SA whisky klink glase in Londen

Andy Watts. Foto: Facebook/Bain's Cape Mountain Whisky

Andy Watts. Foto: Facebook/Bain’s Cape Mountain Whisky

Bain’s Cape Mountain Whisky het die Whiskies of the World-trofee in Londen verwerf. Dit is die hoogste lofbetuiging wat op die internasionale kompetisie vir spiritualieë (ISC) toegeken word.

Bain’s is een van slegs drie whiskies in dié kategorie wat ’n trofee ontvang het.

Die kompetisie se doel is om spiritualieë van uitsonderlike gehalte van regoor die wêreld te erken en bevorder. Meer as 1 300 inskrywings uit 70 lande is beoordeel en die inskrywings is “blind” geproe deur ’n paneel van 50 internasionale beoordelaars en punte is toegeken vir aroma, voorkoms, smaak en afronding.

Bain’s Cape Mountain Whisky se meesterdistilleerder, Andy Watts, sê hierdie toekenning is ʼn verdere erkenning van die gehalte van Suid-Afrikaanse whisky.

“Bain’s is ’n ongelooflike suksesverhaal vir Suid-Afrikaanse whisky. Sy veelvuldige toekennings, lofbetuigings vanuit die internasionale whisky-gemeenskap en belangstelling onder verbruikers wêreldwyd is ongelooflik.

“Toe ons hierdie whisky in 2009 bekend gestel het, was ons doel om die essensie van Suid-Afrikaanse whisky ten toon te stel, om ’n wêreldwye maatstaf daar te stel vir enkelgraan-whisky en om die kollig te laat val op die vooruitgang wat ons in ’n kort tyd gemaak het met die produksie van whisky in Suid-Afrika.”

Bain’s Cape Mountain Whisky word gemaak van die beste Suid-Afrikaanse graan en dubbel verouder in vate wat voorheen vir Amerikaanse whisky gebruik is, eers vir ’n tydperk van drie jaar voordat dit vir ’n verdere 18 tot 30 maande verouder word in vars Amerikaanse vate.

Die gevolg is ’n buitengewoon gladde whisky met ’n heerlike kombinasie van blomme-, piesang-, heuning-, geroosterde haselneut- en toffie-aromas en geure van hout, vanielje en speserye. Die heerlik gebalanseerde geure van vanielje, kakaobotter en ligte speserye uit die houtvate lei tot ’n warm mondgevoel en ’n lang, gladde einde.

Bain’s Cape Mountain Whisky word gedistilleer en verouder by die James Sedgwick Distillery in Wellington naby die begin van die Bainskloofpas. Die natuurskoon van die bergpas en die uitsonderlike vakmanskap van Andrew Geddes Bain, die pionier en padbouer wat verantwoordelik was vir die bou van die bekende pas in 1853, is die inspirasie agter hierdie trots Suid-Afrikaanse whisky.

Bain’s Cape Mountain Whisky is landswyd beskikbaar en kos sowat R249 per bottel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Coetzer ·

Joe! hier word verduidelik van omtrent toffiepoeding na vrugteslaaigeure van die whiskey. Al wat ek wil sê is dat Bains Whiskey vir my lekkerder is as van diè wat R2000-00 plus per bottel kos. Wel gedaan ouens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.