Só lyk vet pret in Plett

Foto: Nicole Sorour

Dis die tweede week van die nuwe dekade en op my kalender is die woord “Plettenbergbaai” in groot letters neergepen. LekkeSlaap het ’n bietjie gaan loer waarin die gewildheid van dié kusdorp steek.

Daar is min dinge so opwindend soos die afwagting op ’n vakansie by die see, veral as jou laaste een aan die einde van jou matriekjaar was. Ek voel soos ’n kleuter op Kersoggend toe die son sy kop agter die berge uitsteek die oggend wat ons na Plettenbergbaai vertrek. Die reis na Plett is ’n lang, maar prentjiemooi een. As jy uit die Kaap vertrek is dit ’n goeie ses ure voordat jy dié Tuinroete-juweel bereik. Naderhand raak ek effens kriewelrig, want my bene kleef aan die kar se leersitplekke en ek is haastig om my vakansie behoorlik te begin! Maar die oomblik toe ons die gewilde dorp binnery, vergeet ek van al my frustrasies. So, dís nou waaroor al die ophef gaan …

’n Pragtige uitsig oor dié Tuinroete-juweel. (Foto: BigStock)

Jy kom Plettenbergbaai op ’n heuwel binne en kyk direk oor die hemelblou see aan die onderkant van die hoofstraat, terwyl die bergagtige buitewyke van die dorp onder ’n kombers dennebome toegegooi is ─ dis waarvan vakansiedrome gemaak is! ’n Ontspannende atmosfeer heers oor die kusdorp nou dat die spitsseisoen so te sê verby is en oral sit mense oor hul drankies en gesels op oulike kroegdekke en spoggerige restaurante se stoepe, goudbruin gekleur deur die son.

Ons arriveer by ons verblyf, The River Club, en is gelukkig genoeg om ’n huis te kry wat basies óp die Piesangrivier is. Die saligheid is oorheersend en ons word gegroet deur die mees skouspelagtige uitsig op ’n immergroen berg anderkant die rivier ─ hemels!

Ons uitsig by The River Club. (Foto: Nicole Sorour)

Son(brand), see en sand op Sanctuary-strand

Sanctuary-strand (Foto’s: Hennely Nel)

Alhoewel daar talle lieflike strande in Plettenbergbaai is om te besoek, soos Robberg 5- en Wedge-strand, is Sanctuary-strand ons eerste keuse. Dis slegs vyf minute se ry van ons verblyf af en ons pak broodrolletjies en ons gunstelingdrankies in sodat ons voorbereid is op ’n volle, windlose dag op die strand. Daar word egter kos soos slaptjips en pizza by ’n klein stalletjie by die strand verkoop indien jy vergeet om jou eie kosblik saam te bring. Hiér is die lug ekstra blou, die sand ekstra sag en die branders effe wild ─ ’n bietjie té wild na my sin, maar dis steeds heerlik om in ’n see te swem waar jou asem nie weggeslaan word deur die yskoue Atlantiese waters waaraan ons Kapenaars gewoond is nie!

Piekniek op The Wreck

The Wreck se uitgestrekte strand en branderplankryers. (Foto’s: Nicole Sorour)

Ná ure op die ietwat besige Sanctuary-strand besluit ons om vir skemerkelkies na ’n meer afgesonderde strand, The Wreck te gaan. Dis teenaan Robberg en vernoem na die Griekse skip, Athena, wat in 1967 naby die kus gesink het. Dié skeepswrak kan steeds tydens laagwater in haar volle glorie vanaf Robbergskiereiland in die Robberg Natuurreservaat gesien word. The Wreck is veral ook gewild onder branderplankryers wat lekker vermaak is vir dié wat nie braaf genoeg is om die branders te trotseer nie. Dit is amper onwerklik toe ons boonop verras word met tientalle dolfyne wat net ’n hanetreetjie ver verbyswem!

As dit reën

Mungo Shop & Mill (Foto: Nicole Sorour)

Plettenbergbaai het nie net strande nie. Op ’n reënerige oggend besluit ons om die fassinerende Mungo Shop & Mill te besoek. Hiér kan jy sien hoe Mungo se organiese tekstielprodukte soos bedlinne, handdoeke en tafeldoeke vervaardig word. Ons staan vir ’n hele rukkie in The Mill en kyk hoe die enorme, gerestoureerde weefmasjiene uit verskillende eras ritmies ─ en met ’n groot geraas ─ die katoendoeke uitspoeg. Mungo Shop & Mill bied ook ’n pragtige kwekery, verskillende kuns- en kunsvlytwinkels wat plaaslike kunstenaars se werk ten toon stel en sjokoladewinkels waar jy van die heerlike sjokolade kan proe!

Bo: Die weefmasjiene. Onder: Plante by die kwekery. (Foto’s: Nicole Sorour)

Etenstyd by The Lookout Deck

Garnale by The Lookout Deck. (Foto: Hennely Nel)

Vir die smaaklikste, varsste garnale moet jy beslis The Lookout Deck besoek. Dié restaurant is in die middedorp reg op die strand geleë en is ’n móét as jy na vars seekos smag. Ek is in die sewende hemel: watertandlekker garnale en ’n uitsig oor die hoofstrand wat skrik vir niks ─ dis natuurlik waar die restaurant se naam vandaan kom. Daar is ook ’n lieflike dek waar jy op ’n sonnige dag kan sit en die uitsig behoorlik kan waardeer.

Swem onder die pienk hemel

Ons swem onder die pienk hemel op die hoofstrand. (Foto’s: Hennely Nel)

Laatnamiddag, nadat die heerlike somerreёn verby is, kom die son deur die wolke en verf die lug ’n sagte pienk. Plett is bekend vir skouspelagtige pienk sonsondergange wat die hele hemelruim verkleur. Ons besluit dat dit die ideale tyd is om vinnig by die hoofstrand in die kalm oseaan te gaan swem terwyl ons deur die pienk lug betower word. Saam met die amper-volmaan en die sonsondergang se refleksie op die water, is dit voorwaar ’n spesiale swemsessie.

Skemerkelkies by die Beacon Isle

Links: Die Beacon Isle. Regs: Die Beacon Isle se uitsig. (Foto’s: Hennely Nel)

Hulle sê jy was nie régtig in Plett as jy nie by die Beacon Isle was nie … Dié gewilde hotel en oord op die hoofstrand bied van die lekkerste Long Island-skemerkelkies wat ek nóg gedrink het ─ boonop teen ’n baie billike prys! Ons word ook met ’n skitterende 180°-see-uitsig bederf en sien weereens ’n klompie dolfyne wat verby die hotel se vensters swem. Daar is ook musiekvermaak wat sorg vir ’n vrolike atmosfeer.

’n Uitstappie na Keurboomstrand

Ons stap al langs Keurboomstrand. (Foto’s: Nicole Sorour)

Vroeg die Donderdagoggend besluit ons om die ietwat besige strande van Plett te verruil vir die stilte van die asemrowende Keurboomstrand. Dis sowat elf kilometer se ry van die middedorp af. Soos jy die afgeleë kusgebied binnery, voel dit asof jy die gordyn na ’n sprokieswêreld ooptrek ─ houthuise is weggesteek tussen die digte, lowergroen bome op die heuwels en die wye, stil strand strek eindeloos voor jou uit. Ons stap vir sowat ’n halfuur langs die ongerepte strand tot by Arch Rock, ’n groot rots wat ’n indrukwekkende tonnel oor die strand vorm. As jy lus is vir ’n bietjie kinderlike pret, kan jy probeer om ’n klip deur die kleiner gaatjie in die rotse bokant die boogrots te gooi ─ dit kan jou heeldag besig hou!

Arch Rock. (Foto’s: Nicole Sorour)

Ná ons verfrissende staptog langs Keurboomstrand, gaan eet ons die beste pizza in die area by Enrico, ’n gesellige restaurant met ’n groot dek en ’n ongelooflike see-uitsig. Daar is niks soos om aan ’n varsgebakte pizza in die vars seelug te smul nie!

Voetslaan tussen die duine by Robberg Natuurreservaat

Die uitsig vanaf Robberg, hiér is die skeepswrak “The Wreck” duidelik sigbaar. (Foto: Hennely Nel)

Op ons laaste dag in dié juweel van ’n kusdorp, toets ons ’n bietjie ons fiksheid ─ ons durf ’n voetslaanpad in die Robberg Natuurreservaat aan. Dié pragtige Wêrelderfenisgebied is sowat agt kilometer suid van Plettenbergbaai en bied ’n keuse tussen drie verskillende voetslaanpaaie. Ons besluit om die Witsand-pad te volg wat sowat vyf kilometer lank is. Dis ’n stywe entjie se stap, met baie steil trappe en ’n groot sandduin waar jou tekkies tot oorlopens toe vol sand sal word. Bring plakkies saam as sand in jou tekkies jou dag sal bederf!

Robberg Natuurreservaat se natuurskoon. (Foto’s: Hennely Nel)

Die natuurskoon is egter ongelooflik en só divers ─ beslis een van die indrukwekkendste voetslaanpaaie wat ek tot dusver aangepak het ─ en dit maak elke sweetdruppel die moeite werd! Ons stap ál om Robberg, stop vir ’n rukkie om ons aan die honderde robbe aan die onderkant van die berg te verwonder, en vorder dan tot by die einde van die sandduin waar ons ons middagete geniet. Ons sluit beslis ons tyd in Plett op die beste manier denkbaar af!

Dis met ’n swaar hart dat ek die Sondagoggend my tasse pak. Na jare by LekkeSlaap waar ons daagliks nuwe dorpe in Suid-Afrika leer ken, het Plett sonder twyfel in ’n week se tyd een van my gunstelingplekke in die land geword en my siel behoorlik verkwik. Te danke aan die talle luilekker dae op die strand, die windstil dae en skitterende natuurtonele, kan ek 2020 met nuwe woema aanpak. Soos wat ons uit die dorp ry, kyk ek vir oulaas om en die helderblou see verdwyn agter die bult. Ek sien jou beslis weer, Plettenbergbaai!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Hennely Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.