Ontmoet die diere van die Kalahari

Kalahari Trails Nature Reserve and Meerkat Sanctuary (Foto: LekkeSlaap)

Die meeste Suid-Afrikaners met ’n liefde vir die natuur het al dele van die Kalahari-streek verken en is met gemsbokke, meerkatte en leeus vertroud. Dié enorme woestyngebied beslaan sowat 2,5 miljoen km² en strek vanaf die Oranjerivier in die Noord-Kaap en oor die grootste deel van Botswana tot in Namibië. Die uiteenlopende landskappe van dié streek bied ’n tuiste aan ’n groot verskeidenheid diere wat spesiale tegnieke ontwikkel het om water te stoor in die droë en warm Kalahari-klimaat. LekkeSlaap het na ’n paar van hulle gaan loer sodat jy presies weet waarvoor om uit te kyk as jy weer in die Kalahari ʼn draai maak!

Meerkatte

Die Noord-Kaapse deel van die Kalahari is alombekend vir sy oulike meerkatte met hulle spitsneusies en regop lyfies. Dié diere beweeg in groepe agter ’n meerkatwyfie aan en sorg selfs vir mekaar se kleintjies in die taai Kalahari. Hulle werk ook saam om mekaar teen gevare soos slange en ander roofdiere te beskerm en sal saamdrom, hulle sterte oplig en begin spoeg en sis wanneer hulle bedreig word.

’n Meerkat is sowat 28 cm hoog en is soms moeilik om raak te sien tussen die gras, so kyk uit vir hulle regop sterte, stofwolke soos hulle grawe en bossies waar hulle in die skaduwee kan lê. Hulle is baie sosiaal en teen dié tyd gewoond aan mense — moet net nie aan hulle probeer raak nie.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tswalu Kalahari Game Reserve (@tswalu) on

Gemsbokke

Gemsbokke is sinoniem met die Kalahari en het oor die jare aangepas om sonder water in die woestyngebied te oorleef. Dié bokke, met hulle kenmerkende lang horings en swart strepe soos ’n resieskar, eet gewoonlik vroegoggend en laatmiddag wanneer die plante se vloeistofinhoud hoër is. Hulle hou veral van vetplantwortels en wilde waatlemoene wat lekker vet met vog staan. Deur dit te eet kan hulle vir dae of selfs weke sonder water oorleef.

Die koeie en bulle beweeg saam in klein troppe van tien tot veertig en die bul is soms alleen. Gemsbokke kruip onder bome weg vir die warm middagson of grawe selfs vlak gate om in die koel sand te lê. Daar is unieke are in hulle neusgate wat die bloed afkoel wanneer hulle inasem en dit help ook om hulle liggame koel te hou.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Discover Africa Safaris (@discoverafricasafaris) on

Kalahari-kameelperde

Kameelperde word gereeld in die Kalahari gewaar, miskien omdat dit nie te moeilik is om hulle lang nekke van ver af te sien nie. Dié diere word deur leeus en hiënas bedreig en moenie verbaas wees as jy ’n kameelperd met krapmerke teen die onderlyf teëkom nie. Kyk uit vir die kleintjies by hul ma’s, hulle is tog te dierbaar wanneer hulle nog “klein” is.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tswalu Kalahari Game Reserve (@tswalu) on

Wewervoëls

Wewervoëls se kenmerkende neste is van ver af te siene soos jy Kalahari toe ry. Hierdie voëls bou massiewe neste wat soos hooibale lyk teen pale, bo-op kragdrade of in bome. Die neste huisves tussen tien tot vyfhonderd wewervoëls en van die neste kan meer as 100 jaar oud wees. Ander diere trek ook voordeel uit hierdie neste — kleiner diertjies bou hulle neste om dié enorme strukture en bokke lê gereeld in die skadu wat dit voorsien. Hou gerus stil wanneer jy een van hierdie meesterstukke teëkom en neem ’n paar foto’s ─ daar skuil dalk net ’n bok onder die nes ook.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Kim Marriott (@photography_phor_phun) on

Kalahari-leeus

Daar is niks so mooi soos ’n leeu se gebrul wat in die wildernis weergalm nie. Die koning van die Groot 5 heers oor die vlaktes van die Kalahari en staan as die Kalahari-leeu bekend. Dié leeus is nie deel van ’n ander leeuspesie nie, maar is bekend vir hulle grootte, ligter velle en pragtige swart maanhare. Hulle is gepantser met groter pote, lang bene en dunner lywe om die moeilike omstandighede van die woestyngebied te oorleef. Dit beteken ook dat hulle vinniger oor groter afstande in dié enorme omgewing kan beweeg. As gevolg van die unieke omstandighede en min reënval in die woestyngebied, is daar minder bedreigings vir die leeus. Dit beteken ook dat dit moeiliker vir hulle is om te jag en dat net die sterkstes oorleef.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tswalu Kalahari Game Reserve (@tswalu) on

Kalahari-jagluiperds

Jagluiperds staan bekend as die groot katte van die Kalahari, maar hulle brul nie soos leeus nie — hulle miaau meer soos huiskatte. Hulle is die vinnigste diere op land — g’n wonder hulle is sulke goeie jagters nie. Jagluiperds jag meestal in die dag en kamoefleer hulself tussen die gras voor hulle op hul prooi toesak.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tswalu Kalahari Game Reserve (@tswalu) on

Bruinhiënas

Bruinhiënas van die Kalahari is skaam en jy is baie gelukkig as jy een van hierdie ontwykende diere raaksien. Jy kan hulle maklik aan hulle bruin pels met grys strepe uitken, maar hulle beweeg meestal in die aand rond. Jy sal hulle ook nie in groot groepe sien rondbeweeg nie omdat hulle klein troppe vorm. Die Kalahari se vlaktes is ideaal vir hiënas en die klein aantal roofdiere om hulle laat hulle toe om lekker te jag, maar sodra hulle in kleiner areas rondbeweeg, word hulle deur groter troppe roofdiere bedreig.

Bruinhiënas is opportunistiese jagters en gebruik hulle fantastiese reuksintuig om aas te vind. Hulle jag ook voëls en kleiner soogdiere. Dié diere speel ’n belangrike rol in die ekosisteem, aangesien hulle karkasse uit die omgewing verwyder.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Wildest Africa (@wildestafrica) on

Ietermagogs

Met groot geluk kan jy dalk ’n ietermagog op die rooi sand van die Kalahari raaksien. Dié diere wikkel meestal in die aand rond, op soek na miere en termiete om te eet. Hulle het nie baie goeie sig nie en maak van hul reuksintuig gebruik om mierneste op te spoor. Hulle gebruik hulle sterk kloue om die neste oop te krap en al het dié diertjies nie tande, kan jy nie hulle kenmerkende lang tonge miskyk nie. Die ietermagog krul homself op wanneer hy bedreig word en die geskubde harnasse beskerm hulle teen gevaar.

Kyk uit vir ’n ietermagog met ’n baba op haar rug. Wanneer hulle bedreig word skuif die baba onder die ma se stert in sodat sy die kleintjie kan wegsteek wanneer sy haarself opkrul.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tswalu Kalahari Game Reserve (@tswalu) on

Pofadders

Pofadders is baie gevaarlik en moeilik om raak te sien as gevolg van hulle uitstekende kamoeflering. Dié slange is baie aggressief en kan vinnig hul prooi aanval. Jy kan hulle maklik uitken aan hulle patrone en plat, driehoekige koppe. Hulle kan langer as 1 meter wees en val sommer groot diere en voëls aan. Dié slang krul homself op en sis hard wanneer hy bedreig voel — dit is ’n waarskuwing om eerder te laat spat.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Blouberg Snake Rescue (@snakerescue) on

Kuier in die Kalahari

Met só baie ongelooflike diere om te sien, kan jy nie anders as om langer in die Kalahari te vertoef nie. Beplan nou jou volgende wegbreek na dié unieke deel van Suid-Afrika en gaan kyk waaroor al die boehaai gaan!

 

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Daniëlle Terblanche.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.