Carina Stander: ʼn Hartlike uitstappie in Harties

Uitsig van die Hartbeespoort-kabelkar (Foto: Carina Stander)

Die eerste wat ons opmerk is die aasvoëls bo die kranse. Tien, twintig, dertig sweef in wye sirkels teen die hemelsbloue lug bo Magaliesberg. ʼn Geveerde familie in ʼn gedeelde windstroom.

As die lewe ons laag vat, styg ons maar uit. Dis hoekom ek en ma Truiki vandag hier by die Harties-kabelkar in Noordwes is. Om so saam-saam te probeer uitstyg, want vandag is presies drie weke vandat pa Sarel in die hospitaal opgeneem is. Pa is 79 jaar oud. Tot verlede jaar het hy volstoom in die Bosveld geboer, hoë berge uitgeklim en gesond geleef. Skielik het hy akute hartversaking. ʼn Lekkende hartklep. Ons het kwotasies aangevra van verskeie privaathospitale: dis R700 000 vir die chirurgie en verblyf, R130 000 vir die toetse. Dis alles buite die kwessie sonder ʼn hospitaalplan. Die waglys by staatshospitale is egter waansinnig lank, maar dis ons enigste opsie.

Carina Stander se pa in die Steve Biko Akademiese Hospitaal (Foto: Carina Stander)

Die eerste aand in Pretoria se Steve Biko-hospitaal moes Pa op ʼn plastiekstoel sit en slaap omdat daar nie ʼn bed vir hom beskikbaar was nie. Later sou hy vertel: “Oeg, my kind, daai ongevalle was ʼn beproewing! Daar sien mens wat ellende is… Maar as jy eers hier in kardiologie of die hoësorgeenheid is, sal jy nie ʼn vliegie of miertjie teëkom nie. Die toerusting is splinternuut! Hulle gooi my ingewande op daai skerm en bespreek elke dermpie en aartjie. Hier is ʼn Japanese dokter – hy bekyk my van diekant, dan van daaikant, hy kan net nie genoeg vir my doen nie. En hy praat al Afrikaans soos een van ons! Jy moet hoor hoe mooi sê hy ‘wonderlik’.”

Vir die laaste drie weke durf my ma en ousus Annelie elke liewe dag die pad aan van Hartbeespoort, waar ousus woon, na Steve Biko. Dis ʼn uur se ry soontoe, ʼn uur van kuiertyd, ʼn uur se terugry. Elke middag met besoektyd staan hulle saam met ʼn menigte voor die hospitaaldeure, tussen toetende taxi’s en lui duiwe. My ouers is sulke lewensblye, gelowige mense in murg en been. Maar ná meer as drie weke verlang Pa na die natuur en om by sy vrou te wees. “Ek mis my ribbebeentjie,” bieg hy met ʼn skewe glimlag. En Ma verlang natuurlik na hom. Volgende jaar is hulle ʼn halfeeu lank getroud.

Ma Truiki by Hartbeespoort-kabelkar (Foto: Carina Stander)

Ek het my twee jong seuns en man vir ʼn week in die Tuinroete agtergelaat om hierheen te vlieg en ʼn bietjie “liefdesdiens” te verrig, soos my ousus dit noem. Vandag klim ek en Ma in die kabelkar om die ou wêreld van bo te bekyk – nes die aasvoëls. Die Hartbeespoort-kabelkar herinner mens aan ʼn oudtydse Europese treinstasie. Die enorme boogvensters en elegante vermenging van klip en hout, metaal en glas laat jou ʼn ander era verbeel. Die oorspronklike Harties-kabelweg is in 1973 opgerig en het dekades lank plesier verskaf aan besoekers van reg oor die wêreld. Ongelukkig het dit in onbruik verval in 2005. Maar teen 2010 het Zargodox, in samewerking met ʼn Switserse maatskappy, die ou kabelweg weer uit die dode opgewek. Die veertien kabelkarre is ingevoer uit Switserland; dis gerieflik, superveilig en kan tot ses passasiers op ʼn keer vervoer, wat uitloop op soveel as 500 passasiers per uur! Maar vandag is ʼn weeksdag in die winter en ek en Ma het ʼn kabelkarretjie vir onsselwers. Stil en sonder hikke of stampe sweef ons na bo. Die veld is geil na die goeie reën. Ons wys die bome vir mekaar uit. Kiepersol. Soetdoring. Bosbewoners soos nagapies, blouape, bobbejane en eekhorings maak die boomryke berghange hulle tuiste. Dis ook die blyplek vir meer as driehonderd voëlspesies – swart arende, valke, suikerbekkies, swaeltjies en vinke.

Die Magaliesberge is ʼn Wêrelderfenisgebied. Dis een van die oudste bergreekse op dees aarde. Die oeroue rotsformasies maak dit ʼn ware geologiese skat. Die Dassieloop-wandelpad is skaars 1 km, maar bied aan ons ʼn “bird’s-eye view” van 360 grade oor die dam en omstreke. Gesels-gesels loop ons en kyk na die landmerke: Brits waar Ma skoolgegaan het, Pretoria waar sy studeer het, die grens van Botswana waar hulle saam geboer het, die Ticketpro Dome (voorheen bekend as die Coca-Cola Dome) in Johannesburg. Ons sit op ʼn bankie en kyk na die strate en gewoel. Van hier kan ons duidelik sien hoe die Hartbeespoortdam ingeneem word deur die pestelike hiasinte – ʼn aggressiewe indringerplant wat tans meer as 30% van die dam bedek. In die winter vrek die alge, sink na die bodem en ontneem die water van suurstof wat die vis laat vrot. Om die hiasinte en alge te probeer beheer, skep groot probleme vir watersportliefhebbers en waterfrontbewoners.

Uitsig van die Hartbeespoort-kabelkar (Foto: Carina Stander)

Ons deel ʼn buiteoondgebakte “meat feast”-pizza terwyl ons uitkyk oor die dam en vallei. Met ʼn mond vol pizza beduie Ma skielik vir my om op te kyk. Die aasvoëls. Hulle spiraal hier reg bo ons koppe! ‘n Swerm wat ʼn windbaan deel. ‘n Familie van vlerke. Ons is nie alleen nie.

ʼn Dag later, toe ek terugvlieg na die Tuinsroete, kry ek dié hartlike nuus uit Harties: Pa het uiteindelik ʼn angiogram gehad. Hy het geen permanente hartskade nie, slegs sy hartklep moet vervang word. Hy sal waarskynlik reeds volgende week geopereer word. Wanneer ʼn staatshospitaal ook ʼn opleidingshospitaal is, is dinge allermins verlore! Ek lig my hoed vir die dapper dokters wat ook maar slagoffers is van ʼn stelsel wat sloer, die mediese spesialiste wat woeker om ʼn liewe oom se lewe te red wat geen ander hoop op mediese sorg sou hê nie. Vir hulle wens ek wind onder die wieke. Vryheid onder die vlerke. Nes die geveerdes – en die engele.

REISRAAD
Harties Cableway is sewe dae ʼn week oop. In die winter rits die kabelkar vanaf 09:00 tot 16:00 en die laaste kar vertrek af teen 16:45. ʼn Retoer-kabelkarrit is R195 vir volwassenes, R120 vir pensionarisse, R115 vir kinders 4-14 jaar oud en gratis vir rakkertjies onder vier jaar. Op jou verjaardag kan jy gratis saamry, mits jy jou Suid-Afrikaanse ID-boekie wys. Bespreek by 072 241 2654 of 012 253 9910. Vonkpos: [email protected]ableway.co.za Webwerf: http://www.hartiescableway.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

MCH ·

Pragtige skryfskets. Sout van die aarde mense die. Kyk mooi na hulle Carina!

Carina Stander ·

Baie dankie, MCH! (Skryfskets is ‘n mooi woord.)

LInda ·

Ek kan is sovele opsigte hiermee vereenselwig! ‘n Naby familielid wat, doodsiek, deur Steve Biko se buitepasiente moet beur maar die verrassing daarna en die wonderlike versorging en mediese diens wat hy ontvang het! En toe ‘n ma wat blind word, genadiglik by die beste oogspesialis uitkom en tallose op- en afritte tussen werk, ouerhuis, spesialis en ooghospitaal. Dag na dag, vir die beste deel van 7 maande! Maar sy sien! Prys die Here, sy sien. En terwyl ons nog juig oor my ma se nuwe oog, word my pa so soek dat hy duskant die dood omdraai. Weer begin dit – werk, ma oplaai, hospital toe, ma aflaai, huistoe, slaap, werk toe … Maar Pa word beter, en gesond, en hy ry alweer Mall toe om sy besigheid te doen! Ons jubel. Ons is dankbaar. Ons doen dit vir ons ouers want hulle het dit vir ons gedoen ….

Carina Stander ·

Linda, absoluut! My ousus is ‘n ware heldin om so tussen haar eie gesin en werk deur elke dag vir byna ‘n maand lank die ure lange tog te onderneem. Maar ons het die warm wete dat ons ouers dieselfde vir ons sou doen, sonder om ‘n oog te knip. Ek is bly julle ervaring met Steve Biko hospitaal was ook positief. Daar is briljante lewensredders in daardie gebou.

Ken2 ·

Eks baie bly die oom het nie permanente hartskade nie! Ek hoop hy is gou weer aan die gang op sy bosveldplaas en boer tot oor die honderd jaar met sy nuwe hartklep!

Dankbaar ·

So dankbaar saam met julle. Seën en liefde vir die pad vorentoe. Dankie dat jy die kosbare woorde met ons gedeel het. Xx

Lewies ·

Prys die Here! Dankie Carina, en ek hoop jou ouers is vining weer gesond en bymekaar. Ek soek deesdae spesifiek tussen die goeie goed en dis heerlik om so ‘n positiewe stukkie te lees.

Johannes van Dyk ·

Bouwerk aan die oorspronklike kabelweg het in 1972 begin. Ek weet dit want ek was nog nie in die skool toe my pa begin het met die bouprojek nie. Dis moontlik dat dit in 1973 voltooi is toe ek in graad 1 was. Ek het ‘n magdom herinneringe aan daai dae. Die lekkerste spekwors wat Springbok (my pa se voorman) in ‘n skopgraaf gaar gemaak het. Die eerste “karretjie” was vier 210L dromme wat aanmekaar vas geswys was om boumateriaal op te vat. Jy het sommer so in die drom geklim as jy nie lus was om die berg op te loop nie. Met die bou van die boonste stasie het hulle ‘n kis Martini-Henri patrone ontdek wat in die Anglo Boere Oorlog begrawe is. Vandag is my pa 85 jaar oud en ons is dankbaar dat hy die opgradering van sy hande werk kon beleef.

Carina Stander ·

Gits, Johannes, maar dis ‘n spesiale voorskoolse herinnering wat jy koester! Spekwors in ‘n skopgraaf klink soos die regte manier om die berg aan te durf.

Aster ·

Dankie Johannes dat jy hierdie interessante storie deel met ons.

Amanda Owen ·

So lekker-lees artikel wat mens se hart sommer stig. Hoop pa se operasie verloop goed & dat hy & moeder sommer lekker halfeeu-fees kan vier xxx Gaan ook sommer self een van die dae die karretjie aandurf aangesien Tafelberg so ver is…..

Wilna Stander ·

Dit is die wonderlikste nuus Carina. Sterkte vorentoe aan die hele familie. Ons is in gebede saam met julle. Seenliefde aan jou Pa en Ma. Dankie vir n lieflike artikel!!

Frankie ·

Ek gooi nou sommer twee klippe in die bos..het gister na ‘n podcast geluister hoe daar in 1910, ‘n man genaamd Robert Broussard ( wat vir ‘n tydperk as safari gids in Afrika gewerk het) in die Amerikaanse deelstaat, Louisiana, die plaaslike regering amper oortuig om seekoeie uit Botswana in te voer…as ‘n teenvoeter vir die hiasinte plaag in hulle riviere asook vir die vleis tekort waaronder hulle gebuk gegaan het.
Blykbaar was die enigste rede hoekom die plan deur die mat geval het die feit dat Broussard baie gereis het en komunikasie tussen hom en die plaaslike regering in Louisiana te lank uitgerek het…waarna die regering belangstelling verloor het.
Eet seekoeie regtig hiasinte? Is dit ‘n oplossing wat dalk vir Harties oorweeg kan word? Die gemeenskap sal moet saam werk en versigtig wees maar….dis dalk die resultaat meer as werd…
En meer onlangs…daar is ‘n Nigeriese vroutjie, Achenyo Idachaba wie in haar tuisland ‘n kothuis bedryf rondom hiasinte gebou het – ook in ‘n poging om die plaag in haar dorp se naaste rivier onder beheer te kry. Die stam van die plant kan gedroog en net effens verwerk word waarna dit in handsakke, matte ens geweef word.
Dankie Carien vir die ‘saamvat’ op jou en jou ma se uitstappie…het dit baie geniet!

Carina Stander ·

Onse aarde, Frankie, dis nou interessant! Die huise is so teen die water gebou, ek kan nie dink dat die inwoners van Harties baie happy sal wees oor ‘n seekoei nie (alhoewel ek mal is oor die idee van ‘n natuurlike stootskraper!) Maar as die werkloses van Noordwes daardie pestelike hiansinte kan omskep in profyt, sal dit darem topklas wees.

Johannie ·

Oom Sarel so bly oom is beter. En Carina dankie dat jy si mooi na hulle omsien. Mis hulle in Ellisras mis die vrugte maar hulle moet nou rus hard gewerk in hulle lewe. Boet Jaco hou my op hoogte van Pa se toestand. Dankie vir kinders soos julle wat weet wat het julle ouers vir julle beteken.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.