Is self-regulering die antwoord op vakansieklubs?

vakansie-see-strand-mengeldrankie

Foto: Stokpic/Pexels.com

Verbruikers in die Kaap het vandeesweek die geleentheid gehad om die paneel wat die Nasionale Verbruikerskommissie aangestel het om ondersoek in te stel na die vakansieklub- of tyddeelbedryf te vertel waarom hulle ontevrede is met die stelsel. Ná afloop van die ondersoek sal die paneel ʼn verslag saamstel en aan die minister van handel en nywerheid oplossings voorstel rakende verbruikers se probleme. Ina Opperman verduidelik waarom self-regulering nie een van die oplossings is nie.

Self-regulering beteken dat ʼn bedryf homself en sy lede reguleer sonder enige inmenging van iemand anders. Die bedryf is dan self verantwoordelik daarvoor te sorg dat sy lede voldoen aan regs-, etiese of veiligheidstandaarde, sonder dat ʼn derde party die bedryf monitor en standaarde afdwing.

Verskeie bedrywe in die land het sedert die sewentigerjare van die vorige eeu probeer om hulself te reguleer nadat hulle agtergekom het dat nie alle lede van ʼn bepaalde bedryf verbruikers so goed behandel nie.

Bedrywe het bedryfsverenigings gestig met duidelike lidmaatskapreëls, wat ingesluit het hoe om verbruikers te behandel en hul klagtes op te los. ʼn Raad bestaande uit lede wat uit die bedryf verkies is, het dan die reëls toegepas. Met die instelling van die Wet op Verbruikersbeskerming het van die bedrywe baie hard probeer om te wys dat self-regulering werk sodat hulle nie deur statutêre liggame beheer word nie.

Lede sluit vrywillig aan by hierdie bedryfsliggame en moet voldoen aan ʼn gedragskode. Indien ʼn onderneming nie deel is van ʼn bedryfsliggaam nie, kan die verbruiker dus nie veel doen nie behalwe om hulle tot die provinsiale verbruikerskantore en Verbruikerskommissie te wend.

Vakansieklubs se bedryfsliggaam

Die Vacation Ownership Association of Southern Africa (VOASA) was voorheen bekend as die Tyddeelinstituut en is die bedryfsliggaam wat self-regulering toepas in die vakansieklub- of tyddeelbedryf in Suid-Afrika. Dit is in 1990 gestig om ʼn omgewing te skep, te handhaaf en te ontwikkel vir die langtermyn volhoubaarheid en groei van vakansie-eienaarskap.

VOASA se lede sluit ontwikkelaars, agentskappe wat vakansies verkoop, bemarkingsorganisasies, bestuursmaatskappye, huiseienaarverenigings, herverkooporganisasies en ander professionele diensverskaffers in. Volgens VOASA se webtuiste het die organisasie die vertroue van die departement van handel en nywerheid gewen om ʼn positiewe beskouing van die bedryf onder verbruikers en alle rolspelers te vestig.

Die organisasie meen hy bestaan om verbruikersregte te beskerm en omdat hy homself verbind het tot die voortdurende groei van die bedryf op ʼn positiewe en georganiseerde wyse. Sy gedragskode is destyds nog ingestel deur die departement van handel en nywerheid se sakepraktykekomitee om die belange van verbruikers sowel as die bedryf te beskerm.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 82 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat die kommissie by die instelling van bedryfskodes betrokke kan raak en volgens artikel 93 van die wet kan die kommissie ook praktykkodes ontwikkel met betrekking tot die gebruik van gewone taal in dokumente, die gestandaardiseerde of eenvormige manier om die inligting in artikels 23 tot 28 aan te bied en oor te dra, alternatiewe geskilbeslegting en enige ander aangeleentheid om die oogmerke van die wet te ontwikkel en die vrywillige gebruik van praktykkodes te bevorder.

Volgens artikel 98 van die wet is die kommissie daarvoor verantwoordelik om die minister te adviseer oor aangeleenthede wat betrekking het op verbruikersbeskerming en die vasstelling van nasionale norme en standaarde ten opsigte van verbruikersbeskerming.

Hoe gaan verbruikers die beste beskerm word?

ʼn Mens wil nou nie die paneel se werksaamhede vooruit loop nie, maar dit is duidelik uit die klagtes van verbruikers wat sover hul saak voor die paneel gestel het, dat self-regulering tot dusver nie veel gedoen het om verbruikers te beskerm of hul regte te verdedig nie. Dieselfde klagtes wat in 1990 tot die stigting van die Tyddeelinstituut gelei het, is vandag steeds op die agenda. Verbruikers sukkel steeds om van hul lewenslange kontrakte ontslae te raak, hulle sukkel steeds om plek te bespreek en baie voel hulle kry nie dit waarvoor hulle betaal nie.

Terwyl daar wel verbruikers is wat vertel dat hulle wel tevrede is met hul vakansies, is die oorwig klagtes ʼn aanduiding dat alles nie wel is met hoe die bedryf verbruikers behandel nie. Die enigste opsie wat op die ou end voldoende beskerming aan verbruikers sal verleen, is ʼn statutêre liggaam waaraan almal in die bedryf moet behoort en ʼn gedragskode wat almal moet nakom, met die nodige straf as lede nie aan die gedragskode voldoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Fires ·

Ek sukkel nou nog om van die punte ontslae te raak! Ek het QVC genader om te kyk of ek nie uit dit kan uit nie, maar nee hulle is hard en wil niks weet nie! Ek hoop dat alle vakansie klubs sal ondergaan as gevolg van hulle hardkoppigheid om hulle punte terug te koop, soos belowe met die aankoop van die gemors. Ek het Baie geld verloor! Hoop hulle verloor ook baie geld! En met rente!

Wakker ·

As jy dom is moet jy bloei. Die gladdebek bemarkertjies kon my nie buig nie.

vivienne ·

Hoekom is die tyddeelmaatskappye nie bereid om die punte terug te koop nie en dan weer te verkoop ? Sodoende sal daar nie ‘n oorvloed aandeelhouers wees nie. Die vakansieplekke glo nie in hulle produk nie? Wil net geld maak en jammer vir jou. Ons het ekstra punte gekoop om verseker te wees van beskikbaarheid, toe werk dit ook nie. Vir beskikbaarheid in vakansies het ons lankal tot siens gesê. Hierdie duur fout sleep jy die res van jou lewe saam met jou en daar is geen kans om dit reg te stel nie, of jy dit kan bekostig of nie. Dis belaglik! Dankie Vra maar net

Cercei ·

Die klubs maak hulle geld uit die verkoop van punte en uit al die heffings per maand. Die verkoopskonsultante maak hulle geld deur kommissie te verdien op die verkoop van punte… Hulle stel dus net belang in die verkoop van nuwe punte.

Fires ·

Kan die ouens wat gelukkig is met hul punte en kontrak wat die lees, my kontak! Ek sal vir jou n goeie “DEAL” gee.

Cercei ·

Die punte/tyddeelklubs behoort aan VOASA, die kleiner vakansie klubs doen nie, dus het daardie verbruikers nerens om te kla behalwe by die verbuikerskommissie, maar die kan nie help nie omdat hulle nie weet hoe hierdie klubs werk nie. Net sekere punteverbruikers sal gelukkig wees omdat hulle genoeg (baie) punte besit en oor skool vakasie tye kan bespreek. Daar word nie daagliks nuwe oorde of selfs nuwe eenhede gebou by bestaande oorde nie en tog stuur hierdie vakansie klubs daagliks hulle verkoop-spanne uit om nog nuwe lede by te kry. Dus het mens nie ‘n graad nodig om agter te kom dat daar nooit genoeg beskikbaarheid sal wees vir al die lede nie. Meeste punte verbruikers besit nie genoeg punte om ‘n jaar vooruit te bespreek nie so punte kan opgebou word vir 3 jaar maar dan na die 3de jaar val die 1ste jaar se punte weg. Dus betaal jy met 3 jaar se jaarlikse koste, heffings ens. vir een week by ‘n oord 5 keer meer as wat jy maar net direk met die oord kon bespreek en betaal het. Mense lees nie hul kontrakte nie en val ongelukkig vir mooi praatjies, Wat nodig is, is ‘n in-diepte “undercover” ondersoek oor presies waar dit begin, by die bemarking en verkope, 80% van verbruikers sluit aan weens wanbegrip en leeuns en steeds gebeur dit op ‘n daaglikse basis. Mense besef dat hulle ingedoen is en dat dit is ‘n duur les is, maar nou sit hulle nog daarmee. Hoe nou.

J ·

Duur baie duur les…en die stories eindig nié daar kom ook nié werkbare oplossing. Meer as 10jaar laas skema gebruik. Het 3jaar skema kans geleë so baie draai gegooi maar nié een oplossing was in MY guns nié. My punteplan vol opbetaal maar levies bly styg sonder sukses met tyd of plek bespreekings. Toe STOP ek levies betaal. Wie verloor toe EK.

Mariana ·

Kan u asseblief weer die inligting verskaf van hoe en waar om by Afriforum/Adv Albert’s te registreer en wanneer die Noord-wes vergadering plaasvind, rondom hierdie situasie. U heel eerste artikel het ongelukkig baie vinnig van die skerm verdwyn.

Stiena ·

Vakansiepunte is die grootste gemors wat mens kan koop. Tel jou maandelikse levies bymekaar vir jaar en siedaar.. baie geld v baie lekker vakansie – sonder dat mens nog oorspronklik m#$/^ bedrag moes betaal het om di punte te bekom. Daai hele bedryf moet deur die regering gestop word. Lekker ou soustrein vir di eiensaars.

cynthia ·

ons is pensionarisse en het op die ou einde ons punte verniet weggegee omdat ons dit nie meer kon bybring met levy wat net bly styg. Ons het met ‘n dame te doen gekry wat ons glad gedreig het dat ons oorgegee sal word. Gelukkig was daar ander persoon van dieselfde groep wat ons baie behulpsaam was en van goeie raad voorsien het. So ons het elke sent verloor, maar wil darem ook noem dat ons die tyddeel goed kon benut tot waar dinge so verander het.

Stiena ·

QVC… toe die punte gekoop was met al die mooie stories, toe was daar reeds inkomste/uitgawestaatjie gedruk wat net voltooi moes word en geteken. Geen bewyse. Waars die kredietwet toe? Toe eindelik aftree ouderdom bereik en Qvc gebel word om die kontrak te stop agv onbekostigbaar, toe soek hulle bewys van inkomste?? Hoe nou??

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.