standaarde, en nie net van gister af nie.

Daar is twee internasionale geletterdheidstudies wat elke paar jaar gedoen word, en waaraan Suid-Afrika deelneem. Die eerste een is die Studie oor die Tendense in Internasionale Wiskunde en Wetenskap (TIMSS), wat elke vier jaar gr. 4- en gr. 8-leerders se syfergeletterdheid, sowel as hulle wetenskaplike vermoëns en kennis evalueer. Die tweede is die Vooruitgang in Internasionale Leesgeletterdheidstudie (PIRLS), wat elke vyf jaar die leesprestasie van gr. 4-leerders meet.

TIMSS

Die laaste TIMSS-studie is in 2015 gedoen, en meer as 580 000 studente in 57 lande het daaraan deelgeneem.

Uit 48 lande het Suid-Afrika tweede laaste vir gr. 4-wiskunde gekom, tweede laaste vir gr. 8-wiskunde en uit 38 lande heel laaste vir gr. 8-wetenskap. Suid-Afrika het nie aan die gr. 4-wetenskap-assessering deelgeneem nie.

As mens terugkyk na 1995, toe TIMSS vir die eerste keer gedoen is, is dit duidelik dat dit toe reeds sleg met ons kinders gegaan het. Hier is hoe Suid-Afrika sedert 1995 met TIMSS gevaar het:

 

As mens kyk na die range lyk dit eintlik of Suid-Afrikaanse leerders se wiskunde verbeter het sedert 2003: ons het opgeskuif van “laaste” tot “tweede laaste”. Dié uitslae is egter ʼn wanvoorstelling. Omdat die TIMSS-assessering as te moeilik beskou word vir die standaard wat deur Suid-Afrika se onderwysstelsel aangebied word, is die gr. 4-toetse in 2011 en 2015 deur gr. 5-leerders gedoen en die gr. 8-toetse deur gr. 9-leerders!

PIRLS

Ongelukkig het ons nie langtermyn-statistieke om Suid-Afrika se agteruitgang of vooruitgang in terme van leesprestasie te meet nie, aangesien die PIRLS-studie eers in 2001 afgeskop het en Suid-Afrika eers in 2006 daaraan begin deelgeneem het.

In 2006 het Suid-Afrika se gr. 4 en 5-leerders saam met 40 ander lande se gr. 4-leerders aan die studie deelgeneem. Die gemiddeld van ons gr. 4-leerders was 302 teenoor ’n internasionale gemiddeld van 500, wat Suid-Afrika se leerders heel laaste geplaas het.

PIRLS is hier in al 11 amptelike tale afgeneem. Selfs kinders wat Afrikaans as huistaal praat en die toets in Afrikaans afgeneem het, het allermins waffers gevaar. Afrikaanse gr. 4-leerders (sien rooi pyltjie) het ’n gemiddeld van 364 behaal, en gr. 5-leerders ’n gemiddeld van 430 (sien geel pyltjie). Hou weereens in gedagte dat die studie eintlik gemik is op gr. 4-leerders en dat die internasionale gemiddeld 500 is.

Omdat die PIRLS-assessering ook as te moeilik beskou word vir Suid-Afrikaanse standaarde, het Suid-Afrika se gr. 4-leerders in 2011 deelgeneem aan ’n makliker geletterdheidstudie, genoem prePIRLS. Terwyl ’n PIRLS-assessering byvoorbeeld uit 800 woorde per teks bestaan, bestaan prePIRLS uit 400 woorde, die woordeskat is makliker en die sintaksis eenvoudiger. Ons gr. 5 leerders het deelgeneem aan PIRLS. Oor die algemeen was die resultate dieselfde as in 2006.

Ons wag nou vir die uitslag van PIRLS 2016, wat later vanjaar beskikbaar sal wees.

Leonie, ek kan dus nie met sekerheid vir jou sê of daar ’n agteruitgang in terme van skoolkinders se lees en wiskunde is nie. Kyk weer na die uitslae van die TIMSS-studie – Suid Afrika was al in 1995 laaste. Al waaroor ons seker kan wees, is dat dit akademies sleg met ons kinders gaan, as ons hulle meet aan internasionale standaarde.

Jy vra vervolgens wat jy kan doen om die kinders te help? Leonie, as net die helfte van alle opvoeders – ouers sowel as onderwysers – saamwerk, sal ons ’n wesenlike verskil kan maak. En dit kan begin by my en jou. Ons hoef ook nie die wiel te herontwerp nie, want daar is baie lande waarby ons kan leer. Ons gesels dus volgende week verder en kyk na lesse wat ons, ter wille van ons kinders en hulle toekoms, kan leer by die PIRLS- en TIMSS-studie se top-presterende lande.

Tot volgende keer.
Susan

 

Susan oor Skoolkwessies
Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]edublox.com Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:
Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 600 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Karen van Zyl ·

Die wiskunde word nie meer gedoen soos wat hulle wys op die bord nie ook nie soos ons dit geleer het nie, nee, alles in een ry? in groepies van 10. Dit gaan verskriklik agteruit ja.

Martie strydom ·

Daar is nie meer n wiskunde handboek nie.. ook nie voorbeelde van hoe die metode wat gevolg moet word nie. Kry net n skrywe vanaf skool dat wiskunde ingeoefen moet word.. as jy vra vir voorbeelde kry jy nie antwoord nie. Wil nie die kinders verkeerd leer nie. Ek google maar daar is so n klomp metodes .. watter een moet gevolg word?

Saartjie ·

Martie, daar is nog steeds wiskundeboeke beskikbaar – vanaf Graad 1 tot Graad 12. Met die implementering van die ‘CAPS’-kurrikulum so ‘n paar jaar gelede, is splinternuwe handboeke ontwikkel. As jou kind(ers) se skool dus nie handboeke gebruik nie, moet jy gaan vra hoekom nie. Kry sommer die ander ouers in die klas om ook te gaan vra!

lezaan nel ·

Probeer gerus Pracmath boeke in hande kry. Puik standaard. Goeie addisionele inoefening.

LS ·

My dogter is in grad 9 en sy sukkel met haar wiskunde. Die onderwyseres wat hulle het weet nie hoe om wiskund te verduidelik aan die kinders nie. Dit is die eerste keer in haar skool loopbaan dat sy sukkel met haar wiskunde, vra sy haar onderwyseres om weer iets te verduidelik word daar vir haar gese sy moet die kind langs haar vra. Nou hoe werk dit?
Na ek bietjie rond gevra het, het ons agtergekom dat meeste kinders wat al by haar klas gekry het en steeds kry ‘n problem met haar het, ons het al gaan kla, maar dan word dit op die kinders wie gekla het uitgehaal by die skool.
Ek is verstom !!!
Ek dink nie die probleem met wiskunde is net die standaarde nie, dit is die standaard ondewyser of onderwyseres wat ook ‘n groot verskil maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.